Uitgewer doen regstappe teen onwettige verspreiding van De Ruyter se boek

  • 0

Die uitgewers van die voormalige Eskom-baas, André de Ruyter, se boek Truth to power gaan regstappe doen teen diegene wat voortgaan om elektroniese roofkopieë daarvan te versprei.

Penguin Random House (PRH) het Donderdag in ’n verklaring gesê hulle het hulle prokureurs opdrag gegee om waarskuwingsbriewe aan die verspreiders daarvan te stuur.

PRH sê hulle wil nie graag regstappe teen individuele lede van die publiek doen nie, maar die voorkoms van hierdie praktyk, nie net ten opsigte van hierdie boek nie, maar ook ten opsigte van ander, raak so wydverspreid dat dit hulle met geen keuse laat nie.

Onwettige kopieë van die boek word steeds versprei, veral op WhatsApp-groepe en ander sosiale-media-kanale, ten spyte van PRH se vroeëre waarskuwing dat hy die reg het om regstappe te doen en nie sal huiwer om dit te doen nie.

Enigiemand wat bewus is van die onwettige verspreiding van titels wat deur PRH gepubliseer is, word deur hulle versoek om dit aan reportpiracy@penguinrandomhouse.co.za te rapporteer, met die volgende inligting: naam, selfoonnommer, e-pos-adres, skermgreep as bewys van die verspreiding, asook skakels na die betrokke plasings. PRH sê hulle sal alle sulke verslae as vertroulik hanteer.

Steve Connolly, uitvoerende hoof van PRH, sê die onwettige verspreiding van kopieregbeskermde werke benadeel nie net PRH as ’n uitgewer nie, maar ook die baie mense wat ontelbare ure spandeer het om die werk te skep. “Dit sluit die skrywer, proeflesers, feitetoetsers, ontwerpers en die talle mense in wat op die uitgewersbedryf staatmaak vir hul bestaan. Dit sluit ook die publiek in, want die prys van boeke sal moet styg as wydverspreide kopieregskending die kommersiële waarde van die boek ondermyn.”

PRH sê daar is verskeie regsopsies wat hulle kan uitoefen en hulle is besig om dit saam met hulle prokureurs te ondersoek. Dit sluit die reg in om onwettige verspreiders te verbied om voort te gaan met hul verspreiding van die werk, en om hulle vir skadevergoeding te dagvaar.

Die Outeursregwet bepaal verder dat kopieregskending ’n misdryf kan uitmaak wat by skuldigbevinding met ’n boete of gevangenisstraf strafbaar kan wees. Die deel van ’n kopieregwerk sonder die kopiereghouer se toestemming is onwettig.

PRH sê dit is nie ’n ingewikkelde regsaangeleentheid nie en daar is geen ruimte vir misverstande by die publiek nie. “Die mense wat hierdie boeke deel, is oor die algemeen deeglik bewus daarvan dat hulle hierdie regte skend. Die persoon wat die werk deel, is nie die enigste skuldige party nie, maar ook diegene wat dit daarna lees of met ander deel.”

Volgens die uitgewers wil hulle nie hê dat die betreurenswaardige optrede van ’n paar individue die geweldige belangrikheid van Truth to power vertroebel nie, en beklemtoon aan diegene wat die elektroniese roofkopieë versprei dat PRH hierdie onwettige dade in ’n baie ernstige lig beskou.

Die skrywersorganisasie PEN Afrikaans het vroeër die week in ’n verklaring ook ’n beroep op die publiek gedoen om onder geen omstandighede deel te neem aan die onwettige verspreiding van die roofkopieë van elektroniese boeke nie.

Die organisasie sê die verspreiding van roofkopieë neem kos uit die monde van skrywers en werkers in die uitgewersbedryf. “Dit is baie ironies dat ’n boek wat handel oor korrupsie en diefstal nou na bewering op groot skaal gesteel word.”

PEN Afrikaans sê hulle wil dit baie graag op almal se harte druk dat ’n PDF van ’n boek onder geen omstandighede aan iemand anders gestuur mag word nie. Deur dit te doen, stel die deler haarself/homself bloot aan vervolging. “Die deler is in hierdie geval ewe verkeerd as die steler.”

Lees ook:

Persverklaring: PEN Afrikaans oor die onregmatige verspreiding van Truth to Power

Truth to power: ’n onderhoud met die uitgewer Marida Fitzpatrick

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top