Trump se uitvoerende bevele polariseer Suid-Afrikaners

  • 0

Die FW de Klerk-stigting het sy kommer uitgespreek oor die toenemende polarisasie tussen Suid-Afrikaners weens die uitvoerende bevele van president Donald Trump van Amerika en die impak wat dit op die psige van Suid-Afrikaners het.

Die uitvoerende beampte van die FW de Klerk-stigting, Christo van der Rheede, sê die stigting is uiters bekommerd oor die verslegtende verhouding tussen die Suid-Afrikaanse en die Amerikaanse regering.

Hy sê in ’n ope brief aan die twee lande se presidente die mees onlangse ontwikkelings sal nie net vooruitgang in Suid-Afrika en die Afrika-vasteland ondermyn nie, maar dit sal ernstige politieke en ekonomiese gevolge vir die VSA, sy mense en die wêreld in die breë inhou.

Trump se uitvoerende bevel wat vlugtelingstatus aan Afrikaners verleen wat na die VSA wil gaan, het die land behoorlik aan die gons en het Suid-Afrikaners in twee kampe verdeel.

Businesstech berig meer as 10 000 wit Suid-Afrikaanse boere het belangstelling uitgespreek om na die VSA te verhuis na aanleiding van Trump se uitvoerende bevel.

Die stap het intense debat ontketen, wat kommer laat ontstaan ​​oor die potensiële ekonomiese en maatskaplike gevolge vir Suid-Afrika.

AfriForum sê Afrikaners gaan nêrens heen nie en emigrasie bied slegs ’n geleentheid vir Afrikaners wat bereid is om die risiko te loop om hul nageslag se kulturele identiteit as Afrikaners op te offer.

“Die prys daarvoor is te duur om te betaal. Ons is dit ook aan ons voorgeslagte verskuldig om nie hul opofferings, om Afrikaners as volk gestalte te laat kry, tot niet te maak deur ons selfbestaan as Afrikaners op te sê nie,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum in ’n verklaring.

Die organisasie sê die uitvoerende bevel wat president Trump oor die posisie van Afrikaners in Suid-Afrika uitgereik het, is ’n direkte gevolg van president Cyril Ramaphosa en sy regering se onverantwoordelike optrede en beleidsrigtings.

Van der Rheede sê in sy ope brief aan Trump en Ramaphosa die politieke dooie punt tussen Suid-Afrika en die VSA hou ’n ernstige risiko in vir die RNE wat soveel hoop aan Suid-Afrika gebring het.

“Daarom kan ons dit nie bekostig dat die RNE in duie stort nie, aangesien daar te veel op die spel is. Dit is nou belangriker as ooit om ons nasie bymekaar te hou en saam te werk in die beste belang van Suid-Afrika, die Afrika-vasteland en die wêreld. Die Verenigde State het ’n kritieke ondersteunende rol om in hierdie opsig te speel.”

Die FW de Klerk-stigting het ’n beroep op beide Trump en Ramaphosa en hul onderskeie administrasies gedoen om betrokke te raak in konstruktiewe, respekvolle, waardige en eerlike dialoog om enige misverstande uit die weg te ruim.

Hulle het ook ’n beroep gedoen op Suid-Afrikaners en alle Suid-Afrikaanse organisasies om in die beste belang van Suid-Afrika op te tree en om nie vals inligting te versprei nie.

Die FW de Klerk-stigting sê hulle wil die leierskap van die VSA verseker dat geen grondbeslagleggings in Suid-Afrika plaasvind nie. Eiendomsregte bly onaangeraak en gerespekteer, net soos die kulturele regte van alle gemeenskappe.

“Geen volksmoord op grond van etnisiteit vind in Suid-Afrika plaas nie, en niemand word uitgesluit op grond van ras, klas of geloof nie.”

Die stigting doen ook ’n beroep op die leierskap van die VSA om breër te konsulteer met ’n wye verskeidenheid Suid-Afrikaanse instellings om ’n dieper insig te verkry in die ekonomiese, politieke, kulturele en sosiale samestelling en kompleksiteit van Suid-Afrikaanse samelewings.

AgriSA se hoof- uitvoerende beampte, Johan Kotzé, sê geen beslagleggings op private eiendom het in Suid-Afrika plaasgevind nie. Geen grond is sonder vergoeding onteien nie. Gerugte wat plaasmoorde met die ondertekening van die wet oor grondonteiening verbind, is ongegrond en onverantwoordelik, sê  Kotzé in ’n opiniestuk op AgriSA se webwerf.

Hy sê geïsoleerde gevalle van grondgrype en betreding is gehanteer. Boonop is gerugte wat plaasmoorde met die ondertekening van die wet verbind, ongegrond en onverantwoordelik. Boere bly produktief en toegewyd aan hul bedrywighede.

Kotzé sê die onverwagte ondertekening van die Onteieningswet op 23 Januarie 2025 het egter politieke onrus en onnodige spanning binne die landbouvoedselstelsel veroorsaak. Dit is vererger deur disinformasie oor die Wet se bedoeling, wat ’n negatiewe uitwerking op die beleggingsklimaat vir Suid-Afrikaanse landbou het.

Hy sê die Onteieningswet word dikwels verkeerdelik gelykgestel aan grondhervormingswetgewing, maar die twee is verskillend. Die Onteieningswet stel nie nuwe onteieningsmagte daar nie, en vervang ook nie bestaande grondhervormingsbeleide nie.

AgriSA ondersteun al lank grondhervormingspogings wat daarop gemik is om historiese ongeregtighede aan te spreek en ’n meer inklusiewe landbousektor te bevorder.

Die MK-party sê intussen hulle het ’n saak van hoogverraad teen AfriForum geopen. Hulle beweer dat AfriForum Trump mislei het oor grondhervorming in die land. Daar word geglo dit het sy besluit beïnvloed om befondsing aan Suid-Afrika te besnoei.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top