Trump herhaal vals "wit volksmoord"-narratief by Davos

  • 0

Amerika se president Donald Trump het die afgelope week by die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) in Davos weer opspraak gewek toe hy sy bewering oor ’n “white genocide” in Suid-Afrika herhaal het.

In ’n ongeskeduleerde perskonferensie ná sy hooftoespraak het Trump op ’n vraag oor “genocide” in Suid-Afrika gereageer met die woorde: “Terrible situation. People, a certain group of people, are unbelievable. You wouldn’t think it could happen today. We have seen the numbers, we’ve seen the records, and it is taking place.”

Hoewel hy nie eksplisiet na “wit boere” verwys het nie, het die konteks duidelik gesinspeel op die narratief dat wit boere sistematies vermoor word, ’n storie wat al jare in ver-regse kringe sirkuleer. Trump het aan eNCA gesê dat “rekords toon dat aanvalle op wit boere plaasvind en moet stop”, ’n standpunt wat sy vorige twiets en vergaderings met president Cyril Ramaphosa weerspieël. Hy beweer selfs dat plase van wit boere gekonfiskeer word, hoewel daar geen amptelike rekord van sulke konfiskering bestaan nie en dit onduidelik bly waar hy sy inligting vandaan kry.

Trump se jongste uitlatings kom ten spyte daarvan dat selfs konserwatiewe organisasies soos AfriForum en Solidariteit toegee daar bestaan geen volksmoord in Suid-Afrika nie. AfriForum het selfs koerante by die Persraad se ombudsman verkla wat beweer dat hulle die mite van ’n volksmoord by die Amerikaners geplant het, en ontken dit. Solidariteit se leierskap het op sosiale media beklemtoon dat Trump se stellings nie op feite berus nie.

Nietemin bestaan daar bewyse dat AfriForum en verwante strukture in die verlede self die terme “genocide” en “volksmoord” gebruik het. Skermgrepe wat sedert 2010 en 2013 in omloop is, wys dat AfriForum Jeug tydens die Wêreldsokkerbeker ’n webwerf genaamd fifa2010genocide.com bevorder het, terwyl ’n Avaaz-petisie in 2013 getitel “Stop White Genocide in South Africa” ook deur Afrikaanse aktiviste versprei en verder op sosiale media deur AfriForum die wêreld ingestuur is. Hierdie geskiedenis maak die huidige ontkenning van betrokkenheid by die narratief meer kompleks.

Suid-Afrika staar hoë vlakke van geweldsmisdaad in die gesig, en plaasmoorde is ’n werklike probleem wat beide wit en swart mense raak. Statistiek wys egter dat meer swart Suid-Afrikaners as wit boere in sulke aanvalle sterf, en dat dit deel is van ’n breër misdaadkrisis eerder as ’n gerigte etniese veldtog. Internasionale agentskappe soos Reuters en BBC beskryf die idee van ’n “wit volksmoord” as ’n ontmaskerde teorie sonder bewyse van regeringsbetrokkenheid of steun.

Media soos IOL en The Citizen het dit beskryf as “reignited claims” en “contested claims;” BusinessDay noem dit ’n “ongemaklike leuen” wat direk bots met Suid-Afrika se huidige ekonomiese agenda by Davos.

Kritici wys daarop dat Trump se herhaalde stellings die narratief van ver-regse groepe versterk, terwyl ondersteuners dit prys as ’n poging om ’n “verborge werklikheid” uit te lig.

Die algemene sentiment onder Suid-Afrikaners is dat Trump se volgehoue uitlatings die samelewing verder verdeel.

Finansminister Enoch Godongwana lei tans ’n hoëvlak-afvaardiging in Davos wat daarop gemik is om buitelandse beleggers te lok. Die fokus is op Suid-Afrika se sterk punte: ’n gevorderde finansiële sektor, vervaardiging, hernubare energie en sy rol as poort na Sub-Sahara-Afrika.

Trump se opmerkings plaas egter ’n demper daarop en ondermyn die beleggingsboodskap, veral aangesien akademici, navorsers en internasionale feitenavorsers herhaaldelik bevestig het dat geen sistematiese volksmoord plaasvind nie.

Die Facebookgroep Busting The Myth of White Genocide in SA stel dit duidelik: Plaasmoorde is ’n werklike probleem, maar die idee van ’n “wit volksmoord” is ’n gevaarlike mite wat sy oorsprong in die apartheidsera se “Swart Gevaar”-propaganda het. Volgens die groep dien die narratief slegs een doel: om mense van kleur, veral swart Suid-Afrikaners, te demoniseer en rassisme te legitimeer.

’n Groep bekende Afrikaners, Afrikaners vir Suid-Afrika, ontken ook ten sterkste Trump se narratief van ’n volksmoord en sê Afrikaners wat daardie narratief deel, doen dit nie in hulle naam nie. Die groep het ook ’n Facebookblad waar hulle die narratief ontmasker.

Trump se herhaalde stellings plaas nie net druk op Suid-Afrika se internasionale beeld nie, maar hou ook die risiko in om ou rassistiese mites te laat herleef. Terwyl plaasmoorde en misdaadsyfers werklik kommer wek, bly die bewering van ’n georganiseerde volksmoord ongegrond.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top