Die twis in die NG Kerk oor troues tussen mense van dieselfde geslag het opnuut opgevlam, volgens Netwerk24. Dit volg nadat die Minister van Binnelandse Sake op versoek van die kerk toestemming gegee het dat NG Kerk-predikante aansoek mag doen om selfdegeslagverbintenisse te voltrek, volgens die berig.
Die NG Kerk het in 2019 na ’n uitgerekte twis besluit om ruimte te maak vir homoseksuele mense wat wil trou en om dominees wat wil, toe te laat om sulke paartjies te trou.
Die moderator van die NG Kerk, Nelis Janse van Rensburg, het aan die kerk se mondstuk, Kerkbode, gesê dit is van toepassing op gelegitimeerde predikante wat die opsie sou wou uitoefen en die predikant tree in daardie funksie as geakkrediteerde van die staat op.
Die grootste NG Kerk-gemeente in die land, Moreletapark in Pretoria, sê in ’n verklaring hulle het met skok en ontsteltenis kennis geneem dat die NG Kerk amptelik by die Minister aansoek gedoen het om as godsdienstige organisasie aangewys te word wat selfdegeslagverbintenisse ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse (Wet 17 van 2006) bevestig.
Die opvolgpaneel van ’n spesiale beraad wat vroeër vanjaar by Moreletapark gehou is, sê verskeie navrae is ontvang van leraars en lidmate wat ontsteld is oor “die ontydige en ongemagtigde optrede” van die algemene sinodale kantoor. Die beswaarde groep het sinodes, ringe, kerkrade, leraars en lidmate versoek om hulle ten sterkste uit te spreek teen hierdie optrede en om hulle amptelik daarvan te distansieer.
Hulle sê daar is nie by die algemene sinode van 2019 besluit om by die Departement van Binnelandse Sake namens die NG Kerk as denominasie aansoek te doen dat NG Kerk-predikante gays mag trou nie.
“Die algemene sinode van 2019 het besluit dat daar net vir leraars wat selfdegeslagverbintenisse wil bevestig, aansoek gedoen sal word vir registrasie by die minister van binnelandse sake.”
Die groep sê terwyl die NG Kerk skerp verdeeld is oor die aangeleentheid van selfdegeslagverbintenisse, en sinodes, ringe en kerkrade die reg het om hulle eie besluite daaroor te neem, word daar nou ’n besluit van die algemene sinode op alle ander kerkvergaderinge in die NG Kerk afgedwing.
Chris Saayman van Tafelberg-gemeente in Kaapstad skryf in ’n brief aan Kerkbode sy gemeente verwerp ook die stap. Hy sê ongeveer 25 leraars het glo reeds aansoek gedoen om gays te trou. “Nou ja, daar is dit nou: NG predikante kan aansoek doen om aangestel te word as bevestigers van burgerlike verbintenisse. Om dit maar net weer duidelik te stel: Tafelberg Gemeente (Dolerend) verwerp hierdie toedrag van sake as synde onskriftuurlike dwaling wat lynreg indruis teen die eksplisiete wil van God. Duideliker as wat die Skrif hieroor is, kan dit nie. Dit tas die gesonde leer van die evangelie aan (1 Tim 1:10–11). Die gemeente kies dus opnuut om los te staan van almal wat op watter manier ook al aan hierdie praktyk meedoen,” het Saayman ook op sy Facebookblad geskryf.
Petrus Fouché van Kokstad het op Saayman se brief reageer en gesê Kokstad-gemeente voeg hulle stem by dié van Tafelberg-gemeente. “Ons voel stukkend, in die grond vertrap, deur hierdie verdere stap van die minagting wat die algemene sinode teenoor die Bybel en die Gewer van die Heilige Woord het. Teoloë en geleerdes se woorde is tydgebonde, die Woord van God is ewig, onveranderlik en onveranderbaar.”
Sommige dominees en proponente het dit egter verwelkom dat hulle nou ook gays mag trou. Die gay-aktivis-proponent Hennie Pienaar het op Facebook geskryf “NGK-predikante, behalwe die wat verkies om homofobies te bly, mag nou gay-couple’s trou. Well done!”
Marius Bakkes het in reaksie op Pienaar se Facebookinskrywing geskryf: “Die Westerse hetero huwelik, ook in sy meer etniese verband in ons tyd, blyk nie ’n geweldige suksesvolle, of enigsins ’n standvastige instelling te wees nie. Ek reken dit is slordig om nou die stomme gays ook by so ’n wankelmoedige gebruik te wil betrek. Glo my, hulle is lankal daar verby. Die wat nog wil kan ek op die hand tel – en noem. Die ander sluit gewoon kontrak of maak ’n testament.”
Buro: MvH