Die meerderheid Suid-Afrikaners is sterk gekant teen uniseks toilette wat in openbare plekke soos lughawens deur mans en vrouens gedeel word.
Dit blyk uit die stortvloed negatiewe reaksies op ’n voorstel van die DA se leier in die Wes-Kaap, Bonginkosi Madikizela, dat aparte toilette vir mans en vrouens in openbare plekke afgeskaf moet word.
Foto: Pixabay.com
’n Inskrywing hieroor wat Madikizela op Facebook geplaas het, het aanleiding gegee tot ’n heftige debat op sosiale media oor afsonderlike toilette vir mans en vrouens.
Madikizela het op Facebook geskryf hy dink dit is agterlik, diskriminerend en stereotiperend dat net omdat iemand ’n man is, hy deur ’n man deursoek moet word.
..........
“Wat ’n absolute idiotiese gedagte om openbare uniseks toilette te hê. In watter land leef jy?” – Samuel Roelof van Wyk
..........
“As jy ’n vrou is, moet jy deur ’n vrou op die lughawe deurgesoek word – wat van lede van die LBGTQI+-gemeenskap? Ek gaan hierdie gebruik uitdaag. Ons moet ook wegdoen met toilette vir mans en vroue, ons moet uniseks toilette hê,” het hy geskryf.
Die idee dat mans en vroue nie noodwendig deur iemand van dieselfde geslag deursoek mag word nie, het aansienlik minder reaksies uitgelok as sy pleidooi vir uniseks toilette.
Wat betref die deursoeking van mans en vroue wou Madikizela van sy kritici weet wat hulle voorkeur is wanneer hulle ’n masseersalon besoek. Verkies hulle dan steeds iemand van dieselfde geslag?
Dit was egter sy pleidooi vir geslagsneutrale toilette wat mense aan die gons gehad het. Hoewel daar ook steun was vir sy standpunt, het baie mense gemeen dit is gevaarlik om uniseks toilette in openbare plekke te hê en dat dit die kanse op verkragting verhoog.
“Wat ’n absolute idiotiese gedagte om openbare uniseks toilette te hê. In watter land leef jy? Dit sal vroue nie veiliger maak nie. Dit sal verkragting en aanranding aanmoedig. Jy moet regtig meer verantwoordelik wees. Dit mag dalk jou persoonlike mening wees, maar jy is ’n leier en mense kyk op na jou. Wel, dalk nie meer nie,” het Samuel Roelof van Wyk sy teenkanting oor die voorstel op Facebook verwoord.
Madikizela stem nie daarmee saam nie. “By die huis maak almal gebruik van uniseks toilette wat ook deur besoekers gebruik word wat nie familie van ons is nie. By ons party se hoofkantoor in Bruma, Johannesburg gebruik ons uniseks toilette. Beteken dit dat dit die kanse vir verkragting verhoog? Ek dink nie so nie,” het hy op Facebook geskryf.
Nyx McLean van die werkgroep oor geslagsgelykheid by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) sê geslagsgelyke badkamers is ’n belangrike stap vorentoe om te voorsien in die behoefte van transgender mense en diegene met diverse seksuele oriëntasies wat nie mans- of damestoilette wil besoek nie.
I recently provided commentary in this article by @MarvinCharles17 on the importance of gender-neutral bathrooms https://t.co/A6LgsCQRvP @nTyolwana @CPUT @johannescronje
— Dr Nyx McLean (@NyxMcLean) January 21, 2020
Hy het aan The Cape Argus gesê geslagsneutrale toilette help ook die res van die LGBTIAQ+-gemeenskap om veilig te voel wanneer hulle geslagsuitdrukking beleef word as in stryd met die gewone binêre keuses wat beskikbaar is.
Hy erken die besorgdheid wat daar by sommige mense mag bestaan oor veiligheid en die persepsie dat geslagsneutrale toilette sekere mense meer vatbaar vir geweld mag maak deur sekere elemente in die samelewing.
Die huidige standaardbenadering is volgens hom om vier opsies te hê, naamlik toilette vir mans, vrouens, geslagsneutrale persone en gestremde persone. Hy sê diegene wat nie gemaklik is met uniseks geriewe nie, kan dan gebruik maak van geriewe wat reeds toegewys is aan slegs mans of slegs vroue.
Wat deursoekings op lughawens betref, sê McLean daar is reeds standaarde om te help dat mense gemaklik is wanneer hulle deursoek word. Hy stel voor daar kan ook kennisgewings by lughawens aangebring word wat mense ’n keuse sal bied of hulle deur ’n man of ’n vrou deursoek moet word.
Madikizela het op navraag aan Netwerk24 gesê hy het slegs sy persoonlike mening gelug. Hy sê hy is geregtig daarop om dit te doen en dit beteken nie hy het ’n veldtog ten gunste daarvan begin nie.
Buro: MvH