Vakbond wil hof toe as Oktober-skoolvakansie geskrap word

  • 0

Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) staar ’n regsgeding in die gesig indien daar voortgegaan word met planne om die Oktober-skoolvakansie vir 2021 te skrap.

Volgens die Suid-Afrikaanse Onderwysers Unie (SAOU) is die DBO van plan om die skoolvakansie in Oktober te kanselleer om te vergoed vir die vyf skooldae wat verlore gegaan het as gevolg van die vroeëre sluiting vir die wintervakansie.

Die SAOU was een van die vakbonde wat genooi is na ’n vergadering met verteenwoordigers van die DBO om oor die res van die jaar se skoolkalender te besin.

Daily Maverick en verskeie ander koerante het ook die afgelope week berig dat die Oktober-skoolvakansie in die gedrang is.

Die komitee van ministers van onderwys wil glo hê dat die vyf dae van 4 tot 8 Oktober 2021 gebruik moet word om vir die verlore skooltyd te vergoed.

Daar is volgens berigte ook besluit dat die derde en vierde kwartale geskei sal word deur die Erfenisdag-langnaweek wat van 23 tot 26 September sal duur. Kinders sal op Maandag 27 September weer terugkeer skool toe.

Die DBO sê egter daar is nog nie besluit of die Oktober-vakansie geskrap gaan word nie. Die SAUK berig die departement se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê vergaderings wat met rolspelers gehou is, dui daarop dat hulle gekant is teen die skrapping van die vakansie.

Solidariteit sê in ’n verklaring sy regspan ondersoek die moontlikheid van litigasie teen die DBO nadat die voorgenome skrapping van die vakansie bekend geword het.

Solidariteit het sy teenkanting teen dié wysiging van die skoolkalender uitgespreek in ’n brief aan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga. Die vakbond meen die optrede van die departement is irrasioneel en die implementering van sodanige wysiging onbillik en teenstrydig met die nasionale beleid ten opsigte van die opstel van skoolkalenders.

“Dit is die plig van die minister en die departement om met belanghebbendes te kommunikeer voordat enige besluite geneem word. Tans is die DBO besig om spore van eensydige optrede dood te vee deur kwansuis te konsulteer nadat hulle reeds hul voornemens duidelik gemaak het. Hulle kies verder om slegs een regulasie in ag te neem terwyl hulle ’n aantal ander ontken deur voort te stoomroller met hul planne, en dit ten koste van die welstand van beide leerders en onderwysers,” sê Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van die professionele sektor by Solidariteit.

Solidariteit voer aan dat die departement besig is om die kalender van vier kwartale te wysig na drie termyne, waarvan die laaste termyn dubbel die aantal weke bevat. Hulle is van mening dat die DBO ook nie sy eie beleid, waarin hy stipuleer dat leerders en onderwysers genoegsame tyd gegun moet word om te rus, in ag neem nie.

“Hierdie optrede van die departement kan as niks anders as uitbuiting beskryf word nie. Daar word van onderwysers verwag om 21 weke aaneen aan diens te wees met slegs ’n kort onderbreking in die vorm van ’n verlengde langnaweek as troosprys. Dit strook egter nie met die regulasies nie. Hierdie optrede sal die prestasie van onderwysers én leerders in die vierde kwartaal negatief beïnvloed,” voer Botha aan.

Volgens Botha sal die leerders en onderwysers daarby baat as die departement eerder die datum van indiening van finale punte aanpas sodat die laaste twee weke van die skoolkalender ten volle benut kan word deur skole wat die tyd benodig om agterstande in te haal.

“Ons is van mening dat dit veel wensliker sal wees om kontaktyd binne die huidige kalender tot die maksimum te benut. Ons onderwysers en hul leerders het die afgelope jaar hard gewerk om die verskeie uitdagings van die COVID-19-pandemie te oorkom. Ons kan nie toelaat dat hulle van ’n laaste behoorlike ruskans voor die eindeksamen ontneem word nie,” het Botha gesê.

Solidariteit sê hulle is reeds besig om moontlike regstappe te ondersoek en sal nie skroom om daarmee voort te gaan indien die departement nie gehoor gee aan hulle versoek nie.

  • Lees Solidariteit se brief aan die DBO hier.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top