Uitspraak tot Maandag voorbehou in Zuma versus Ramaphosa

  • 0

Suid-Afrikaners sal Maandag weet of president Cyril Ramaphosa later die maand in die hof moet verskyn om hom teen Jacob Zuma te verdedig.

Die kanse dat Zuma die politieke kaart van hom kan gebruik om te eis dat Ramaphosa moet opsy staan en sy amp moet ontruim, lyk volgens die meeste regskenners egter baie skraal.

Die saak hou verband met Zuma se beskuldiging dat Ramaphosa versuim het om op te tree teen die uitlek van vertroulike mediese inligting rakende Zuma toe hy daaroor gekla het.

Die Johannesburgse Hooggeregshof het Donderdag Ramaphosa se poging aangehoor om Zuma te verbied om voort te gaan met sy private vervolging teen hom.

Ramaphosa wil hê die hof moet ’n dringende tussentydse interdik uitreik en die kriminele aanklagte wat op 19 Januarie begin, tersyde stel

’n Volbank regters het die saak Donderdag aangehoor en uitspraak tot Maandag voorbehou. Regter Sutherland het gesê die regbank sal Maandag om 09:30 uitspraak lewer.

Zuma beweer dat Ramaphosa aandadig was aan misdade wat volgens hom deur onder meer advokaat Billy Downer gepleeg is, wat volgens hom die wet op Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oortree het.

Zuma beskuldig Downer daarvan dat hy sy vertroulike mediese rekords aan die joernalis Karyn Maughan uitgelek het tydens sy wapentransaksiekorrupsieverhoor.

Hy beweer Ramaphosa het hom nie bygestaan ​​toe hy by die Departement van Justisie daaroor gekla het nie.

Ramaphosa se regspan het Donderdag in die hof herhaal dat die poging van Zuma om hom privaat te vervolg “onregmatig, ongrondwetlik en ongeldig is omdat dit nie aan die jurisdiksievereistes vir ’n geldige private vervolging voldoen nie”.

Lawson Naidoo, uitvoerende sekretaris van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac), het aan die radiostasie Cape Talk gesê die kanse dat daar enige gronde is waarop Zuma enige kriminele aanklagte teen  Ramaphosa kan lê, is uiters skraal. Die beweerde kriminele optrede is volgens hom regtig flou en hy meen dit is duidelik deel van Zuma se breër Stalingrad-strategie om sy korrupsiesaak te vertraag.

Zuma wil hê dat Billy Downer uit die vervolgingspan verwyder word sodat die verhoor in duie kan stort.

Zuma se advokaat, Dali Mpofu, het tydens Donderdag se hofsaak ontken dat Ramaphosa se aansoek om ’n interdik teen die Zuma-dagvaarding te bekom dringend is.

Hy sê indien dit die geval was, sou Ramaphosa baie gouer regstappe gedoen het. Ramaphosa se prokureurs het wel aan Zuma se prokureurs geskryf om hom te versoek om die dagvaarding terug te trek, wat volgens hulle gebrekkig was.

Hy wil hê Ramaphosa moet “soos enige ander persoon teen wie daar ’n klagte ingedien word”, op 19 Januarie in die hof verskyn om daarop te pleit.

Ramaphosa voer aan dat hy geen betrokkenheid gehad het by Downer se beweerde bekendmaking van openbaar beskikbare hofstukke aan die joernalis nie en eers daarvan bewus gemaak is nadat Zuma aan hom daaroor geskryf het. Hy het toe die saak na Ronald Lamola, die minister van justisie, verwys.

Casac is vol vertroue dat Ramaphosa se dringende interdik teen Zuma se private vervolging sal slaag.

Naidoo sê die aanklagte wat teen Ramaphosa gemaak is, is niks anders as nog ’n poging om Zuma se bedrog- en korrupsieverhoor verder te probeer vertraag nie.

Hy het aan die radiostasie gesê Zuma se poging om sy verhoor te stuit kan behoorlik tydens die verhoor self geopper word en behoort daar te geskied. Hy meen die huidige saak is ’n belediging vir die hofproses en ’n misbruik van die regsproses, want daar is ’n baie skraal moontlikheid dat daar enige kriminele aanklagte hieroor teen Ramaphosa gelê sal kan word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top