Betogers het die afgelope naweek die strate ingevaar (Foto: Milton Webber)
Uber steier, bestuurders juig
NOS berig dat die hof in Amsterdam Maandag uitspraak gelewer het in die saak wat deur die vakbond die FNV teen die tegnologiereus Uber aanhangig gemaak is. Die regter het beslis dat Uber sy bestuurders permanent in diens moet neem en dat hulle nie, soos wat Uber beweer, voldoen aan die vereistes van selfstandige ondernemers nie. Die beslissing kan groot gevolge inhou vir ander bedrywe, soos maaltydbesorgers. Die regter het beslis dat bestuurders wat op Uber se platform aanmeld, onderwerp word aan ’n algoritme wat slegs deur Uber aangepas kan word en nie die bestuurders nie. Dit kom daarop neer dat Uber soos ’n werkgewer optree en nie as ’n kliënt van Uber-bestuurders nie. Dit is strydig met die reëls van wat as selfstandige werk beskou word. Volgens die hofuitspraak moet Uber al sy bestuurders nou in diens neem en volgens die kollektiewe arbeidsooreenkoms van die taxibedryf betaal.
Nederland betoog teen verbod op feeste en woningtekort
Betogers het die afgelope naweek die strate ingevaar om hul frustrasie te kenne te gee. Tienduisende betogers van die organisasie Unmute Us het Saterdag in verskeie stede met luide musiek verkeer tot stilstand gedwing. In Amsterdam het sowat 80 000 betogers aan die protesaksie deelgeneem. Die organisasie sê die doel van die betoging was om die regering te dwing om van hulle frustrasie kennis te neem met die oog op die perskonferensie wat vir Dinsdag beplan word. “Na vandaag kan onze beweging niet meer genegeerd worden,” sê ’n woordvoerder van Unmute Us, Jasper Goossen. Daar word intussen verneem dat die regering wel sommige bestaande maatreëls vir die bestryding van die virus gaan afskaf, maar in dié stadium lyk dit nog nie of jongmense binnekort op groot skaal na feeste sal kan gaan nie.
Sondag het die protesaksie voortgeduur, maar dié keer het dit om die behuisingskrisis gegaan. ’n Gebrek aan behuising is geen onbekende in Nederland nie. Dit is ’n klein land met een van die digste bevolkings in Europa, maar dit is die eerste keer sedert die jare ’80 dat daar weer wydverspreide betogings oor behuising is. Sedert die begin van COVID-19-pandemie het huispryse en huurgeld die hoogte ingeskiet, deels as gevolg van die lae rentekoerse en mense met geld wat huise opkoop om te verhuur en so eerste kopers uit die mark druk omdat dit eenvoudig onbekostigbaar word. Volgens die stadsraad van Amsterdam het sowat 15 000 persone aan die betoging deelgeneem. ’n Woordvoerder van die organisasie Woonbond sê: “Dit protest laat zien dat het een breed gedragen onderwerp is en dat er veel mensen zijn die geloven dat we als collectief verandering kunnen opeisen.”
Volgens die Amsterdamse stadsraad het die protesaksie oor die algemeen goed verloop. Daar was egter sommige betogers wat ná die protesaksie probeer het om by ’n onbewoonde woning in te breek om daar te plak. Talle mense is tydens die voorval in hegtenis geneem.
‘Wonen is een recht!’. Grote opkomst en prima sfeer bij indrukwekkend #Woningprotest Amsterdam in Westerpark. ‘Mensen boven markt’! @WOONPROTEST pic.twitter.com/5n6NMriFnn
— Joke Hermsen (@JokeHermsen) September 12, 2021
Koronapas vir toegang
Terwyl in Suid-Afrika die regering dit nog oorweeg om ’n bewys in te voer vir toegang tot openbare ruimtes, word dit ’n werklikheid in Nederland en ook in België. De Morgen berig dat die Vlaamse minister-president Jan Jambon van sy teenstand teen die pas afgesien het noudat dit op 25 September in Nederland ’n werklikheid word en reeds in Brussel ingevoer is. Jambon het enkele weke gelede nog sy teenkanting teen die invoer van ’n pas uitgespreek. Maar kritiek oor die beleid is daar meer as genoeg. Van die grootste kritiek is dat ’n verpligte inentingsbewys inbreuk op privaatheid maak en groter druk op restaurante sal plaas wat reeds met ’n personeeltekort sukkel. Ander glo weer dat die bewys juis ’n middel is om volkome vryheid ’n tree nader te bring. In Denemarke is alle oorblywende inperkingsmaatreëls verlede Vrydag afgeskaf, juis omdat hulle al maande gelede ’n verpligte pas by openbare geriewe ingevoer het. Dit is nog onseker waar die koronapas verplig in België ingevoer gaan word, maar dit word algemeen verwag dat dit in die sorg- en gasvryheidsbedryf asook by sportgeriewe gebruik sal word. Die Vlaamse regering beslis vandeesweek oor die kwessie en daar word verwag dat ’n finale beslissing teen Vrydag geneem sal word.
Reuseluislang in die Gent-Terneuze-kanaal gewaar
VRT NWS berig dat pa en seun Mirsa en Sadmir gisteroggend besig was om in die Gent-Terneuzen-kanaal in België vis te vang toe hulle ’n dooie reusegeelluislang van vier meter in die water gewaar. “We dachten eerst dat het speelgoed was,” sê Sadmir. “Maar toen mijn vader met een stok het reptiel dichter trok, zag hij dat het een ferme gele python van 3,95 m lang was.” Die slang, wat van Suidoos-Asië afkomstig is, het waarskynlik lewend in die kanaalwater beland, maar hoe dit so ver kon gekom het, word nog ondersoek. Die omgewingsdiens het intussen die reptiel verwyder.
Wolf se kind slaan weer toe
Voor het eerst pony’s doodgebeten door een wolf: “We zijn het beu” https://t.co/OfTvdCTGgx pic.twitter.com/ZSXrxz98sZ
— HBvL (@hbvl) September 13, 2021
’n Wolf het Sondagaand twee Shetlandponies in die weide in Oudsbergen doodgebyt. Die burgemeester van Oudsbergen, Marco Goossens, sê dit is die laaste strooi. Hy praat van ’n probleemwolf en het ’n beroep op die Vlaamse minister van onder meer omgewingsake Zuhal Demir gedoen om in te gryp. “In totaal werden al zo’n 40 dieren het slachtoffer van de wolf in onze gemeente. Het dierenwelzijn in Oudsbergen komt in het gedrang, onze inwoners zijn ongerust en ik ben ervan overtuigd dat we nu van een probleemwolf kunnen spreken,” sê Goossens. Hy sê die provinsie Limburg se geduld raak nou op. “We kunnen al lang niet meer van een schuwe wolf spreken,” sê hy. Volgens Goossens is die wolfwerende heinings ook onvoldoende om wolwe weg te hou en aanvalle kom al hoe meer voor. Jeroen Denaeghel van het Agentschap voor Natuur en Bos (ANB) sê egter daar is op die oomblik geen sprake van iets soos ’n probleemwolf nie, aangesien die diere onbeskermde vee aanval. Hy sê ook wolwe val nie sommer perde aan nie, maar ponies is natuurlik veel kleiner en ’n veel makliker prooi en dis natuurlik nie ’n mooi gesig nie. Hy sê die subsidiestelsel wat op die oomblik net vir skaapboere geld, moet uitgebrei word en dié seisoen nog ingevoer word.