Trump se invoertariewe: Suid-Afrika staan voor ekonomiese uitdaging

  • 0

President Donald Trump se reeks nuwe invoertariewe op ingevoerde goedere na die VSA wat hierdie week in werking tree, kan ’n ernstige ekonomiese terugslag vir veral die Suid-Afrikaanse motorbedryf beteken, maar ook vir ander sektore, soos die landbou.

Vir Suid-Afrika beteken dit minder handel, minder werk, en meer onsekerheid. Dit is ’n situasie wat noukeurig dopgehou sal moet word, veral as onderhandelinge tussen die twee lande op diplomatieke gebied aanhou versleg.

Die tariewe, wat vanaf 2 April 2025 begin, sluit onder meer wederkerige tariewe en spesifieke heffings op landbouprodukte in, met ’n 25%-tarief op motors wat uit Suid-Afrika na die VSA ingevoer word. Hierdie maatreëls kan Suid-Afrika se uitvoermarkte ontwrig, wat op sy beurt ekonomiese groei verder onder druk sal plaas.

Suid-Afrika het in 2023 R270,8 miljard se voertuie en motorkomponente na lande regoor die wêreld uitgevoer, waarvan R27,9 miljard na die VSA.

Suid-Afrika het ook ’n beduidende voordeel van belastingvrye toegang tot die VSA geniet, danksy die African Growth Opportunities Act (Agoa), wat nou ook in die weegskaal is.

Renai Moothilal, uitvoerende hoof van die Nasionale Vereniging van Motoronderdele en Verwante Vervaardigers (Naacam), het aan Moneyweb gesê dat die nuwe Amerikaanse invoertariewe ’n negatiewe impak op motorvervaardigers se buitelandsebeleggingsbesluite in Suid-Afrika kan hê, maar dit hang af van hoe Agoa-invoere geraak word teenoor die nuwe invoertariewe.

“Ek verwag huidige kontrakte sal uitloop, gegewe dat hulle reeds in plek is, en ek dink nie hulle kan baie vinnig vervang word nie,” het hy gesê.

Maatskappye soos BMW, Mercedes-Benz en Toyota, wat fabrieke in Suid-Afrika bedryf, mag volgens mediaberigte produksie verminder of dit selfs oorweeg om te verhuis as die VSA-mark minder winsgewend word.

Die bedryf dra ongeveer 5% by tot die BBP en ondersteun tienduisende werksgeleenthede. Die ekonoom Sanisha Packirisamy van Momentum Investments waarsku dat ’n afname in uitvoere ’n domino-effek kan hê: fabrieke wat sluit, werkers wat afgedank word en plaaslike verskaffers wat kontrakte verloor.

Die VSA is Suid-Afrika se derde grootste handelsvennoot. Hierdie tariewe kan volgens handelsekonoom Donald MacKay van XA Global Trade Advisors ’n direkte verlies aan uitvoerinkomste beteken, wat die rand verder sal verswak en inflasie sal aanwakker.

“Die rand, wat reeds op 18,45 teen die dollar verhandel, kan onder verdere druk kom, wat ingevoerde goedere soos brandstof en masjinerie duurder sal maak. Dit sal verbruikers en besighede tref in ’n land waar werkloosheid reeds bo 30% is,” het hy gesê.

Die regering het nog nie ’n duidelike teenstrategie nie, maar die ANC-NUK-lid Kgosientsho Ramokgopa het die behoefte aan dringende onderhandelinge met die VSA beklemtoon om Suid-Afrika se posisie te beskerm. Diplomatieke bande is tans egter gespanne, deels weens Trump se kritiek op Suid-Afrika se grondhervormingswetgewing en sy onlangse uitvoerende bevel om hulp te sny. Dit beperk die land se onderhandelingsmag.

Op kort termyn lyk die vooruitsig somber. Ekonomiese-groei-vertraging, werkverliese in die motor- en landbousektore, en hoër pryse vir verbruikers is waarskynlike uitkomste. Op langer termyn kan Suid-Afrika probeer om markte te diversifiseer na Asië of die Afrika-vryhandelsgebied (AfCFTA), maar dit verg tyd en investering, wat nou skaars is. Vir nou bly die land kwesbaar vir Trump se handelsbeleid, met ekonomiese groei wat waarskynlik nog ’n knou sal kry in ’n reeds uitdagende tydperk.

Voormalige president Thabo Mbeki het verlede week weer ’n beroep op Suid-Afrika gedoen om sy huidige spanning met die VSA op te los toe hy met studente by Unisa gepraat het. 

Hy het ook die afgelope Maandag tydens die eerste Aziz-Pahad-gedenklesing gesê die land het te veel probleme om vyande te maak en dat die Departement van Internasionale Betrekkinge (Dirco) sy huis in orde moet kry.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top