Tshwane se veelpartykoalisie gevra "om Pretoria te red"

  • 0

Die leiers van die politieke partye wat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit regeer, gaan gevra word om te sorg dat geskille in die koalisie tussen die partye so gou moontlik bygelê word om te keer dat die stad in die hande van die ANC en EFF beland.

Dit volg nadat ActionSA aangekondig het dat hy dit ernstig oorweeg om hom by die ANC en die EFF te skaar om die burgemeester, Cilliers Brink, uit te stem en sodoende die DA-geleide koalisie in die metro ten gronde te laat gaan.

AfriForum het dié week met ’n omvattende veldtog begin om Tshwane uit die hande van ’n EFF-ANC-koalisie te probeer hou.

Die ANC het verlede week ’n mosie van wantroue in Brink ter tafel gelê wat verlede Vrydag tot stemming gebring sou gewees het.

Die DA het egter ’n dringende aansoek in die Pretoriase Hooggeregshof gebring om die mosie onregmatig te laat verklaar. Dit het daartoe gelei dat die ANC sy mosie teruggetrek het, maar met die belofte dat hy binne 14 dae terug sou wees met ’n nuwe een.

Dit is hoofsaaklik ’n getwis tussen ActionSA en die DA wat die huidige koalisieregering in Tshwane bedreig. Verhoudings tussen die twee partye het sedert die algemene verkiesing in Mei drasties agteruitgegaan.

Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het sy party se verhouding met die DA onlangs as toksies beskryf en dit selfs met ’n gewelddadige huwelik vergelyk. 

ActionSA, die DA, IVP, ACDP en VF Plus gaan nou gevra word om die geskille in die koalisie so gou moontlik en in die belang van die metro se inwoners by te lê.  

AfriForum het met ’n petisie begin waarin die publiek gevra word om deur middel van die webwerf www.redpretoria.co.za die partye te versoek om die strydbyle te begrawe ter wille van die stad se inwoners.

Met die ondertekening van die petisie sal ’n outomatiese skrywe aan leiers van ActionSA, die DA, IVP, ACDP en VF Plus gestuur word, sê AfriForum in ’n verklaring.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekking by AfriForum, sal die Tshwane-metro weer in wanorde verval as die huidige regerende koalisie verbrokkel. Hy sê daarom is dringende optrede nodig voordat die huidige koalisie se lot in minder as twee weke beslis word.

“Die metro se huidige koalisie het veral in Pretoria reeds vordering gemaak om  gemeenskappe meer beheer te gee om hul buurte te verbeter en te beveilig. Dít is egter nou in gedrang. Sou daar weer politieke onstabiliteit in die metro heers, sal dit ongetwyfeld bydra tot die swak prestasie van dié munisipaliteit,” sê Van Zyl.

“Dit is boonop verregaande dat ’n party soos die EFF, wat die oppergesag van die reg ondermyn, onmin saai en selfs tydens ’n onlangse raadsvergadering gesê het hulle wil ’n ‘Boer mr’, nou moontlik deel van ’n nuwe munisipale regering kan word,” het hy gesê.

“Dis tyd dat die inwoners van die Tshwane-metro hul stemme laat hoor deur dit hard en duidelik te maak dat hulle alles in die stryd sal werp om te verhoed dat ’n EFF-ANC-koalisie mag oor die metro bekom. Enige party wat bereid is om saam met die EFF te werk moet ook weet dat hulle die kant van haat, verval en wanorde kies. Indien die Tshwane-metro aan die EFF-ANC-koalisie oorhandig word, sal die inwoners van die Tshwane-metro nie vergeet wie dit oorhandig het nie,” sê Van Zyl.

ActionSA het vroeër in ’n verklaring gesê hulle neem kennis daarvan dat die ANC hulle mosie van wantroue teen Brink voorlopig onttrek het.

Die party se provinsiale voorsitter in Gauteng, Funzi Ngobeni, het gesê dit gee ActionSA genoeg tyd om hulle interne hersiening van hul posisie binne die veelpartykoalisie in die Stad Tshwane af te handel, waarna hulle hul posisie aan die inwoners van Tshwane sal kommunikeer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top