Tussenverkiesings: DA verloor meeste wyke

  • 0

Die ANC en die DA maak albei op oorwinnings aanspraak na die afgelope Woensdag se munisipale tussenverkiesings, maar die DA was die grootste verloorder.

Albei partye spog in verklarings daarmee dat hulle in die aanloop tot vanjaar se landwye munisipale verkiesing besig is om hulle steun onder die kiesers te konsolideer en uit te brei. Die DA was egter die party wat die meeste wyke afgestaan het, naamlik vier.

Altesaam 40 munisipale tussenverkiesings het Woensdag in 25 munisipaliteite regoor die land plaasgevind, die meeste daarvan in Gauteng, waar sittende stadsraadslede oorlede is of deur hulle onderskeie partye herroep is.

Dit wil voorkom of die ANC daarin geslaag het om sy steunbasis grootliks te behou. Die DA sukkel steeds om steun buite sy tradisionele hoofsaaklik wit steunbasis te werf.

Die ANC kon 27 van die 40 wyke wat dié party in Woensdag se tussenverkiesings betwis het, behou. Hulle het een wyk afgestaan en drie nuwe wyke gewen, waarvan een by die DA in Johannesburg en een DA-wyk in eThekwini. Hulle het ook ’n wyk by die Better Residents Association in Bosbokrand in Mpumalanga afgeneem.

Die DA, wat 10 wyke betwis het, het ses van sy wyke behou, maar vier verloor, terwyl die Patriotic Alliance twee nuwe wyke gewen het. Die IVP het een wyk behou en nog een bygekry. Volgens die Onafhanklike Verkiesingskomitee was die gemiddelde opkoms vir die tussenverkiesings 31,4%.

Woensdag se uitslag, wat as ’n barometer beskou word van wat later vanjaar verwag kan word wanneer die hele land na die stembus gaan om nuwe stadsraadslede te kies, word verskillend deur die land se twee grootste politieke partye vertolk.

Die DA maak in ’n verklaring daarop aanspraak dat die party gestabiliseer het na die bedanking van hulle vorige partyleier, Mmusi Maimane, die voormalige burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, en ander DA-leiers. Volgens die DA is hulle besig om ’n opwaartse groeitrajek te toon ondanks die feit dat hulle die meeste wyke afgestaan het.

Die ANC, wat, nes die DA, die afgelope tyd onder hewige binnegevegte gebuk gaan, het Woensdag se uitslae verwelkom. Die party sê die uitslae dui daarop dat die land se kiesers steeds die ANC vertrou om hulle belange te dien.

Dié week se verkiesings het plaasgevind teen die agtergrond van die landwye plaaslike verkiesings wat op 27 Oktober plaasvind. Die uitslae van Woensdag se tussenverkiesings dui volgens die ANC daarop dat hulle landwyd steeds besig is om te groei en hulle ondersteuningsbasis te verbreed.

Die ANC sê in ’n verklaring die kiesers het hulle vertroue in die ANC se leierskap bevestig deurdat hulle die ANC aan bewind gestel het in wyke wat voorheen deur ander partye verteenwoordig is.

“Ons is dankbaar vir die vertroue wat kiesers steeds in die ANC se leierskap stel en sal voortgaan om die lewensomstandighede van almal op voetsoolvlak te help verbeter,” sê die party in hulle reaksie op die week se uitslae.

In die Oos-Kaap het die ANC 83,59% van die steun geniet en al agt sy wyke behou. In Gauteng het die ANC 38,61% steun geniet, al vyf sy wyke behou en een van die DA se wyke gewen. In KwaZulu-Natal het die ANC 47,25% steun geniet, al vier sy wyke behou, een van die DA se wyke ingepalm en een aan die IVP afgestaan. In Limpopo het die ANC 73,96% van die stemme op hom verenig en al vier sy wyke behou. In Mpumalanga het die ANC 61,43% van die stemme gekry, al drie van sy wyke behou en een wyk by die Better Residents Association afgeneem. In die Vrystaat het die ANC 43,99% van die stemme gekry en albei sy wyke waar tussenverkiesings gehou, is behou.

Die DA het op sy beurt al drie sy wyke in Tshwane behou. Volgens die DA is die uitslae van Woensdag se tussenverkiesings ’n bewys dat die DA die mees diverse politieke party in die land is wat in verskeie gemeenskappe groei. “Slegs die DA verteenwoordig die belange van alle dele van die gemeenskap,” sê die DA in ’n verklaring. Volgens die DA is die ANC besig om al hoe meer steun in Gauteng se metro’s te verloor.

Die leier van Action SA, Herman Mashaba, het intussen bekend gemaak dat hy in die munisipale verkiesing in Oktober as burgemeesterskandidaat vir Johannesburg gaan staan. Mashaba het voorheen dié amp beklee as DA-burgemeester, maar het in Oktober 2019 uit die party bedank. Hy is by die DA weg uit protes teen Helen Zille wat as federale voorsitter van die DA aangewys is. Hy het ’n beroep gedoen op inwoners om hom in die komende verkiesing te steun, in ruil vir ’n wesenlike verandering in Johannesburg.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top