Trump skok Suid-Afrika en res van wêreld tydens koronakrisis

  • 0

President Donald Trump van die VSA het hom die gramskap van feitlik die hele wêreld, onder andere ook Suid-Afrika, op die hals gehaal met sy besluit om Amerika se befondsing vir die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) te staak. Dit te midde van ’n wêreldwye gesondheidspandemie.

Die Suid-Afrikaanse regering het sy kommer uitgespreek oor Amerika se besluit. Die Departement van Internasionale Betrekkinge sê in ’n verklaring dit sal ’n beduidende negatiewe impak hê op die wêreld se vermoë om die koronapandemie te beveg.

Trump beskuldig die WGO van wanbestuur en sê die organisasie moet aanspreeklik gehou word vir die verspreiding van die virus.

Amerika is die grootste finansierder van die WGO en dra $400 miljoen per jaar tot die organisasie by. Verskeie wêreldleiers het Amerika se besluit veroordeel. Suid-Afrika se Departement van Internasionale Betrekkinge het die hoop uitgespreek dat Amerika die besluit sal heroorweeg.

Die Departement is diep besorg oor en geskok deur Amerika se besluit. “Suid-Afrika is veral geskok dat die besluit geneem is te midde van ’n globale gesondheidskrisis wat die volle kapasiteit van die WGO vereis om die dodelike COVID-19-virus te beveg. Dit is skokkend dat hierdie bejammernswaardige besluit aangekondig word terwyl die dodelike virus besig is om Afrika en die armste en mees kwesbare lande in die wêreld te tref,” het die Departement gesê.

Suid-Afrika se minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het hom ook sterk van Trump se besluit gedistansieer. Hy het op Twitter gesê Suid-Afrika het volle vertroue in die WGO en sy leierskap. “Suid-Afrika kry baie leiding van die organisasie,” het Mkhize getwiet kort nadat Amerika se besluit rugbaar geword het.

Suid-Afrika sê in sy reaksie Amerika se besluit kom in ’n tyd wanneer die internasionale gemeenskap meer as ooit in ’n gees van menslike solidariteit en samewerking moet saamstaan. “Ons glo dat, meer as ooit tevore, die WGO toenemende steun van lidlande verdien om veral sy pogings te versterk om die oordrag van die koronapandemie te beperk.”

Amerika se besluit om sy bydrae tot die WGO te staak hou ook verreikende gevolge in vir die res van die wêreld. Die WGO se streeksdirekteur vir Afrika, Matshidiso Moeti, skets ’n somber prentjie oor die gevolge wat dit vir Afrika inhou as Trump sy woord gestand doen.

“Met die koronavirus wat elke dag teen ’n eskalerende tempo beweeg sal Amerika se aankondiging ’n aansienlike negatiewe impak hê op die wêreld se vermoë om hierdie pandemie te beveg,” het Moeti gesê.

Hoewel Trump die WGO daarvan beskuldig dat hulle nie vinnig genoeg opgetree het om die verspreiding van die virus te bekamp nie, meen baie kommentators hy probeer eerder om die aandag af te trek van sy eie onbeholpe hantering van die pandemie in sy eie land.

Onder die Suid-Afrikaanse publiek het Trump se besluit egter ook steun geniet in sekere kringe. Op Maroela Media se kommentaarblad het baie lesers hom lof toegeswaai vir sy besluit.

Een leser sê Trump is sy held en dat die WGO, volgens hom, slegs tien persent van hulle befondsing vir die regte doel aanwend. Die res word volgens hom op luukshede soos hotelle en voertuie spandeer.

Amerika is die land wat tans die ergste onder die koronavirus deurloop. Amper 35 000 mense in die VSA het reeds weens COVID-19 omgekom en Amerika is tans die episentrum van die pandemie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top