Minder as ’n week nadat hy die polisie se spesiale ondersoekeenheid in die openbaar gekritiseer het weens hulle onvermoë om korrupsie te beveg, het die Valke ’n klopjag uitgevoer by die veteraanjoernalis Jaques Pauw se huis in Riebeek-Kasteel.
Pauw, wie se boek President’s Keepers oornag die grootste topverkoper in die land geword het, het verlede Sondag tydens die Adam Small-fees gesê daar is weinig oor van die Valke se effektiwiteit. Hy het hulle onder andere gekritiseer omdat hulle twee jaar gesloer het voordat hulle die verdagtes begin aankeer het wat betrokke was by die Vrede-suiwelplaasprojek van die Vrystaatse regering wat met die omstrede Guptas verbind word.
Hy het gesê dit was eers nadat die media feitlik al die inligting oor die projek gepubliseer het dat die Valke opgetree het en dat die beste ondersoekbeamptes reeds die Valke verlaat het.
Woensdagaand het drie offisiere van die Valke met ’n lasbrief by sy huis opgedaag. Hulle het sy huis en restaurant deursoek op soek na sogenaamde geheime dokumente maande nadat Pauw se boek verskyn het.
Pauw het vroeër die week op Pniël gesê hy is nie bang om gearresteer te word of dat hy tronk toe sal gaan nie omdat hy geen misdaad gepleeg het nie. Hy was krities teenoor die land se ondersoekeenhede. Hy wou onder andere weet waarom word daar so op hom en sy boek gefokus terwyl diegene wat verantwoordelik is vir die rampokkery en korrupsie wat in sy boek aan die kaak gestel word, vry rondloop.
Die klopjag Woensdag op sy huis is belaglik, het Pauw gesê. Hy het reguit vir die Valke gevra of hulle regtig dink hy hou geheime dokumente by sy huis aan en gesê hulle kan maar weer kom maar sal niks kry nie.
Pauw sê selfs al het hy geheime dokumente gehad, wat nie die geval is nie, sou hy dit beslis nie in sy huis gehou het nie.
Die Valke se klopjag op sy huis was nie onverwags nie, sê Pauw. Hy het aan Eye Witness News gesê hy het verwag dat die Valke een of ander tyd by sy huis sou opdaag maar is verbaas dat dit na Februarie gebeur het nadat Cyril Ramaphosa by Zuma oorgeneem het as president.
Die burgerlike organisasie Right2Know het op Twitter gesê dit is jammer die polisie los nie die misdade oor staatskaping met dieselfde ywer op waarmee hulle die na die gewraakte dokumente soek nie.
Die nuwe minister van polisie Bheki Cele het volgens Eye Witness News gesê die polisie moet die geleentheid gegee word om Pauw te ondersoek en dat almal ondersoek moet word en nie slegs sekere individue nie.
Op sosiale media het dit gegons oor die klopjag op Pauw se huis. ’n Video wat op Twitter gepos is wys hoedat die Valke sy huis deursoek en in sy kaste krap op soek na die sogenaamde geheime dokumente. Mens kan hoor hoe Pauw waarskynlik met sy regsverteenwoordiger oor die telefoon praat terwyl sy huis deursoek word.
Sy vrou, Sam Rodgers, het aan News24 gesê die Valke het ook hul restaurant se dokumente deursoek wat onder andere uit lêers met CV’s van voornemende restaurantwerkers en ou Getaway-tydskrifte bestaan.
’n Woordvoerder van die Valke, Brigadier Hangwani Mulaudzi, het gesê die lasbrief om Pauw se eiendomme te deursoek is deur ’n landdros van Malmesbury uitgereik. Mulaudzi sê dit was ’n ingewikkelde proses om die lasbrief te bekom en dit is eers Woensdag uitgereik.
Buro: NB