Tonele van menslike lyding oor die wêreld heen flits daagliks oor televisieskerms. Dit strek van die oorlog in Oekraïne tot die jongste Islamitiese Staat-aanval in Afganistan en, nader aan die huis, die vernietiging en ontwrigting wat deur ongekende vloede in KwaZulu-Natal aangerig is.
Die sterftesyfer in die Oekraïne-Rusland-konflik word deur die kantoor van die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir menseregte op meer as 2 000 gestel, waarvan nagenoeg 170 kinders was. Skade aan Oekraïense geboue en infrastruktuur word deur die Wêreldbank op $60 miljard geraam.
In ’n videokonferensie met dié internasionale instelling en die Internasionale Monetêre Fonds het Oekraïne se president, Wolodimir Zelenski, aangedui dat $7 miljard per maand benodig sal word om die land te herbou.
Die aanval in Afganistan, waar vrede steeds ontwykend is ná die Amerikaanse en alliansie-onttrekking verlede jaar, het die lewe van minstens 31 mense geëis; en terwyl die regerende Taliban daarop aanspraak maak dat hulle die IS verslaan het, glo kenners die groep hou steeds ’n ernstige sekuriteitsgevaar plaaslik in.
Wat egter in Suid-Afrikaners se gedagtes voorop gestel is, is die meer as 400 mense wat pas hier dood is, meer as 40 000 wat hul huise verloor het, en miljoene rand se skade wat aan besighede en infrastruktuur aangerig is. Dit is nou nadat tussen 200 en 400 mm reën binne die bestek van 24 uur op 11 en 12 April die provinsie getref het.
Nie eens die weerdiens, blyk dit, was hierop voorberei nie, maar in die kenmerkende Suid-Afrikaanse gees van ubuntu en hand bysit en helpmekaar en uitreik in tye van nood het gemeenskappe, die regering en hulporganisasies onmiddellik ingespring om die menselyding te help verlig.
Dit is die hartverskeurende verhale van families wat ’n mens bybly, soos oor grootouers, ouers, sibbe, kinders, bure en uitgebreide familie wat deur die vloedwaters meegesleur is. Woonplekke van bakstene en informele strukture wat inmekaar tuimel. Motors, meubels, klere, ID-boekies: allesverloren. “Min woorde kan troos bied vir die angs en pyniging van diegene wat geliefdes verloor het,” het Cyril Ramaphosa dit raak opgesom in sy toespraak oor die vloede aan die nasie.
Ramaphosa het nou ook ’n rampstaat aangekondig en beloftes van hulp is aan inwoners gemaak, terwyl landsburgers aangemoedig word om tot die Solidariteitsfonds by te dra (wat aanvanklik in reaksie op die Covid-pandemie in die lewe geroep is). Die donker randjie by die silwer wolk van saamspan – as ’n mens die bekende gesegde ’n bietjie mag aanpas – is dat kommer en kritiek oor moontlike korrupsie met die bestuur van die hulpfonds onmiddellik ná die President se aankondiging uitgespreek is.
Want Suid-Afrikaners het oopmond-verbaas moes toesien hoedat mense in besluitnemingsposisies gedurende die hoogty van Covid nie hulself kon keer om ook van Covid-fondse buit te maak nie. Die versoeking was vir hulle net te groot. Maar “versoeking” veronderstel ’n byna onskuldige of onbedoelde optrede – “vraatsug” stel dit beter (sterker, meer akkuraat). Dit is die optrede van mense sónder enige gewete, en ’n land is net so goed soos sy verkose leiers.
Ramaphosa moes daarom terselfdertyd die versekering gee dat ’n ministeriële taakspan aangestel word om toe te sien dat géén van die geld gesteel sal word nie. Watwou dat die voormalige minister van gesondheid, Zweli Mkhize, sélf in die beskuldigdebank staan oor die beweerde (wan)aanwending van geld uit sy departement se begroting vir ’n Covid-kommunikasieplan.
Mense se agterdog is dus te begrype. Die taak behoort eerder aan organisasies soos Imtiaz Sooliman se Gift of the Givers oorgelaat te word om die noodleniging te hanteer, meen talle. Hoe ironies dat dié organisasie, bestaande uit Suid-Afrikaanse vrywilligers, medici en ander kundiges, vandag een van die eerstes is wat genader word ongeag waar in die wêreld ’n ramp tref (soos mees onlangs met die uitbreek van die Oekraïne-oorlog).
En hoe laag het die land van Mandela-medemenslikheid nie gedaal nie dat selfs hulpbronne wat vir die verligting van swaarkry bedoel is, nie altyd veilig is in die hande van hulle wat betáál word vir die bestuur en beskerming daarvan nie.
In tye van mensenood, soos wat tans plaaslik en internasionaal ervaar word, is dit juis die gees van omgee en onbaatsugtigheid eerder as dié van uitbuiting wat ons moet laat glo dat die goeie áltyd – hetsy in Oekraïne, Afganistan of KwaZulu-Natal – die slegte sal oorwin.