Die vakbond Solidariteit het ’n klag by die Verenigde Nasies (VN) ingedien teen die Suid-Afrikaanse regering se beleid van regstellende aksie wat volgens hulle neerkom op diskriminasie teen wit mense.
Die klag is Woensdag by die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) gelê.
Solidariteit sê in ’n verklaring die klag fokus op die Suid-Afrikaanse regering se rassebeleid. Dit is die eerste keer dat daar ’n substantiewe klag teen die regering se rassebeleid by die VN ingedien word.
Indien hulle suksesvol is met die klag, wil Solidariteit die regering dwing om regstellende aksie af te skaf.
’n Verslag oor die vordering van regstellende aksie wat verlede maand deur die Kommissie vir Diensbillikheid bekend gemaak is, het egter bevind wit mense oorheers steeds top en senior poste in die arbeidsmark. Hoewel daar ’n duidelike afname is in die verteenwoordiging van wit mense in daardie poste, beskou die regering regstellende aksie steeds as noodsaaklik.
Die term regstellende aksie verwys volgens Wikipedia na stappe wat onderneem word om die verteenwoordiging van vroue en minderheidsgroepe in die beroepswêreld, onderwys en sakewêreld, waar hulle histories uitgesluit of benadeel is, te verhoog. Daar word veronderstel dat daar in die maatskappy, op die vrye mark, in die media of elders ’n wanbalans ontstaan het wat net deur ’n aktiewe beleid reggestel kan word.
Indien daardie stappe ’n voorkeurbehandeling op die grondslag van ras, etnisiteit, geslag, godsdiens of seksuele oriëntasie behels, bly regstellende aksie in lande waar dit in enige vorm toegepas is of nog steeds word (soos die VSA, Frankryk, Duitsland en Suid-Afrika) ’n hoogs omstrede kwessie.
Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, sê die klag wat Woensdag by die VN ingedien is, is ’n historiese klag.
“Ironies genoeg is CERD ingestel na aanleiding van steunwerwing van die ANC teen die vorige regering se beleid van rasseklassifikasie. Nou word die ANC-regering ingevolge sy beleid van rasseklassifikasie aangekla,” sê Hermann.
Hy sê indien Solidariteit suksesvol met die klag is, sal die regering sy beleid van regstellende aksie moet wysig. Suid-Afrikaanse wetgewing bepaal dat plaaslike wetgewing aangepas moet word aan die hand van internasionale konvensies.
“Indien die regering steeds sou weier, kan die land van dié konvensie geskors word en Solidariteit kan Suid-Afrikaanse howe gebruik om die regering te dwing om hulle beleid te verander,” sê Solidariteit in hulle verklaring.
Dié klag teen die regering spruit uit ’n jare lange proses. Solidariteit het reeds in 2015 ’n verslag by CERD ingedien waarin aangedui is dat die regering nie aan die VN se internasionale konvensie oor die uitskakeling van alle vorme van rassisme voldoen nie. Dit het daartoe gelei dat CERD ’n aanbeveling gemaak het wat die regering se apartheidsrasseklassifikasie gekritiseer het.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het in ’n verslag bevind dat die Wet op Gelyke Indiensneming, na aanleiding van CERD se aanbeveling, gewysig moet word. Die regering het egter nie die aanbeveling van CERD óf die bevinding van die SAMRK geïmplementeer nie.
“Die feit dat die regering met sy rassebeleid volhard, ten spyte van CERD en die SAMRK se verslae, plaas Solidariteit in ’n baie sterk posisie om die regering se rassebeleid by die VN uit te daag. Suid-Afrika onderteken die VN se konvensie teen rassisme. Die land is dus verplig om sy wetgewing daarvolgens aan te pas,” het Hermann aangevoer.
Volgens Hermann poog die regering deur die ANC om ’n rasgebaseerde samelewing in Suid-Afrika te normaliseer wat sy ideologie in werkplekke, by universiteite, op die sportveld en selfs by kinders in skole afdwing.
Hermann meen die regering het sy regsbeleid verder gevoer as wat enige internasionale konvensie toelaat. “Waar jy werk, watter posisie jy beklee, wat jy mag studeer, en watter span jy haal word nie op meriete toegeken nie, maar volgens ras beoordeel en uitgedeel. In Suid-Afrika word jou vermoë om aan ’n velkleurvereiste te voldoen hoër geag as jou vaardighede,” het Hermann gesê..
Die voorsitter van die Kommissie vir Diensbillikheid, Tabea Kabinde, sê egter in die verslag wat verlede maand uitgereik is, swart en bruin vroue ly steeds die swaarste onder diskriminasie in die werkplek. Hy het gesê die slakkepas waarteen regstellende aksie in die topsegmente plaasvind, kan nie geïgnoreer word nie en hou patrone in stand wat deur die apartheidsideologie geskep is.
Dit sal volgens die verslag minstens 50 jaar duur om werklike transformasie in die werkplek te sien indien die stadige pas waarteen regstellende aksie in die topsegmente plaasvind, voortduur.
Solidariteit se volledige klag kan hier gelees word.