Die Universiteit Stellenbosch (US) en die bestuur van die universiteit se konvokasie stamp alweer koppe oor die hersiening van die US se taalbeleid.
Dit volg nadat die US belangstellendes genooi het om kommentaar te lewer op die tweede konsepweergawe, wat tot 14 Augustus 2021 op die US se taalwebblad beskikbaar is.
Die voorsitter van die konvokasie, Jan Heunis, beskuldig die universiteit daarvan dat hulle nie hul woord gestand gedoen het dat daar konstruktiewe samewerking tussen die universiteit en ander belangegroepe soos die konvokasie sou wees voordat die tweede konsepweergawe vir kommentaar gepubliseer word nie.
Heunis het aan Voertaal gesê nou word hy as president van die konvokasie soos alle ander alumni genooi om op die universiteit se webblad kommentaar te lewer sonder die beloofde konstruktiewe gesprek vooraf. Volgens hom is dit strydig met die US se eie weergawe van wat afgespreek was.
In ’n brief aan Deresh Ramjugernath, viserektor: leer en onderrig, sê Heunis daar het niks tereg gekom van die konvokasie se versoek vir konstruktiewe samewerking nie.
Heunis sê dit is waarskynlik omdat die konvokasie konsekwent die standpunt inneem dat die taalbeleid voorsiening moet maak vir die gelykberegtiging van Afrikaans en Engels as primêre tale van onderrig en ’n saakmakende bydrae tot die ontwikkeling van Xhosa as ’n wetenskaptaal. Volgens Heunis staan hierdie standpunt van die konvokasie lynreg in stryd met die bestaande taalbeleid én die tweede konsepweergawe van die hersiene beleid.
Die US hersien vanjaar sy Taalbeleid (2016) as deel van die hersieningsiklus van elke vyf jaar soos wat in dié beleid voorgeskryf word. Paragraaf 10 bepaal dat die beleid “vyf jaar ná die implementeringsdatum daarvan verval” en “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar hersien moet word”, aldus www.sun.ac.za. Die huidige beleid het aan die begin van 2017 in werking getree.
In ’n uitnodiging aan die breë Stellenbosch-universiteitsgemeenskap om op die tweede konsep kommentaar te lewer, het Ramjugernath gesê dat die US se verbintenis tot meertaligheid “daarop ingestel is om mense ’n stem te gee, ongeag die taal wat hulle praat”, aldus www.sun.ac.za.
“Dit spreek tot die diversiteit van ons land en stel ons in staat om met mekaar om te gaan op maniere waarop ons nie andersins sou kon nie. Deur hul daaglikse blootstelling aan meertaligheid en respek vir mekaar se kultuurerfenis en taal op US-kampusse ontwikkel studente graduandi-eienskappe wat hulle tot betrokke landsburgers slyp met die vaardighede en ingesteldheid om saam te werk aan samebindende en verdraagsame gemeenskappe binne ’n diverse samelewing,” het hy gesê.
In ’n brief wat hy op 22 Julie aan Heunis geskryf het, nooi Ramjugermath hom uit om op die digitale platform kommentaar op die hersiene taalbeleid te lewer. Die US ontken dat hulle ingestem het tot ’n vergadering vóór die publikasie van die tweede konseptaalbeleid en sê Heunis het ook nie daarvoor gevra nie.
Heunis hou egter vol hy het wel versoek dat alvorens die tweede konsep gepubliseer word vir kommentaar, daar ’n geleentheid gereël moes word waartydens die konvokasie se uitvoerende komitee en die US se bestuur en/of die taakspan vir die Taalbeleidhersiening ’n sinvolle gesprek oor die tweede konseptaalbeleid sou voer.
Die US sê in die tweede konsepweergawe hulle is verbind tot die omgang met kennis in ’n diverse samelewing. “Die Taalbeleid beoog om uitvoering te gee aan artikel 29(2) van die Suid-Afrikaanse Grondwet en die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings (2020) wat betref taalgebruik in die Universiteit se akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste.”
Die beleid beoog volgens die US om billike toegang tot die universiteit vir alle studente en personeellede uit te brei, meertaligheid én waardering vir meertaligheid te bevorder, en pedagogies verantwoordbare leer en onderrig te fasiliteer. Sonder om uit die oog te verloor dat die US ook gemeenskappe oor die vasteland en die wêreld heen bedien, verbind die US hom tot meertaligheid deur die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa, te gebruik.
Ramjugernath sê in sy brief aan Heunis die universiteit is op koers om die hersiene Taalbeleid (2021) by die raadsvergadering op 2 Desember vanjaar vir goedkeuring voor te lê.
- Lees hier meer oor die hersiening van die US se 2016-Taalbeleid.