Universiteite in Suid-Afrika wat studente en dosente wil verplig om hulle teen COVID-19 te laat inent, kry al hoe meer die wind van voor.
Vakbonde, studenteorganisasies en politieke partye is in opstand teen planne om studente te dwing om hulle te laat inent.
By die Universiteit van die Vrystaat (UV) moes die polisie ingryp toe studente teen verpligte inenting betoog het.
Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (SAFTU) het sy steun gegee aan studente wat teen verpligte inenting by die UV betoog. Dit nadat die studente die strate ingevaar het uit protes teen die universiteit se inentingsbeleid.
Drie betogers, insluitend twee studente, is oor die naweek in hegtenis geneem. Volgens berigte word studente en ander persone wat nie bewys van inenting kan lewer nie, toegang tot die kampus geweier. SAFTU se woordvoerder, Trevor Shaku, sê sommige studente kla daar was geen reaksie op hulle aansoek vir uitsondering nie.
The South African Federation of Trade Unions (SAFTU) has put its support behind students protesting against mandatory vaccination at the University of the Free State. #mandatoryvaccinationhttps://t.co/0yg5UNgH4I
— SABC News (@SABCNews) February 21, 2022
Shaku het aan die SABC gesê hoewel die universiteit aangedui het dat studente kan aansoek doen vir vrywaring of ’n tydelike permit om toegang tot die kampusse te kry, kla sommige studente dat hulle geen reaksie op hulle aansoeke ontvang nie. Studente het ’n beroep gedoen dat die universiteit se Covid-regulasies en -inentingsbeleid hersien moet word.
Die Noordwes-Universiteit het die naweek ontken dat hulle studente verplig om hulle te laat inent en sê studente moet liewer aansoek doen om vrystelling.
Volgens Shaku toon verslae dat die US studente en ander persone wat nie bewyse van inenting het nie, toegang tot sy kampusse weier.
Die vakbond Solidariteit het reeds met regsoptrede begin om universiteite te verhoed om studente en dosente te verplig om hulle te laat inent.
Solidariteit se Anton van der Bijl sê hulle is nie teen entstowwe nie, aangesien hulle inenting as ’n redelike tussentydse ingryping beskou.
“Ons is teen die outokratiese kombersbenadering wat deur die universiteit gevolg word. Ons sê en argumenteer in die hofstukke dat as jy ’n verpligte inentingsbeleid implementeer, dan het jy ’n behoorlike risiko-evaluering nodig wanneer jy na elke individu in die werkspasie en elke aktiwiteit kyk; daarna kan jy kyk of daar ’n moontlikheid is dat entstowwe moet verpligtend wees,” verduidelik van der Bijl.
Solidariteit Unie het ’n Hooggeregshofaansoek teen die UV se beleid van verpligte inenting ingedien. Hulle sê die beleid is onwettig.
Die Demokratiese Alliansie Studente-organisasie (DASO) aan die UV sê hy ondersteun inenting ten volle, maar is gekant teen die beleid soos in November verlede jaar deur die universiteitsraad goedgekeur.
Die Nasionale Vryheidsparty se parlementêre leier, Ahmed Shaik-Emam, sê ook inenting moet nie verpligtend gemaak word in die afwesigheid van ’n regeringsbeleid nie. Hy sê onvoldoende bewusmakingsveldtogte deur gesondheidsowerhede en kundiges is die kern van die probleem waarom mens hulle nie wil laat inent nie.
Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het ’n beroep gedoen op hoëronderwysinstellings om dieselfde respek te bied aan studente en werkers wat dalk nie wil inent nie.
Die kommissie sê in ’n verklaring daar moet erken word dat COVID-19 ’n relatief nuwe pandemie is en dat wetenskaplikes in Suid-Afrika en regoor die wêreld steeds besig is om die langtermyneffekte van entstowwe te evalueer. “Dit is meer kritiek vir vroue wat menstruele gesondheid, voorbehoedmiddels en seksuele voortplanting moet bestuur as deel van hul voortplantingsgesondheid.”
Die kommissie waarsku dat mandate vir verpligte inenting nie Suid-Afrika se Grondwet en sy bepalings vervang nie. “Artikel 12 (2) van die Grondwet bepaal dat elkeen die reg het op liggaamlike en psigologiese integriteit, wat die reg insluit om nie sonder hul ingeligte toestemming aan mediese of wetenskaplike eksperimente onderwerp te word nie.”
Daar word tans wêreldwyd gedebatteer oor die etiek van verpligte inenting. Lees hier op LitNet meer oor die etiek van verpligte inentings.