Twis oor gesondheidsregulasies na ou regulasies verstryk

  • 0

Terwyl die vyfde COVID-19-golf volgens aanduidings reeds besig is om oor die land te begin spoel, moes die regering Woensdag (4 Mei) ter elfder ure ’n plan maak om die COVID-19-regulasies wat om middernag sou verstryk, steeds te behou.

Baie Suid-Afrikaners het vergeefs gehoop die verpligte dra van maskers binnenshuis sou iets van die verlede wees nadat die 30-dae-verlenging van die regulasies om middernag verstryk het. Nuwe regulasies het teen Woensdagmiddag egter nog nie verskyn nie en Suid-Afrikaners was in die war oor wat hulle voortaan sal mag doen en nie mag doen nie.

Die regering moes ter elfder ure maatreëls aangekondig om die huidige maatreëls langer in plek te hou. Dit kan heel moontlik tot hofsake lei deur organisasies en partye wat daarteen gekant is.

Die regulasies is uiteindelik baie laat Woensdagaand in die Staatskoerant gepubliseer. ’n Mediese spesialis verbonde aan die Nelson Mandela Universiteit, Elma de Vries, het vroeg vanoggend die publikasie in die Staatskoerant soos volg opgesom:

  • Dit wat gepubliseer is, is veel minder drakonies as die oorspronklike idees wat ter tafel gelê is.
  • COVID-19 is wel by die bestaande lys van aanmeldbare siektes geplaas.
  • Die dra van maskers binnenshuis is tans nog verpligtend. Die minister kan in die Staatskoerant aankondig dat dit nie meer nodig is nie, en dan weer aankondig dat dit weer gedra moet word, sou die minister oordeel dit is nodig.
  • Dit wil voorkom of skole uitgesluit is van die maskermandaat.
  • Groot binnenshuise byeenkomste moet steeds getalle beperk, maar hotelle en dies meer mag op volle kapasiteit werk.
  • Reisigers wat Suid-Afrika wil binnekom, moet ’n geldige entstofpas of ’n negatiewe toets kan toon, of hulle word by aankoms getoets. Kinders onder 12 is uitgesluit, wat goeie nuus sal wees vir die toerismebedryf.

Die regering het aanvanklik die regulasies vir slegs 30 dae verleng toe die nasionale ramptoestand verlede maand beëindig is. Die Departement van Gesondheid het gehoop om die wysigings wat in die plek daarvan sou kom, teen 5 Mei afgehandel te hê, maar  kon nie daarin slaag nie.

Openbare kommentaar vir die konsepgesondheidsregulasies het op 24 April 2022 gesluit, wat Joe Phaahla, minister van gesondheid, en sy departement slegs 12 dae gegee het om meer as 300 000 voorleggings voor die sperdatum (Donderdag 5 Mei) te verwerk en te ontleed.

Die termyn is Woensdagaand met 90 dae verleng. De Vries sê dit gee die minister die geleentheid om na die breër prentjie te kyk.

Die DA het Woensdag ’n beroep op die regering gedoen om duidelikheid te verskaf oor die huidige stand van Suid-Afrika se konsep-Covid-regulasies.

Intussen woed die debat oor veranderinge aan die Nasionale Gesondheidswet voort. Sommige sê die veranderinge is ’n skending van menseregte.

Die DA sê in ’n verklaring  hierdie “drakoniese konsepgesondheidsregulasies” kan verreikende gevolge hê op die publiek se grondwetlike regte en die Departement van Gesondheid moet alles moontlik doen om te verseker dat alle bekommernisse aangespreek word.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Woensdag in ’n verklaring gesê as die regering voortgaan met sy planne om hierdie regulasies permanent in die wet te verskans, sal AfriForum in samewerking met die openbaredeelnameplatform DearSA regstappe doen.

“AfriForum se hofstukke is reeds gefinaliseer en ons regspan staan gereed om hierdie wysigings onmiddellik te beveg, sou dit in werking tree.” AfriForum sê hulle sal “litigeer om die verstommende en onregverdigbare regulasies te hersien”, volgens Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

AfriForum is van mening dat die voorgestelde regulasies ultra vires en daarom buite die beoogde omvang van die wetgewing is. Hulle voer aan dit was nooit die wetgewer se bedoeling dat hierdie wette sulke verreikende gevolge moet hê nie. Sommige van hierdie voorgestelde regulasies, soos gedwonge kwarantyn, is voorheen deur die hof nietig verklaar.

DearSA sê hy is ook bekommerd oor die regering se hantering van die openbaredeelnameproses rakende kommentaar op die nuwe voorgestelde wysigings aan die Gesondheidswet.

“Daar is geen rede waarom hierdie tydelike gesondheidsregulasies permanent gemaak moet word nie. Terwyl baie lande regoor die wêreld regulasies soos die dra van maskers, laat vaar het, wil die Suid-Afrikaanse regering nou hierdie maatreëls permanent in die wet verskans. Dit is absoluut onlogies,” het Broodryk gesê.

’n Onlangse styging in Covid-gevalle dui op die moontlikheid dat Suid-Afrika sy vyfde golf vroeër as verwag betree, het Phaahla verlede week gewaarsku.

In ’n media-inligtingsessie verlede Vrydag (29 April) het Phaahla gesê die regering sal waarskynlik ’n verdere week se data nodig hê om die begin van die vyfde golf amptelik te bevestig en dat die onlangse styging in gevalle nie ongewoon is nie. Vorige voorspellings was dat ’n vyfde golf vanaf middel-Mei in Suid-Afrika sou begin.

“Wat duidelik is, is dat ons ’n groot risiko loop vir COVID-19, veral omdat ons in ’n baie lang winter ingaan waar mense meer tyd binnenshuis deurbring en waar ons byeenkomste grootliks binnenshuis sal wees met ’n risiko van respiratoriese infeksie,” het Phaahla gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top