Terwyl vakbonde aandring op ’n verhoging van die minimumloon in Suid-Afrika, het die DA hom daarteen uitgespreek. Die party sê ’n nasionale minimumloonverhoging sal Suid-Afrika se werkloosheidskrisis verdiep.
Die General Industries Workers Union of South Africa (Giwusa) het gevra dat die nasionale minimumloon tot R15 000 per maand verhoog word, terwyl die arbeidsfederasie Cosatu voorgestel het dat dit in 2025 met die gemiddelde inflasiekoers plus 3% verhoog word.
Die huidige nasionale minimumloon is R27,58 per uur.
Maandag was die sluitingsdatum vir die indien van skriftelike kommentaar oor moontlike aanpassings aan die nasionale minimumloon vir volgende jaar.
Giwusa sê ’n verhoging tot R15 000 word genoodsaak deur die stygende lewenskoste.
Die organisasie sê dit sal verseker dat werkers se verdienste hulle in staat stel om ’n basiese lewenstandaard te bekostig, met inagneming van die koste van kos, verblyf en vervoer.
Cosatu sê ’n verhoging bo inflasie sal help om die armes te beskerm teen die hoë koste van voedsel, brandstof, mediese produkte, en water en elektrisiteit, wat bo die gemiddelde inflasiekoers is.
Die DA se woordvoerder oor indiensneming en arbeid, Michael Bagraim, sê egter dit sal werkloosheid verhoog.
Die DA sê in ’n verklaring terwyl hulle die goeie bedoelings agter die versoekte verhoging erken, glo die party dit sal die land se reeds uiters hoë werkloosheidsyfer net vererger. Die DA stel eerder voor dat die huidige minimumloon onveranderd bly.
❌ A national minimum wage hike will deepen SA's unemployment and poverty crisis. To give South Africans a better chance of finding jobs, the DA has submitted comments opposing any proposed increases by the Department of Employment and Labour.https://t.co/cesJyrT6wa
Many…
— Democratic Alliance (@Our_DA) September 30, 2024
Michael Bagraim, ’n arbeidsregspesialis, sê Suid-Afrika se arbeidsmark word deur veelvuldige faktore beperk, veral die impak van die minimumloon op werksgeleenthede. Hy sê die huidige minimumloon skep hindernisse vir werkloses, veral jongmense en laaggeskoolde werkers, deur ’n loondrempel daar te stel wat besighede dalk nie kan bekostig nie.
“Baie maatskappye is nie in staat om nuwe werknemers aan te stel tensy hul produktiwiteit die verpligte minimumloon oorskry nie. Gevolglik word die mees kwesbare segmente van die bevolking uit die arbeidsmark uitgesluit, wat ’n siklus van armoede en afhanklikheid van maatskaplike toelaes laat voortduur.”
Die nasionaleminimumloonkommissie se benadering om toekomstige verhogings aan inflasie en ander ekonomiese aanwysers te koppel, neem volgens die DA nie die land se ernstige werkloosheidskrisis voldoende in ag nie. Die party sê alhoewel die beskerming van die koopkrag van bestaande werkers belangrik is, sal die onbedoelde gevolg van verdere verhogings wees om die gewilligheid van werkgewers om mense aan te stel, verminder.
Die DA glo dat die handhawing van die huidige loonvlak ’n noodsaaklike balans skep tussen die beskerming van bestaande werkers en die opening van die deure vir indiensneming vir diegene wat tans uit die arbeidsmag uitgesluit is.
Terwyl die minimumloon ongelykheid onder diegene wat reeds in diens is, kan verminder, vererger dit ongelykheid tussen die werkendes en die werkloses, sê die DA.
“Diegene sonder werk bly vasgevang in armoede, kan nie vaardighede opdoen, werkservaring opbou of hoegenaamd enige inkomste verdien nie. Selfs ’n beskeie loon sal die lewensbestaan aansienlik verbeter van diegene wat tans op die maatskaplike verligting van noodtoelae staatmaak wat hulle in staat sal stel om mettertyd na beter geleenthede te streef.”
Die DA se beleidsposisie is om die minimumloon op sy huidige vlak te vries. Daarbenewens stel die party arbeidshervormings voor wat werksgeleenthede sal uitbrei, veral vir die jeug, soos ’n jeugindiensnemingsgeleentheidsertifikaat en die wysiging van bestaande kollektiewebedingingstrukture om klein besighede te bevoordeel. Hierdie maatreëls sou ten doel hê om ’n meer buigsame, inklusiewe arbeidsmark te skep om Suid-Afrika se werkloosheidskrisis aan te spreek.
Die DA glo dat dit ’n noodsaaklike stap is om Suid-Afrika se arbeidsmark meer toeganklik te maak, werkloosheid te verminder en waardigheid deur werk te herstel as die minimumloon nie verhoog word nie.