US-rektor se "bejammerenswaardige" optrede is nie wangedrag nie

  • 0

Die feit dat die Universiteit Stellenbosch (US) se rektor en visekanselier, Wim de Villiers, nie kon voorsien dat enige diskresionêre plasing van ’n familielid kon of sou lyk soos gunsbetoon nie, is bejammerenswaardig en dui op ’n gebrek aan etiese insig.

So sê die komitee wat deur US se raad aangestel is om bewerings van nepotisme teen De Villiers te ondersoek nadat familielede van sy vrou akademiese plasings by US gekry het.

Die komitee het terselfdertyd bevind daar was geen ernstige wangedrag deur die rektor (ingevolge artikel 42(3) van die US Statuut) wat tot die opheffing van sy amp kan lei nie: “Hy het nie ’n reël of beleid van die Universiteit verbreek of oneerlik opgetree deur die rektor se diskresionêre plasings (RDP’s) nie en gevolglik is daar nie ’n onherstelbare vertrouensbreuk tussen die US en die Rektor wat sy voortgesette indiensneming belemmer nie.”

Die raad sê in ’n verklaring dit was wel ’n bejammerenswaardige oordeelsfout van De Villiers om twee familielede aan die hand van die RDP te plaas sonder om die etiese implikasies daarvan te besef.

“Die plasing van die twee familielede van sy vrou en De Villiers se hantering van die plasings, asook die aandag wat hierdie aangeleentheid gelok het, het kollegas se vertroue in hom geskaad.”

US se raad het die afgelope Saterdag vergader om die Lewis-komitee se verslag te bespreek. Die raad het ná ’n breedvoerige gesprek besluit om die wantrouemosie teen die rektor eenparig te verwerp.

Afdeling 42(3) van die US Statuut bepaal dat die raad die rektor van sy amp mag onthef met ’n tweederdesmeerderheidstem van al die raadslede op grond van ’n ernstige oortreding van die reg, ernstige wangedrag, ongeskiktheid of versuim om aan operasionele vereistes te voldoen.

Wat bewerings van oneerlikheid betref, is bevind dat De Villiers sy verbintenis met die twee kandidate aan ’n senior kollega verklaar het voordat plekke aan hulle toegewys is. Die advies aan hom was dat hy op grond van die diskresie wat aan hom verleen is, wel die plasings kon uitvoer. Daar is geen bewys – ook nie wanneer die situasies teenoor mekaar opgeweeg word – dat die rektor oneerlik opgetree het met die bedoeling om misleidend te wees of ’n posisie verkeerdelik weer te gee nie.

Die rektor het erken dat sy optrede, asook die aandag wat dit gelok het, kollegas se vertroue in hom geskaad het en gesê hy sal daaraan werk om die vertroue te herstel.

Die voorsitter en ondervoorsitter van die raad sal die uitkoms van die raadsvergadering en die toepaslike finansiële gevolge oorweeg wanneer hulle die rektor se prestasiebeoordeling vir 2022 finaliseer.

Die proses om die riglyne vir die RDP’s, die beleide oor botsende belange en nepotisme, asook verwante beleide te hersien, moet ook versnel word, sodat alle belanghebbendes duidelikheid het oor hoe diskresionêre akademiese én koshuisplasings in die toekoms hanteer sal word.

Totdat hierdie hersiening afgehandel is, mag geen nuwe diskresionêre plasings (akademies én in koshuise) plaasvind nie.

Die rektor word aangemoedig om die Lewis-komitee se aanbevelings oor die versterking van die rektoraat in werking te stel, en om universiteitsbeleid te hersien om die doeltreffendheid en toepassing van die beleide te bepaal en om konsekwentheid en regverdigheid te bewerkstellig.

Die voorsitter van die US raad, Nicky Newton-King, het gesê: “As ’n Universiteitsgemeenskap verwelkom ons die geleentheid vir noukeurige ondersoek en besinning. Die raad het baie tyd spandeer en moeite gedoen om die bewerings deur ’n deeglike en onafhanklike proses te ondersoek, en het die uitkoms van die ondersoek deeglik bespreek. Die raad het die rektor se onvoorwaardelike verskoning oor sy oordeelsfout en die uitwerking daarvan op die instelling en al die betrokke partye aanvaar en waardeer. Die rektor én die Universiteit het waardevolle lesse in die proses geleer.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top