Universiteit van KZN met hof gedreig oor beweerde rassediskriminasie

  • 0

Die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) word met regstappe gedreig indien dié instelling nie die verskil in toekennings van beurse en genootskappe op grond van ras kan regverdig nie.

Dit volg ná die universiteit se fakulteit vir gesondheidswetenskappe glo beurse en genootskappe geadverteer het wat verskillende waardes vir verskillende rasse daaraan gekoppel het.

Die dreigement om die universiteit hof toe te neem indien hulle nie wegdoen met afsonderlike vereistes vir verskillende rasse nie, kom van die vakbond Solidariteit.

Volgens Solidariteit lui die universiteit se advertensie dat beurse toegeken word aan “swart Suid-Afrikaanse burgers” vir meesters- en doktorale studie, onderskeidelik ter waarde van R120 000 en R60 000. In teenstelling hiermee is die beurse wat aan “ander Suid-Afrikaanse burgers” toegeken word, onderskeidelik slegs R80 000 en R45 000 bedra. Genootskappe by hierdie fakulteit word glo op soortgelyke wyse toegeken.

Solidariteit sê in ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is, dit is onaanvaarbaar om in ’n land soos Suid-Afrika, waar werkloosheid deurgaans toeneem, studente en jongmense te straf omdat hulle nie swart is nie.

“Dit gaan die verstand te bowe om te dink dat ’n universiteit, ’n instelling wat juis behoort te verstaan hoe belangrik hoër onderwys is, só kan redeneer,” meen Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit.

“Asof dit nie genoeg is om beurse van verskillende waardes toe te ken op grond van ras nie, bied die fakulteit ook betaalde genootskappe aan waar verskillende salarisse vir verskillende rasse sal geld – nie op grond van nood of sosio-ekonomiese omstandighede nie, maar bloot op grond van velkleur.”

Volgens Solidariteit word postdoktorale genootskappe deur die UKZN geadverteer, met ’n  jaarlikse salaris van R320 000 vir “swart Afrikane” terwyl “ander Suid-Afrikaners” wat in dieselfde pos aangestel word, slegs R280 000 per jaar sal verdien.

“Die universiteit voer hierdie onbillike diskriminasie selfs verder deur te probeer om selfs salarisse op grond van ras te bepaal. Solidariteit se regskrywe maak dit duidelik dat die universiteit met antwoorde na vore moet kom. Indien die universiteit nie bevredigende antwoorde voor 4 Mei 2023 lewer nie, sal ons hulle voor die hof daag en hulle dwing om regverdigheid aan die orde van die dag te stel,” het Van der Bijl gesê.

UKZN is in Januarie 2004 gevorm nadat die Universiteit van Natal en die Universiteit van Durban-Westville saamgesmelt het. Die instelling bied verskeie programme op verskillende vlakke en gebiede aan.

Die doelwitte van die universiteit is volgens die instelling se webwerf onder meer om “Afrika-geleide globalisering deur Afrika-wetenskap te bevorder” deur die universiteit deur sy onderrig, leer, wetenskap, navorsing en vernuwing te posisioneer om die globale kennisstelsel daardeur te betree.

Dit is nie die enigste regstryd wat Solidariteit tans beoog teen wat hulle bestempel as onbillike rasseteikens nie.

Solidariteit het verlede week in ’n verklaring  aangedui dat hulle hulle ook gereed maak vir ’n enorme regstryd oor die nuwe Wet op Diensbillikheid. Dit volg nadat Cyril Ramaphosa, dié wet verlede week bekragtig het.

Volgens Solidariteit verleen hierdie wetgewing drakoniese rassemagte aan die betrokke minister. Solidariteit se regspan het reeds begin voorberei vir litigasie en het aangedui dat hy sy hofstukke binnekort sal beteken.

“Die minister kan nou sentrale rassebeplanning op grond van eie diskresie doen. Dit sal die mees ingrypende rasmanipulerende wetgewing ter wêreld wees. Na verwagting sal die privaat sektor die voorbeeld van die staat moet volg. Privaat ondernemings sal staatsbestuurde rasse-ondernemings word,” sê Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, in sy verklaring.

Solidariteit meen dat dié wet ongrondwetlik is en dat dit direk strydig is met ’n vroeëre bevinding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) wat daarop dui dat Suid-Afrika se rassewetgewing, selfs in die huidige formaat, ongrondwetlik is en nie met internasionale norme en waardes strook nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top