Universiteit van Fort Hare word glo deur ANC gekaap

  • 0

Verskeie senior lede van die ANC is na bewering betrokke by ’n bedrogspul met grade wat sedert 2013 deur die Universiteit van Fort Hare (UFH) aan hulle uitgereik is.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle kwalifikasies op onwettige wyse van die universiteit verkry het.

Die beweerde bedrogspul is glo reeds in 2021 oopgevlek, maar feitlik niks is nog gedoen om enigiemand aan die pen te laat ry nie.

Dit het aanvanklik gedraai om ’n gediskrediteerde professor, Edwin Ijeoma, wat die Oos-Kaapse premier Oscar Mabuyane en voormalige Oos-Kaapse LUR vir gesondheid, Sindiswa Gomba, na bewering onreëlmatig by die universiteit toegelaat het.

Mabuyane is glo in ’n skandaal gewikkel oor sy poging om hom vir ’n PhD-graad in openbare administrasie aan UFH in te skryf.

Luidens ’n forensiese verslag wat News24 bekom het, word gesê dat Mabuyane die hulp van die bogenoemde Edwin Ijeoma en sy span spookskrywers ingeroep het om sy navorsingsvoorstel en ander sleuteldokumente saam te stel en in te dien.

In Oktober 2020 het UFH Ijeoma op ’n voorsorgbasis geskors nadat bewerings opgeduik het dat hy Gomba onregmatig vir ’n honneursgraad in openbare administrasie ingeskryf het.

Suid-Afrika se minister van staatsdiens en administrasie, Noxolo Kiviet, word ook deur beskuldigings van bedrog by die universiteit in die gesig gestaar. In ’n beëdigde verklaring wat by die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ingedien is, word Kiviet daarvan beskuldig dat sy haar honneurs- en meestersgrade verwerf het ten spyte daarvan dat sy nie ’n voorgraadse kwalifikasie het nie.

Toe Kiviet vir haar honneursgraad geregistreer het, het sy volgens News24 net ’n matrieksertifikaat en ’n kortkursussertifikaat met handgeskrewe uitslae gehad.

Die DA eis nou van die ANC dat daar ’n interne oudit gedoen word van al sy openbare verteenwoordigers met grade wat sedert 2013 aan UFH behaal is.

Die DA se skaduminister vir hoër onderwys, Chantel King, sê ’n onlangse ondersoek wat by UFH gedoen is, het die vlak van politieke inmenging deur die ANC in die Fakulteit van Publieke Administrasie by die Bisho-kampus aan die lig gebring.

King sê in ’n verklaring gegewe die aantal senior ANC-lede wat na bewering in die kwalifikasieskandaal by die universiteit betrokke is, insluitend Kiviet, Mabuyane en nou Buffalo City se burgemeester, Princess Faku, is dit duideliker as ooit dat die ANC ’n party is met ’n diepgewortelde kultuur van korrupsie.

Die DA sê die infiltrasie van die ANC-politici by hoëronderwysinstellings toon ’n blatante verontagsaming van betekenisvolle transformasie in die sektor, asook blyke van die verontagsaming van die opofferings wat daagliks gemaak word deur studente wat hul lewens deur onderwys wil verbeter en die siklus van armoede wil verbreek.

Intussen het UFH bevestig dat alle interne en eksterne ondersoekverslae, sowel as fisiese, forensiese en digitale bewyse, etlike weke gelede aan die SOE oorhandig is in verband met die ernstige akademiese bedrog wat in die Departement van Publieke Administrasie by die Bisho plaasgevind het.

King sê in haar verklaring die DA wag geduldig op die afsluiting van die SOE-ondersoek. Sy sê intussen moet president Ramaphosa vir Kiviet skors totdat die SOE-ondersoek afgehandel is.

“Ons sal nie die kaping van hoëronderwysinstellings deur die ANC toelaat soos wat met staatskaping in hierdie land gebeur het nie.”

Die ANC se hoofsweep in die provinsiale wetgewer, Loyiso Magqashela, het volgens die SAUK die naweek aan joernaliste gesê die Oos-Kaapse ANC provinsiale koukus sal geen stappe doen teen sy lede wat daarvan beskuldig word dat hulle kwalifikasies op onwettige wyse van UFH verkry het alvorens daar formele klagtes teen hulle ingedien is en die beskuldigdes in die hof verskyn het nie.

Hy het toegegee dat bewerings van senior partylede wat op bedrieglike wyse grade verwerf het, die ANC in ’n negatiewe lig stel, maar sê dit sal voortydig wees om teen van die party se lede op te tree voordat daar formele klagtes teen hulle gelê is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top