Tshwane se burgemeester goue ketting na agt dae kwyt

  • 0

Die gekonkel van Cope se enigste raadslid in die Tshwane-metroraad, Murunwa Makwarela, met die ANC en EFF om van die DA-geleide koalisieregering ontslae te raak, het hom duur te staan gekom.

Hy is nie net sy goue burgemeestersketting kwyt nie, maar sit nou op straat sonder werk.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het bevestig dat  Makwarela glad nie meer ’n raadslid in die Tshwane-munisipaliteit is nie.

Die OVK het Cope 21 dae gegee om ’n nuwe raadslid in die Stad Tshwane aan te stel om Makwarela te vervang.

Dit beteken dat Makwarela nie meer die uitvoerende burgemeester is nie, aangesien slegs raadslede die pos kan beklee.

Hy is aanvanklik deur die stadsbestuurder, Johann Mettler, gediskwalifiseer ingevolge die Grondwetbepaling dat ’n ongerehabiliteerde insolvente persoon nie ’n openbare amp mag beklee nie.

Voor dit was hy deel van die koalisieregering en speaker van die raad. Hy het egter agteraf met die EFF en die ANC gekonkel om die DA-burgemeester uit die kussings te lig sodat hy self die goue ketting om sy nek kon kry.

Die OVK se adjunkhoofverkiesingsbeampte, Mawethu Mosery, het gesê hulle moet Makwarela nou op hul databasis as raadslid deregistreer.

Makwarela was slegs agt dae lank die stad se burgemeester voordat slim sy baas gevang het. Hy hou egter vol hy is steeds die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metromunisipaliteit.

Die DA sê hulle verwelkom die besluit van die stadsbestuurder van Tshwane om ’n vakature te verklaar vir die setel wat deur Makwarela gehou is.

“Inwoners van Tshwane verdien ’n stabiele regering ná die val van die ANC-EFF-popburgemeester,” sê die party .

Cope het volgens die SAUK gesê hulle is onverhoeds betrap deur die gebeure in die Tshwane-metroraad.

Makwarela is as raadslid gediskwalifiseer omdat hy in 2016 gesekwestreer is en nie ’n sertifikaat van rehabilitasie kon toon nie. Die nasionale woordvoerder van Cope, Dennis Bloem, sê die party is geskok en teleurgesteld oor die gebeure. Hy het onderneem dat Cope die saak sal ondersoek omdat dit ’n ernstige oortreding is.

ActionSA sê intussen hulle is woedend oor die kriminele gedrag van EFF-raadslede in die Stad Tshwane, insluitend dié van sy streeksvoorsitter, Obakeng Ramabodu, wat ’n private ruimte betree het terwyl daar poligraaftoetse gedoen is met ActionSA-raadslede om vas te stel of hulle ook teen die koalisieregering se burgemeesterskandidaat gestem het.

Lede van die EFF het na bewering ActionSA se werksaamhede ontwrig en die poligraaftoerusting gesteel.

Dit het gebeur nadat ActionSA aangekondig het dat hy pogings gaan aanwend om raadslede te identifiseer wat saam met die ANC en EFF gestem het om Cope se Makwarela as burgemeester te verkies.

ActionSA sê hulle het hierdie poligraaftoetsing van sy koukuslede gedoen in ’n poging om vas te stel of raadslede se stemme gekoop is.

Die party sê in ’n verklaring die EFF se optrede demonstreer hoe desperaat hulle is om te keer dat die waarheid uitkom en dat hulle bereid is om enigiets te doen om die “kriminele omkoop van raadslede” binne die koalisie te verberg.

ActionSA sê hulle sal strafregtelike klagte teen die drie raadslede open en hulle is nou meer oortuig as ooit dat hulle agter die kap van die byl sal kom van wat die EFF probeer wegsteek oor hoe hul kandidaat tot burgemeester verkies is.

“Die EFF openbaar homself daagliks as ’n kriminele onderneming wat bereid is tot kriminele dade om hul nuutgevonde alliansie met die ANC te beskerm. ActionSA sal nie rus totdat die betrokkenes gearresteer en as raadslede uit die Stad Tshwane verwyder is nie,” sê ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top