Die studente-organisasie StudentePlein sê hulle gaan dié week verdere onthullings en eedsverklarings publiseer wat glo wys dat daar vanjaar selfs nog meer gediskrimineer is teen studente op Stellenbosch wat Afrikaans in koshuise wou praat as in 2021.
Dit volg nadat die Menseregtekommissie (MRK) bevind het dat die US die menseregte van Afrikaanssprekende studente geskend het toe die universiteit ’n slegs-Engels-beleid in sekere koshuise geïmplementeer het gedurende die 2021-verwelkomingstydperk.
Hierdie oortredings is na bewering gedurende die 2023-verwelkomingstydperk herhaal. StudentePlein het Woensdag in ’n verklaring gesê hulle gaan ’n klag daaroor by die US-ombudsman indien in ’n poging om interne remedies eers by die US uit te put.
Ons verwelkom die MRK se verslag, vanoggend gepubliseer, wat @StellenboschUni skuldig bevind aan onbillike inbreukmakings op taalregte- en vryhede en vryheid van spraak d.m.v. hul slegs-Engels beleid.
Lees ons verklaring hier:https://t.co/34LQOx1Q1s
— StudentePlein (@StudentePlein) March 15, 2023
“Indien die Ombud se kantoor nie effektiewe regstellende stappe teweeg kan bring nie, sal StudentePlein, ook aan die hand van die MRK se ondubbelsinnige bevindings vandag, die kwessie eskaleer tot ’n regsgeding,” lui die verklaring.
In die MRK se verslag wat Woensdag bekend gemaak is, word onder meer beveel dat die US skriftelik om verskoning moet vra vir die debakel.
Media Advisory: Release of the South African Human Rights Commission’s Investigative Report into Allegations of Unconstitutional Language Practices at Certain Stellenbosch University Residences https://t.co/mETWwPtN88
— SAHRCommission (@SAHRCommission) March 15, 2023
Die verslag het bevind dat die rektor, Wim de Villiers, in die openbaar ’n geskrewe verskoning moet publiseer wat erken dat die menseregte van Afrikaanse studente geskend is en onderneem om stappe te doen wat sal verseker dat geen student ooit weer verhoed word om enige taal te praat nie.
De Villiers moet ook persoonlik aan alle koshuisleiers skryf met ’n opdrag dat geen beleid van “slegs Engels”, of enige soortgelyke beleid, toegepas mag word nie.
Die Vryheidsfront Plus en die DA, wat albei klagtes by die MRK ingedien het oor die beweerde verbod op Afrikaans by die US, het Woensdag in afsonderlike verklarings albei krediet opgeëis vir die uitspraak. Hulle het die uitspraak namens hulle onderskeie partye as ’n oorwinning vir Afrikaans bestempel.
Die VF Plus wat die eerste klaer in die saak was sê dit is ’n groot oorwinning vir Afrikaans in die algemeen. Volgens Heloïse Denner van die VF Plus se verklaring was dit haar party wat ’n groot slag vir Afrikaans geslaan het met MRK-uitspraak oor Afrikaans by US.
VF PLUS SLAAN NOG 'N SLAG VIR AFRIKAANS! ????https://t.co/1sW1RWbpqu
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) March 15, 2023
In hulle verklaring maak die DA daarop aanspraak dat dit hulle was wat die saak gewen het. Die party se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, Leon Schreiber, sê: “In ’n reuse-oorwinning vir taalregte het die Demokratiese Alliansie (DA) ons saak by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) teen die verbod op Afrikaans aan koshuise van die Universiteit Stellenbosch (US) gewen.”
In ‘n reuse slag vir taalregte wen die DA ons MRK-saak teen die verbod op Afrikaans aan die US. Dit volg nadat die DA vir Blade Nzimande dwing om Afrikaans as inheems te erken, en die ANC se plan om die Afrikaanse Taalmonument se naam te verander, stuit. Die DA kry dinge gedoen! pic.twitter.com/EsNJPpSIMy
— Democratic Alliance (@Our_DA) March 15, 2023
Albei die partye was klaers in die saak.
In hulle verslag bevestig die MRK dat die US menseregteskendings gepleeg het teen Afrikaanssprekende studente deur die implementering van ’n beleid van “slegs Engels” in sekere koshuise tydens die 2021-verwelkomingstydperk.
Een van die WhatsApp-boodskappe tydens die verwelkomingtydperk wat as bewys voor die kommissie gedien het, lui: “Hi everyone!! PLEASE PLEASE PLEASE remember to speak English to newcomers and their parents!! Even if they’re speaking Afrikaans to you, please revert to English. Thank you Team.”
Die kommissie sê in sy verslag hierdie boodskap sonder Afrikaans duidelik en eksklusief uit as ’n taal wat nie tydens die verwelkomingstydperk gepraat mag word nie, selfs al het nuwelinge en hul ouers verkies om in Afrikaans te praat wanneer hulle die leierskap van Irene Koshuis aanspreek of vrae vra.
Die kommissie sê die boodskap is ook duidelik nie ’n blote versoek nie, gegewe die oordrewe gebruik van hoofletters, herhaalde woorde en uitroeptekens, maar ’n herhaling van ’n ooreengekome benadering wat die koshuis moes volg.
Luidens die verslag het De Villiers in sy reaksie gesê wat gebeur het, was nie universiteitsbeleid nie. Hy het nogtans erken dat hy bewus was van die opdrag om Afrikaans in die verwelkomingtydperk te verbied.
Volgens die MRK kan die beleid wat koshuise toepas, nie geskei word van universiteitsbeleid nie. Die US kan hom daarom nie distansieer van dit wat mét sy wete in die koshuise gebeur het nie.