Opposisiepartye eis dat daar sonder meer opgetree word teen diegene wat verantwoordelik was vir die miljoene rand wat in die Digital Vibes-skandaal vermors is.
Die publiek is voos vir korrupsie en bedrog en die oënskynlike straffeloosheid daarvan, sê die Vryheidsfront Plus.
Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se verslag oor Digital Vibes, wat onder andere bewusmaking moes doen onder die publiek oor die COVID-19-pandemie, bevat verdoemende getuienis van grootskaalse leuens en bedrog waarby die voormalige minister van gesondheid, Zweli Mkhize, en sy familie direk betrek word.
Die inhoud van die verslag is Woensdag deur president Cyril Ramaphosa bekend gemaak nadat hy die verslag reeds in Junie ontvang het.
President @CyrilRamaphosa has authorised publication of the final report of the Special Investigating Unit into the National Department of Health’s award of a National Health Insurance media campaign and subsequent COVID-19 communications to Digital Vibes.
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) September 29, 2021
Die VF Plus sê in ’n verklaring hulle verwelkom die bekendmaking van die verslag, maar dit is onaanvaarbaar dat Ramaphosa so lank daarmee gesloer het en die party wil weet waarom. Al wat met so ’n lang gesloerdery gebeur, is volgens die VF Plus dat betrokkenes die geleentheid gegun word om spore agter hulle dood te vee.
Die VF Plus sê die optrede teen die skuldiges moet daadwerklik en strafregtelik wees. “Mense moet tronk toe gaan. Insluitende Mkhize.”
Ook die DA eis in ’n verklaring dat daar strafregtelik opgetree word teen Mkhize en ander senior amptenare wat by die skandaal betrokke was.
Volgens die SOE se verslag het Mkhize gelieg toe hy gesê het dat hy en sy familie geen voordeel getrek het uit die ongeveer R150 miljoen se onreëlmatighede rakende die kontrak nie.
Die verslag sê ook dat Anwan Pillay van die departement strafregtelik vervolg moet word omdat hy na bewering bedrog gepleeg het. Pillay was die waarnemende direkteur-generaal van gesondheid ten tye van die toekenning van die kontrak aan Digital Vibes. Hy het glo in ’n skrywe op 11 Mei 2020 aan die nasionale tesourie toestemming gevra om af te wyk van die normale verkrygingsprosedure. Volgens die verslag het hy vermoedelik talle doelbewuste wanvoorstellings aan die tesourie gedoen.
Die eienaar van die maatskappy, Radha Harriman, het vermoedelik in haar eie hoedanigheid bedrog gepleeg en dit weggesteek toe daar vir die tender aansoek gedoen is. Haar maatskappy was na bewering ’n front vir Tahera Mather en Naadhira Mitha, wat albei persoonlike bande met Mkhize gehad het.
Digital Vibes het ook nie maatskappybelasting verklaar of betaal nie en ook nie die vereiste verkoopsbelasting aan die Inkomstediens oorbetaal nie.
Volgens die VF Plus was dit van die begin duidelik dat meer mense by die Digital Vibes-bedrogspul betrokke was as wat aanvanklik vermoed is, en van daardie mense sit na maande steeds met volle vergoeding in hul poste.
Sedert Ramaphosa die verslag van die SOE ontvang het, was daar volgens die VF Plus klaarblyklik geen nuwe verwikkelinge nie, wat dit des te meer onverstaanbaar maak waarom hy byna vier maande daaraan vasgehou het.
“Die skandaal is nogtans nou oopgevlek en daar moet sonder meer opgetree word teen persone wat genoem word. Die optrede moet daadwerklik en strafregtelik wees. Mense moet tronk toe gaan. Insluitende die vorige minister van gesondheid, Zweli Mkhize.”
Die VF Plus sê hulle sal die ondersoek fyn dophou en sal dit nie aanvaar as mense wegkom deurdat hulle net verplaas of na ander afdelings of departemente herontplooi word soos wat die ANC gewoonlik doen nie.
Die presidensie sê hulle het reeds derdepartykennisgewings aan alle persone en entiteite gestuur waarna daar in die verslag verwys word sodat hulle die geleentheid het om daarop te reageer of besware in te dien. Volgens die presidensie word dit gedoen in belang van billikheid en ingevolge die Wet op die Bevordering van Toelating tot Inligting (PAIA).
- Die SOE se volledige verslag kan hier afgelaai word.