Trump ontketen ’n storm in Suid-Afrika oor grondonteiening sonder vergoeding

  • 0

President Donald Trump van die VSA se dreigement om alle toekomstige befondsing aan Suid-Afrika op te skort as gevolg van die land se beleid oor grondonteiening, het Suid-Afrikaners aan die gons en in twee kampe verdeel.

Sommige prys hom daaroor, terwyl ander meen sy opmerkings is roekeloos en sonder enige gronde.

“Suid-Afrika konfiskeer grond en behandel sekere klasse mense baie sleg,” het Trump op sy Truth Social-netwerk gesê. Hy sê dit is  ’n slegte situasie wat die “radikale linkse media nie so graag wil noem nie”.

Trump het dit ’n “massiewe menseregteskending” genoem, en gesê dit gebeur voor almal se oë. “Die Verenigde State sal dit nie ondersteun nie. Ons sal optree,” het hy gesê.

“Ek sal alle toekomstige befondsing aan Suid-Afrika afsny totdat ’n volledige ondersoek na hierdie situasie afgehandel is.”

Hierdie aankondiging het gekom skaars ’n week nadat president Ramaphosa die omstrede wetsontwerp op onteiening onderteken het.

Die miljardêr en groot Trump ondersteuner Elon Musk, wat in Suid-Afrika gebore is, het op sy sosialemediaplatform X ook tot die bekgeveg toegetree. Hy het aan Ramaphosa gevra: “Hoekom het jy openlik rassistiese eienaarskapswette?”

Dit volg na ’n boodskap van Ramaphosa op X waarin hy sê die onlangs aanvaarde Onteieningswet is nie ’n konfiskeringsinstrument nie, maar ’n grondwetlik gereguleerde  regsproses wat openbare toegang tot grond op ’n billike en regverdige wyse verseker soos deur die Grondwet gelei.

Ramaphosa sê Suid-Afrika is ’n grondwetlike demokrasie wat diep gewortel is in die oppergesag van die reg, geregtigheid en gelykheid. “Die Suid-Afrikaanse regering het geen grond gekonfiskeer nie,” het Ramaphosa gesê.

“Suid-Afrika, soos die Verenigde State van Amerika en ander lande, het nog altyd onteieningswette gehad wat die behoefte aan openbare gebruik van grond en die beskerming van regte van eiendomseienaars balanseer.” 

ActionSA se president, Herman Mashaba, het in sy reaksie gesê sy party neem met kommer kennis van die “roekelose opmerkings” van Trump wat met strafmaatreëls teen Suid-Afrika dreig vir wat Trump beweer wydverspreide grondbeslagleggings en menseregteskendings is.

Mashaba sê in  ’n verklaring daar kan geen twyfel wees oor die feit dat die mislukkings van die Suid-Afrikaanse regering goed gedokumenteer is en steeds in baie menslike lyding in die land manifesteer nie. Hy sê die bewerings van konfiskering en menseregteskendings waarop Trump sy uitlatings gebaseer het, is egter sonder grondslag. “Dit [wek] werklike kommer oor die raad wat die Amerikaanse president ontvang.”

“Gegewe die rol wat die Amerikaanse president in globale aangeleenthede speel, moet dit president Trump se plig wees om meer gebalanseerde raad te ontvang oor sake wat met Suid-Afrika verband hou. As Suid-Afrikaners neem ons ons swaar verworwe soewereiniteit baie ernstig op en waardeer nie lomp pogings om ons land te verander op grond van die agendas van diegene rondom die president nie.”

AfriForum sê in ’n verklaring Trump moet liewer die ANC-leiers straf as die hele Suid-Afrika.

AfriForum sê hulle gaan ’n dringende versoek aan die Suid-Afrikaanse regering rig om die krisis te probeer afweer deur ’n wysigingswet op die Onteieningswet ter tafel te lê wat die beskerming van eiendomsreg in Suid-Afrika sal verseker.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sy organisasie vir Ramaphosa en die ANC gewaarsku dat die ondertekening van die Onteieningswet, sowel as die toepassing van die land se bestaande raswette, ernstige negatiewe implikasies vir beleggersvertroue in Suid-Afrika inhou.

Kriel sê daar bestaan ernstige kommer oor die impak wat Trump se strafmaatreëls sal hê op gewone landsburgers wat reeds onder ekonomiese druk gebuk gaan. “AfriForum se standpunt is, en was nog altyd, dat die dwase owerheid en president gestraf moet word vir hulle vernietigende beleide eerder as die land se burgers,” het Kriel bygevoeg.

Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum deel is, sê hulle sal later meer volledig op Trump se uitsprake reageer.

Lees ook:

Straight shot: Tembeka Ngcukaitobi about the Expropriation Act

Wat het die waarheid met die prys van eiers te doen?  

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top