President Donald Trump se jongste aanbod aan Suid-Afrikaanse boere dat ’n “vinnige pad na burgerskap” in die VSA gebaan sal word vir dié wat veiligheidsredes aanvoer, gekoppel aan ’n plan om Afrikaners as vlugtelinge te hervestig, kan tot verdere diplomatieke spanning tussen die twee lande lei.
In sy jongste uitspraak beweer Trump op sy sosialemediaplatform, Truth Social, dat boere in Suid-Afrika se plase en grond gekonfiskeer word en dat daar veel erger dinge in die land gebeur. Hy sê dit is ’n slegte plek om tans te wees en dat Amerika daarom alle geldelike hulp aan Suid-Afrika bevries.
“Suid-Afrika is verskriklik [vir boere wat al lank in die land boer] ... Hulle lê beslag op hul GROND en PLASE, en BAIE ERGER AS DIT. ’n Slegte plek om nou te wees, en ons stop alle federale befondsing. Om dit ’n stap verder te neem, sal enige Boer (met familie!) van Suid-Afrika wat uit daardie land wil vlug om veiligheidsredes, na die Verenigde State van Amerika genooi word met ’n vinnige pad na Burgerskap. Hierdie proses sal onmiddellik begin!” het Trump geskryf.
Trump se aanbod kom ook te midde van spanning oor Agoa, wat tans aan Suid-Afrika tariefvrye toegang tot die Amerikaanse mark bied vir uitvoere soos landbouprodukte.
Sy uitsprake is egter gewortel in ’n betwiste narratief van grondonteiening en diskriminasie teen wit boere, wat nie deur bewyse ondersteun word nie. Die Suid-Afrikaanse regering en ander belanghebbendes het die aanbod as misleidend verwerp, terwyl dit ook vrae oor Trump se motiewe en die ekonomiese implikasies vir Suid-Afrika oproep.
Agoa verval aan die einde van 2025, en daar is vrese dat Trump dit kan opskort as deel van sy druk op Suid-Afrika, wat ironies genoeg die wit boere wat hy voorgee om te beskerm, ekonomies kan benadeel.
President Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê dit is in die belang van alle Suid-Afrikaners dat Suid-Afrika ’n landbousektor het wat verteenwoordigend en inklusief is, wat bydra tot die groei van die ekonomie en wat die voedsel produseer wat die land nodig het.
Ramaphosa sê: “Gegewe die kritieke rol van landbou in ons nasionale lewe, werk die regering saam met alle belanghebbendes om die voortbestaan, volhoubaarheid en groei van hierdie sektor te verseker.
“Die gesondheid en groei van ons boerderysektor is noodsaaklik om klein dorpies te ondersteun en landelike Suid-Afrika lewend te hou.”
Hy sê daar kan nie oor volhoubare landbou in Suid-Afrika gepraat word sonder om kwessies van billikheid en insluiting by boerdery en grondbesit aan te spreek nie.
“Transformasie bly ’n uitdaging in die landbou. In sy boek A country of two agricultures merk die ekonoom Wandile Sihlobo op dat swart boere tans net vir sowat 10% van die kommersiële uitset in Suid-Afrika se landbou verantwoordelik is. Ons groei-agenda moet dus in ‘n groter mate die bemagtiging van swart boere in die oog hê.”
Hy sê die insluiting van swart boere by kommersiële landbou noodsaak dit dat grond aan hulle beskikbaar gestel word. Die voortgesette grondhervormingsproses en vrystelling van staatsgrond sal voortgaan om opkomende boere te bevoordeel en te verseker dat hulle ook bydra tot die groei van Suid-Afrika se landbou-ekonomie.
Trump se bewering dat Suid-Afrikaanse boere se grond gekonfiskeer word, word uit talle oorde as vals beskou, gebaseer op huidige getuienis. Geen grondonteiening sonder vergoeding het tot op hede plaasgevind nie, en die Onteieningswet se prosesse is nog nie volledig geïmplementeer nie.
Daar bestaan ook geen bewyse dat plaasaanvalle of geweld teen boere enige regeringsondersteuning geniet nie. Dit word eerder deur die regering as algemene misdaad beskou.
Trump se bewering blyk dus eerder deel te wees van ’n politieke narratief as ’n gefundeerde feitelike stelling. Sy narratief word sterk gekleur deur politieke agendas. Trump se fokus op Afrikaners en sy grondhervormingskritiek pas sy nasionalistiese ondersteuners, terwyl Suid-Afrikaanse groepe soos AfriForum dit gebruik om hul eie narratief van minderheidsvervolging te versterk.
Plasings op sosiale media weerspieël verdeelde menings: Sommiges sien Trump se aksies as ’n kans om die ANC te straf, terwyl ander ekonomiese terugslae vrees.