Universiteite wat hulle studente en personeel wil verplig om hulle teen COVID-19 te laat inent, kan ernstige teenstand uit sekere oorde verwag en selfs in die hof beland.
Studente aan Rhodes-Universiteit is reeds ingelig dat dit volgende jaar verpligtend word vir studente aan die universiteit om hulle te laat inent. Die Universiteit Kaapstad (UK), die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit Johannesburg (UJ) het ook reeds te kenne gegee hulle ondersoek die moontlikheid om inenting verpligtend te maak.
Die UK sê in dié stadium is dit nog net ’n voorstel om inentings verligtend te maak en daar sal volgende maand finaal besluit word of dit ’n werklikheid gaan word.
Die US sê net soos talle ander instellings en organisasies in Suid-Afrika en die res van die wêreld ondersoek hulle tans ook die moontlikheid om inentings verpligtend te maak. ’n Taakspan is aangestel om ’n risikobepaling te doen van die verskillende faktore wat hierby betrokke is vir personeel en studente aan die US.
“Dit is nodig in ooreenstemming met ’n voorskrif oor gesondheid en veiligheid wat die Departement van Indiensneming en Arbeid in Junie vanjaar uitgevaardig het. Die uitkoms van die risikobepaling sal rigting gee aan ons inentingsbeleid. In die tussentyd wil ons julle asseblief vra om die verantwoordelike ding te doen en so gou as moontlik ten volle ingeënt te word,” sê die US op hulle webwerf.
Die vakbond Solidariteit het egter ten sterkste beswaar gemaak teen verpligte inentings. Hulle dreig met regsoptrede indien dit by universiteite toegepas sou word.
Die National Education, Health and Allied Workers' Union (Nehawu) sê in ’n verklaring soveel as wat hulle lede aanmoedig om hulle te laat inent, is hulle van mening dat verpligte inenting nie lewensvatbaar is of help nie en eerder groter weerstand uitlok.
Nehawu sê hulle is ten volle bewus van wat die pandemie aan die personeel en familie in die algemeen gedoen het, maar ondersteun nie verpligte inenting nie. Hulle meen mense moet liewer oorreed word om hulle te laat inent.
Volgens Solidariteit is die beleid van verpligte inenting “onwettig”. Hulle sê in ’n verklaring dit bedreig ook die lewensbestaan van werknemers by die universiteit en diskrimineer teen alle studente wat om watter rede ook al die inenting sou weier.
Solidariteit het verlede week ’n regskrywe in hierdie verband aan die UK gestuur.
“As ’n openbare liggaam moet die universiteit aan verskeie stelle wetgewing en regsbeginsels voldoen. Hierdie beleid is strydig met bykans alle vorme van regulasie waaraan die universiteit onderworpe is,” sê Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug. “Hierdie beleid is gewoon irrasioneel en onbillik. Dit verteenwoordig uit die staanspoor ’n enorme inbreukmaking op die grondwetlike regte van studente sowel as werknemers van die universiteit.”
Solidariteit voer verder aan dat dit ondenkbaar is vir die universiteit om so ’n beleid op hierdie tydstip in die jaar uit te vaardig.
“Studente en voornemende studente het in hierdie stadium van die jaar reeds ver gevorder met die aansoekproses vir aanstaande jaar. Hierdie beleid veroorsaak dat talle studente op kort kennisgewing nou na alternatiewe gaan moet kyk, waar dit dikwels reeds te laat is om so iets te doen. Die beleid wysig as’t ware die universiteit se toelatingsvereistes en die UK is nie by magte om lukraak sommer net aan sulke voorvereistes te torring nie,” het Maritz gesê.
’n Universiteitsdosent, Jakobus Erasmus, het op Solidariteit se webwerf reageer en sê hier verskil hy met Solidariteit. “Ek werk as ’n lektor. Ek is nie bereid om ’n groep van 30, 40 of selfs 50 studente rondom my te hê tydens ’n praktiese demonstrasie nie en dit terwyl van hulle nie ingeënt is nie. Studente kom klop aan jou deur vir ekstra hulp. Hulle staan teen aan jou!” sê Erasmus.
Lees ook:
Jy kán gefire word as jy nie ingeënt is nie
Feite: Die mediese wetenskap werk