Tronk toe oor rassisme

  • 0

 

Suid-Afrikaners wat rassistiese uitsprake maak sal ’n wag voor hulle mond moet sit as hulle uit die tronk wil bly.

Dit volg nadat die hof die week ’n presedent vir rassevoorvalle geskep het en ’n vrou tot twee jaar effektiewe tronkstraf gevonnis het nadat sy ’n polisielid en minstens vier ander mense die k-woord minstens 48 keer toegesnou het.

Vicky Momberg, ’n voormalige eiendomsagent, het haar hieraan skuldig gemaak toe sy op 3 Februarie 2016 ’n polisielid en minstens vier Gautengse 1011-operateurs die woord toegesnou het nadat sy die slagoffer van ’n grypdief was.

Dit is sover bekend die swaarste straf wat nog weens rassisme in Suid-Afrika opgelê is. Die vonnis het uiteenlopende kommentaar onder Suid-Afrikaners uitgelok. Sommige het dit verwelkom terwyl ander meen sy is te swaar gestraf en dat daar dubbele standaarde is wanneer dit oor rassisme in Suid-Afrika gaan.

Die staatsaanklaer in die betrokke saak, Yusuf Baba, het na afloop van die vonnisoplegging gesê dit stuur ’n sterk boodskap aan alle mense van alle rasse uit dat rassisme nie geduld sal word nie.

AfriForum het die vrou se gedrag in ’n verklaring veroordeel en toegegee dit was rassisties. Die organisasie sê hy veroordeel haar gedrag maar die vonnis bevestig hulle vermoede dat daar dubbele standaarde in Suid-Afrika is oor ras.

Op sosiale media het dit gegons soos wat Suid-Afrikaners op die vonnis reageer het. Sommige van die lesers se kommentaar was op sigself rassisties van aard.

Die landdros wat die vonnis gelewer het, is onder andere daarvan beskuldig dat sy nie die vermoë het om haar werk te doen nie. Ander wou weet of daar nou ’n konsekwente toepassing gaan wees om op te tree teen mense wat rassistiese uitsprake maak.

AfriForum sê in hulle verklaring dié vonnis word opgelê enkele dae nadat ’n majoor in die weermag slegs op die vingers getik is omdat hy gesê het wit mense se oë en tonge moet uitgesteek word.

Die organisasie sê hy het die afgelope jaar 113 strafregtelike sake ingedien teen mense wat moord, verkragting, aanranding en volksmoord teen wit mense in die openbaar aanhits maar daar is geen noemenswaardige vordering met die sake gemaak nie.

Rebecca Davis skryf in die aanlynkoerant Daily Maverick dat daar waarskynlik mense is wat sal glo dat tronkstraf Momberg van haar ingebore rassisme sal genees. Sy sê hoewel tronkstraf baie mense moontlik sal tevrede stel, sal dit min bydra om die groter sosiale probleme van rassisme aan te spreek en op te los.

Landdros Pravina Raghoonadan wat Momberg tronk toe gestuur het, sê in haar uitspraak sy besef dit is ’n buitengewoon swaar straf vir crimen injuria. Sy sê crimen injuria is normaalweg nie so ernstig nie, maar dit hang af tot watter mate ’n persoon in sy of haar eer gekrenk word. Volgens haar het Momberg geen berou getoon oor haar uitlatings nie.

Momberg sal waarskynlik teen haar vonnis appelleer maar sy moet in aanhouding bly totdat haar regsverteenwoordiger volgende week amptelik verlof tot appèl kan aanvra wanneer sy weer vir borgtog in oorweging sal kom.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top