Terwyl Suid-Afrikaners 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders vier, het die grondwetlike hof uitspraak voorbehou om te besluit of ouers hulle kinders mag slaan.
Die Christelike belangegroep Freedom of Religion SA wil hê die konstitusionele hof moet die effektiewe afskaffing van lyfstraf deur ouers herroep.
Dit volg nadat die Hooggeregshof vroeër bevind het dit is ongrondwetlik vir ouers om hulle kinders te slaan. Volgens die Hooggeregshof se beslissing is dit ongrondwetlik vir ouers om as verweer op ’n moontlike aanrandingsklag aan te voer dat dit hulle reg is om lyfstraf op hulle kinders toe te pas.
Die sistematiese teoloog aan die Universiteit Stellenbosch, Nadia Marais, het aan Voertaal gesê dit is vir haar kommerwekkend dat daar in die naam van godsdiensvryheid ’n beroep gedoen word op lyfstraf teenoor menswaardigheid en waardes vir respek en nie-geweld. “Dit is vir my kommerwekkend want dit is ’n manier om die godsdiens te kaap in diens van ’n agenda wat ek nie seker is die Evangelie dien of reg aan die goeie nuus van die Evangelie laat geskied nie.
Die minister van Justisie en maatskaplike ontwikkeling, die vervolgingsgesag en verskeie ander organisasies ondersteun ook die algehele afskaffing van lyfstraf.
Suid-Afrikaners is in twee kampe verdeel oor die toepassing van lyfstraf deur ouers op kinders. Sommige meen dit is nie net ouers se reg om hulle kinders te slaan nie, maar ook hulle Christelike plig. Ander meen egter dit kan lei tot die verbrokkeling van ’n gemeenskap se standaarde en dien as aanhitsing tot geweld in ’n land wat ernstig gebuk gaan onder geweld teen veral vroue en kinders.
Freedom of Religion SA stem nie saam nie. Hulle sê in hulle betooghoofde voor die hof mens hoef net ’n koerant op te tel om te sien dat skole in die laaste paar jaar ’n gevaarsone geword het vir onderwysers en leerlinge. Hulle sê die bewering dat lyfstraf sleg is vir kinders is slegs ’n aanname.
Selfs die land se regters is verdeel oor die vraagstuk of lyfstraf goed of sleg is vir kinders. Hoofregter Mogoeng Mogoeng steun skynbaar die beginsel van matige lyfstraf deur ouers op hul kinders. Ander regters soos regter Leonora Theron wou weet of alle vorme van geweld nie verbied behoort te word gegewe die hoë voorkoms van geweld teen vroue en kinders nie.
Op sosiale media het die hare behoorlike gewaai soos wat gewone Suid-Afrikaners mekaar gepak het oor die saak. “’n Pak slae vir die regte rede was nog nooit ’n fout nie,” het Johan Boshoff op Netwerk24 se kommentaarblad geskryf.
Verskeie ander lesers verskil heftig van hom. Ronel Venter sê daar is nie die regte tyd vir slae nie, dis altyd ’n fout. “Daar is altyd tyd vir opvoeding, mits dit vroeg begin.”
Die meeste van diegene wat ten gunste van lyfstraf is, beroep hulle op die Bybel en hulle Christelike geloof en staaf hulle argument met Bybelversies. “Wie die roede terughou haat sy seun, maar hy wat hom lief het besoek hom met tugtiging en as die sotheid vassit in die hart van die seun sal die tugroede dit daaruit verwyder,” het Julie Jansen van Rensburg haar argument uit Spreuke verdedig.
“Nee, kyk, ek (nou in my tagtigerjare) het slae gekry wanneer nodig – inderdaad, oorle' Ma het altoos gesê: ‘Wie nie ore het nie moet voel’ ..."
Sy sê haar eie driestuks (nou goed in hul 50's) het geweet van ou “sielkunde” (’n plak) wat agter die kombuisdeur gehang het, maar so af en toe "vetgevoer" moes word – en al drie het vandag goeie werke; twee van hulle is ook ouers wat op hul beurt weer plathand op die sitvlakkies ingelê het – en in die proses het nie een van my familie ooit gewelddadige neigings getoon nie.”
Buro: NB