Uit die as: hoop vir Amsterdam se Vondelkerk ná verwoestende brand

  • 0

Die oorblyfsels van die Vondelkerk op 1 Januarie 2026. (Foto deur Milliped, via WikiMedia, CC BY-SA 4.0)

Ten spyte van die verwoestende brand wat die ikoniese Vondelkerk in Amsterdam op Nuwejaarsnag 2026 getref het, is daar reeds lig aan die einde van die tonnel.

Inspeksies toon dat die gebou nie heeltemal onherstelbaar is soos aanvanklike berigte gesuggereer het nie.

Stadsherstel Amsterdam, die organisasie wat die kerk – dikwels beskryf as die “Notre-Dame van Amsterdam” – besit, het reeds planne in werking gestel om die geliefde neo-Gotiese struktuur te herstel. ’n Skarefinansieringsveldtog het binne enkele dae byna €93 000 (ongeveer R1,9 miljoen) ingesamel, ’n duidelike teken van die stad se vasberadenheid om hierdie monument te red.

Die brand het ’n golf van emosies ontketen. Op sosiale media het inwoners en besoekers hul hartseer uitgespreek. “Devastating start to 2026,” het een gebruiker geskryf, terwyl ander die historiese waarde van die kerk beklemtoon en die verlies as “hartverskeurend” beskryf het.

Vir die Suid-Afrikaanse literatuurwetenskaplike en akademikus Ena Jansen, wat meer as 20 jaar lank oorkant die Rijksmuseum aan die Weteringschans gewoon het, was die brand ’n groot skok. Jansen dien op die bestuursraad van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) en is al jare lank ’n lid van Stichting Stadsherstel.

“Die Vondelpark was ons agtertuin. Honderde kere het ek by die Vondelkerk verby gefiets, gedraf en gestap, en ook konserte, lesings en partytjies daar bygewoon. Tereg word dit ’n juweel genoem,” sê sy.

Reeds midde-in Oujaarsnag, toe die kerk se hooftoring en koepel weens die intense brand in duie gestort het, het oudbure en buurtgenote foto’s en video’s vir haar gestuur.

Die brand het kort ná middernag op 1 Januarie 2026 in die toring ontstaan, vermoedelik as gevolg van vuurwerk tydens Nuwejaarsvieringe. Binne ure het die toring en dak ineengestort. Hoewel dit nie meer 'n tradisionele kerk was nie, het die Liberty Church die gebou vir eredienste gebruik en is hulle nou op soek na ’n nuwe tuiste. Die Vondelkerk was primêr 'n kulturele venue vir troues, konserte, ens.

Hoewel die skade omvangryk is, het hommelinspeksies bevestig dat die buitemure en groot dele van die struktuur behoue gebly het. Dit maak herstel haalbaar, al is dit duur en tydrowend.

Binne twee dae ná die brand was daar reeds argitekte, erfenisdeskundiges en stadsbestuurders op die toneel om die ruïne te inspekteer en moontlike herstelplanne te bespreek. “Die buitemure staan nog. As Notre-Dame in Parys herbou kon word, kan die Vondelkerk ook,” sê Jansen.

Volgens haar sal Nederlanders, wat bekend is daarvoor dat hulle weten van aanpakken, die nodige fondse bymekaar kry. Sy verwys na die vinnige en sorgvuldige herbou van die Mostert-meule in Kaapstad ná die brand tydens die Universiteit van Kaapstad se kampusbrande as ’n voorbeeld van soortgelyke daadkrag.

Die brand het ook woede en politieke kommentaar ontlok. Sommige stemme het vuurwerk direk geblameer en ’n verbod op Nuwejaarsvuurwerk geëis. Ander het beweer dat die Christendom onder aanval is, terwyl sommige kommentators die voorval verbind het aan breër jeuggeweld wat die polisie as “ongekend” beskryf het. Tog het hoop en solidariteit die gesprek oorheers, met oproepe vir skenkings, steunbetuigings en praktiese hulp.

Vir die kreatiewe agentskap Gardeners, wie se kantore in die Vondelkerk gevestig was, was die gebou meer as bloot ’n werkplek. Maira Evers, stigter en besturende direkteur, het dit op LinkedIn beskryf as ’n “tweede huis” waar die maatskappy oor 17 jaar gegroei het.

“Die verlies voel groot – groter as wat woorde soms kan vasvang,” het sy geskryf, maar sy het ook die oorweldigende steun van kliënte, bure en vriende beklemtoon. Gardeners werk tans tydelik vanuit Stayokay Amsterdam Vondelpark en is vasbeslote om met dieselfde energie en optimisme voort te gaan.

Die Vondelkerk is in die 19de eeu ontwerp deur Pierre Cuypers, die argitek agter die Rijksmuseum en Amsterdam Centraal-stasie. Dit was die eerste kerk ter wêreld wat aan die Allerheiligste Hart van Jesus gewy is en het as middelpunt van die Vondelstraat gedien. Cuypers het self in ’n huis met uitsig op die kerk gewoon en dit as sy mooiste werk beskou.

Die kerk het reeds een brand oorleef: In 1904 het weerlig die toring vernietig, waarna dit deur Cuypers se seun herbou is. Ná dekades as Katolieke parogiekerk het sekularisasie tot die sluiting daarvan in 1977 gelei. Plakkers het dit later beset, en sloping was ’n werklike gevaar totdat Stichting Vondelkerk dit in die 1980’s gered het. Sedertdien het Stadsherstel Amsterdam die gebou as kultuurruimte benut vir troues, konserte en lesings.

Die 2026-brand het Amsterdam opnuut herinner aan die broosheid van sy erfenis. Die Vondelkerk was nog nooit bloot ’n gebou nie, maar ’n draer van herinneringe: van Katolieke herlewing in die 19de eeu, van sekularisasie en verval, en later van ’n stad wat sy geskiedenis nie wou prysgee nie. Dat hierdie kerk reeds een keer uit die as verrys het, maak die huidige verwoesting des te meer gelaai – nie net met verlies nie, maar met betekenis.

Wat in die dae ná die brand opgeval het, is hoe vinnig rou in optrede verander het. Skarefinansiering, steunbetuigings en die teenwoordigheid van kundiges op die toneel dui op meer as restourasiebeplanning; dit dui op ’n kollektiewe behoefte om iets te beskerm wat mense as deel van hul eie lewensverhaal ervaar. In ’n stad waar historiese geboue dikwels onder druk verkeer weens kommersiële en stedelike ontwikkeling, word die Vondelkerk se lot ’n toetsgeval vir hoe ernstig Amsterdam sy kulturele geheue opneem.

Vir die gemeenskappe wat die kerk gebruik het – van gelowiges en kunstenaars tot entrepreneurs en buurtbewoners – is die verlies nie abstrak nie. Dit is die verlies van ’n ontmoetingsplek, ’n ruimte waar verskillende lewens en idees mekaar gekruis het. Die feit dat soveel uiteenlopende stemme nou saamstaan, beklemtoon hoe diep die kerk in die stad se sosiale weefsel ingebed is.

Die pad vorentoe sal lank en kompleks wees. Ingenieurs en argitekte sal die omvang van die skade noukeurig moet bepaal, en finansiële steun sal volhoubaar gemobiliseer moet word. Die herstel van die Vondelkerk sal jare neem en die stad sal vir ’n lang tyd met steierwerk en wonde in sy stadsbeeld saamleef. Tog lê daar in hierdie proses ook ’n geleentheid: om nie net klip en hout te herstel nie, maar om oor die betekenis van gedeelde erfenis te herbesin.

Die brand het ’n rou wond gelaat, maar ook iets positiefs oopgebreek. Dit het herinneringe, betrokkenheid en ’n gevoel van gedeelde verantwoordelikheid na die oppervlak gebring. As hierdie momentum behoue bly, kan die Vondelkerk weer verrys – nie net as ’n gerestoureerde monument nie, maar as ’n bevestiging dat gemeenskappe, selfs in tye van verlies, steeds in staat is tot samehorigheid, sorg en hoop, en soos Jansen opmerk, wys dat Nederlanders weten van aanpakken.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top