Vaalpolonie: Wat is dit?

  • 0
.............. 
“Elke keer as ek enigiemand van my tuisdorp vertel, vertel ek oor die Vaalrivier, die ooptes en natuurlik die kos. Kos is vir my ’n mondvol herinneringe, en al eet ek nie meer vaalpolonie nie, koppel ek dit aan by die huis wees. Aan Barkly se strate, aan kaalvoet loop en aan lekker tye saam met my neefs en niggies.”
.............. 

“Die mense van Kaapstad ken nie vaalpolonie nie,” val ek met die deur in die huis ’n naweek of wat gelede toe ek my ouma bel.

Dit is ’n presiese herhaling van my gesprek ’n jaar gelede toe ek my ma een middag na werk gebel het. “Die mense van Pretoria ken nie vaalpolonie nie.”

Ek was verbaas. Hoe weet hulle nie van vaalpolonie nie? Is vaalpolonie slegs ’n Noord-Kaap-ding? ’n Barkly-Wes-ding?

Ek het saam met vaalpolonie groot geword. Ek het aangeneem dis iets wat regoor die land bekend is. Iets Suid-Afrikaans of ten minste iets Noord-Kaaps. Helaas nie.

Foto’s: Pixabay.com

Ek het in Potchefstroom gaan studeer en in Pretoria gaan werk, maar nooit gedink om vaalpolonie op te soek nie, want ek is ’n vegetariër en slaan vleis oor wanneer ek inkopies doen.

Maar elke keer as ek enigiemand van my tuisdorp vertel, vertel ek oor die Vaalrivier, die ooptes en natuurlik die kos.

Kos is vir my ’n mondvol herinneringe, en al eet ek nie meer vaalpolonie nie, koppel ek dit aan by die huis wees. Aan Barkly se strate, aan kaalvoet loop en aan lekker tye saam met my neefs en niggies.

Ek kan vaalpolonie die beste beskryf as ’n stuk wors wanneer dit koud is, en ’n lekker broodsmeer wanneer dit verhit word. Die naam verwys natuurlik na die grys voorkoms.

Dit was goedkoop: die vaalpolonie op die bord kos R20, en as jy ’n lui kok is, druk jy dit in die mikrogolfoond vir ’n twee of drie minute.

Dit smaak hemels op ’n snytjie brood.

Ek het met oom Frans Visagie van die Sentrale Slaghuis in Barkly-Wes gesels.

Volgens hom is vaalpolonie geskep toe hulle afvalstukkies vleis in die slaghuis begin kook het. Hy het die resep met tyd aangepas pas tot die lekkerny wat dit vandag is.

Hy was gaaf genoeg om die resep met ons te deel.

..............

Wat het jy nodig?
  • Bees- of skaaplonge
  • Afvalstukkies bees- of skaapvleis
  • Stukkies varkvleis en spek
  • Six Gun-speserye
  • Peper
Hoe om dit te maak?
  • Jy vat al die stukkies vleis.
  • Voeg spesery by die gemaalde vleis tot dit na jou smaak is.
  • Kook die vleis tot dit gaar is.
  • Maal die gekookte vleis tot dit fyn is.
  • Gebruik ’n derm, soortgelyk aan dié wat jy vir wors of Russians gebruik, en vul dit met die vleisvulsel terwyl die vleis nog warm is.
  • Sit hierdie wors in die yskas tot die volgende dag sodat dit kan set en in stukke gesny kan word.

’n Stukkie vaalpolonie word by die Sentrale Slaghuis verkoop vir tussen 50c en R2,50 – ja, dis bekostigbaar!

’n 50c-stukkie is genoeg vir ’n lekker vaalpolonie-bunny.

’n Bunny is ’n uitgeholde stuk brood wat met sous (byvoorbeeld kerrie), tjips, ens gevul word. Die bunny is soortgelyk aan bunny chow* (onderstaande foto), maar in plaas van ’n halwe brood is dit ’n kwart stuk brood.

*Die bunny chow kom oorspronklik van die Indiese gemeenskap in Durban.

..............

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top