Tshwane het weer ’n DA-burgemeester

  • 0

Die veelpartykoalisie in Tshwane is weer in beheer van die metro met ’n DA-burgemeester nadat die metro vir weke lank sonder ’n burgemeester was.

Die koalisie beskuldig die ANC en die EFF daarvan dat hulle gepoog het om die metro deur middel van ’n staatsgreep te regeer.

Die Tshwane-munisipaliteit het Dinsdag vir die derde keer die afgelope maand probeer om ’n nuwe uitvoerende burgemeester te verkies, maar die ANC en die EFF het alles in hulle vermoë gedoen om die proses te vertraag en in die wiele te ry.

Die twee vorige raadsvergaderings om ’n burgemeester te kies het elke keer in duie gestort sonder dat daar vir ’n nuwe burgemeester gestem kon word.

Die pos is sedert 10 Maart vakant nadat Murunwa Makwarela na agt dae as burgemeester moes bedank.

Die onstabiliteit wat daar in die verskillende metroregerings regoor die land is en die moontlikheid van nasionale of provinsiale koalisieregerings vorentoe het die DA aangespoor om wetgewing in die parlement ter tafel te lê wat hierdie regerings sal stabiliseer.

Dinsdag kon die koalisie in Tshwane daarin slaag om weer die stad se bestuur oor te neem toe Celliers Brink (DA) as uitvoerende burgemeester verkies is. Brink het teen Ofentse Moalusi (Cope) te staan gekom vir die posisie. Hy het 109 stemme gekry teenoor Moalusi se 102. Daar was dié keer geen bedorwe stembriewe nie.

Makwarela is aanvanklik deur die stadsbestuurder, Johann Mettler, gediskwalifiseer ingevolge die Grondwetbepaling dat ’n ongerehabiliteerde insolvente persoon nie ’n openbare amp mag beklee nie.

Hy het daarna ’n dokument ingedien wat toon dat hy wel gerehabiliteer is en is in sy pos heraangestel. Die volgende dag het hy egter bedank toe dit op die lappe kom dat die dokument vervals was.

Sedertdien doen die ANC en die EFF alles in hulle vermoë om te keer dat die demokrasie sy loop neem en gooi elke keer ’n stok in die speke sodra daar gestem moet word om die vakante poste te vul of om ontslae te raak van die speaker wat op ewe omstrede manier verkies is.

Daar is gevrees dat indien die politieke onstabiliteit voortduur, die hoofstad onder provinsiale administrasie geplaas sou moes word, maar dit wil voorkom of die veelpartykoalisie weer die hef in die hand het.

Tshwane het reeds twee sperdatums misgeloop om ’n aanpassingsbegroting deur te voer, en ná Randall Williams se bedanking as burgemeester was daar geen burgemeesterskomitee sedert 13 Februarie nie.

George Matjila, streeksekretaris van die ANC, het bewerings van die DA-koalisie ontken dat sy party raadsverrigtinge saboteer om beheer oor die munisipaliteit te verkry deur die provinsie, wat deur die ANC beheer word.

Die DA het Dinsdag in ’n verklaring gesê hulle het  ’n reeks wetsontwerpe by die parlement ingedien om die parlement voor te berei vir die moontlikheid van plaaslike, provinsiale en nasionale koalisieregerings. “Dit is van kritieke belang dat die parlement proaktief is om ’n wetgewende raamwerk te skep wat sal help met bestuurstabiliteit en betroubare dienslewering.”

Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het voor Dinsdag se verkiesing op Twitter gesê die ANC en EFF probeer ’n staatsgreep in Tshwane uitvoer. “Suid-Afrika gaan nie agteroor sit en toelaat dat onwettige optrede onder ons toesig plaasvind nie. Hierdie optrede deur hierdie twee partye moet ’n wekroep vir Suid-Afrikaanse kiesers wees. Hul agenda – om staatshulpbronne te plunder,” het Mashaba gesê.

ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, het gesê: “Kom ons noem wat in Tshwane gebeur wat dit werklik is – dit is ’n staatsgreep  –  ’n onwettige poging deur ’n minderheid om beheer oor ’n regering wat deur ’n meerderheid gehou word, oor te neem.

“Is dit wat Suid-Afrikaners moet verwag wanneer die ANC (plus hul nuwe vennote in rooi) hul meerderheid in 2024 verloor?” het Beaumont gevra.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top