Beskuldigings van nepotisme teen die rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), Wim de Villiers, sal volgende week indringend bespreek word tydens ’n raadsvergadering van die universiteit.
De Villiers word daarvan beskuldig dat hy die universiteit se beleid oor toelating en nepotisme oortree het omdat hy twee familielede na bewering bevoordeel het toe hy sy diskresionêre mag gebruik het om hulle aan die universiteit te plaas.
Die stof het skaars gaan lê oor die rektor se goedkeurende plasing vir ’n familielid toe dit blyk dat ’n tweede familielid ook deur hom geplaas is om daar te studeer sonder dat hy dit aan die raad bekend gemaak het.
Dit is nog onduidelik of daar tydens volgende week se vergadering ’n mosie van wantroue teen die rektor ingestel sal word soos wat die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, Leon Schreiber, wil hê.
Die universiteit het wel in ’n verklaring bevestig dat die hele kwessie rakende die universiteit se toelatingsbeleid op die agenda sal wees en indringend bespreek sal word.
Die senaat van US het op Vrydag 24 Maart met ’n oorweldigende meerderheid ’n mosie van vertroue in en ondersteuning van De Villiers en sy bestuurspan aanvaar in hul strewe na inklusiwiteit en veeltaligheid aan die US.
Die mosie het gevolg na aanleiding van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se verslag van 14 Maart en die US se reaksie daarop, wat gehandel het oor die gebruik van Afrikaans aan die universiteit.
Sake het egter weens die beskuldigings van nepotisme ’n nuwe wending geneem en die rektor bevind hom opnuut in die spervuur.
De Villiers se kop is uit verskeie oorde geëis. Schreiber, wat al telkemale die rektor se bedanking geëis het oor die taalkwessie, het weer sy mes in vir De Villiers en oorweeg dit glo om Maandag ’n mosie van wantroue in die rektor in te stel.
In ’n skrywe wat vroeër aan die US se personeel gestuur is, word gesê die ontleding van die rektor se diskresionêre plasings sal onder ferm leiding van die uitvoerende komitee van die raad (UKR) plaasvind en sal deeglik bespreek word by die raadsvergadering sodat die raad oor ’n aangewese pad vorentoe kan ooreenkom.
Dit was nadat die rektor die UKR se aandag daarop gevestig het dat hy ook ingevolge dieselfde beleid en die riglyne vir diskresionêre plasings sy diskresie gebruik het om ’n tweede familielid in ’n program by die US te plaas.
Volgens die US se skrywe aan die personeel volg die US ’n duidelik gedefinieerde toelatingsbeleid en het die US sedert 2018 riglyne in werking gestel om die rektor se diskresionêre plasings te lei.
Die benadering tot diskresionêre plasings word volgens die US tans hersien om enige moontlike tekortkominge aan te spreek.
De Villiers sê hoewel hy te goeder trou en in ooreenstemming met die huidige riglyne opgetree het, is hy spyt oor die beroering wat die gepubliseerde voorval veroorsaak het.
Die US het in hulle verklaring gesê die handhawing van praktiese en behoorlike administratiewe oorsigbestuur is van die uiterste belang vir die US. “Ons verwelkom die geleentheid vir noukeurige ondersoek en besinning ten einde die hoë standaarde te handhaaf waarvoor ons bekend is en om gebiede aan te spreek waar daar ruimte vir moontlike verbetering is.”
Volgens die verklaring is die US is as ’n hoëronderwysinrigting van wêreldgehalte ’n nasionale bate met ’n globale reikwydte. “Die Universiteit se studente en personeel is van die beste wat daar in en vir Suid-Afrika te vinde is. Die akademiese integriteit van ons instelling, die gehalte van ons kwalifikasies en navorsing, en die handhawing van praktiese en behoorlike administratiewe oorsigbestuur is van die uiterste belang vir die US.”