Altesaam nege verdagtes verskyn vandag (Donderdag) in die hof op Bronkhorstspruit in verband met hulle beweerde aandeel in ’n multimiljoenrand-diamantbeleggingskema nadat die Valke hulle die afgelope twee dae in hegtenis geneem het.
Onder die verdagtes is die vermeende meesterbrein agter die skema, Louis Liebenberg, en sy vrou Dezzi. Beleggers het sedert 2019 meer as vier miljard rand in die skema belê.
Die arrestasies is sedert Dinsdagaand deur ’n veeldoelige taakspan onder leiding van die Valke in die Noord-Kaap uitgevoer en die verdagtes is op verskillende plekke in Gauteng en Noordwes in hegtenis geneem.
’n Werknemer van ’n Oos-Randse eetplek, wat ’n getuie van die arrestasies van die Liebenberg-egpaar was, het aan TimesLive gesê ’n swaar gewapende groep het omstreeks 19:00 by die restaurant ingestap en is reguit na ’n privaat vertrek.
Heavily armed members of the Hawks arrested diamond dealer Louis Liebenberg and his wife Dezzi at a Gauteng restaurant on Tuesday night.https://t.co/R0PJ2g3GoZ
— Times LIVE (@TimesLIVE) October 23, 2024
’n Paar minute later het hulle uitgestap gekom met Liebenberg en sy vrou in boeie. ’n Man het Liebenberg glo aan die arm gehad en daar was ’n vrou saam met Dezzi, het een van die werknemers aan TimesLIVE gesê kort nadat die arrestasies gemaak is.
Verskeie nuusagentskappe het Woensdag oor die Valke se arrestasies berig.
[BREAKING NEWS] Hawks arrest 8 suspects alleged to have been involved in a diamond investment scam worth R4bn. Die Waarheid Media names Zuma benefactor Louis Liebenberg and his wife Dezzi as key suspects. More details on #eNCA #Dtv403 #QuestionThinkAct pic.twitter.com/tetOS5m7pu
— eNCA (@eNCA) October 23, 2024
Die Valke sê die verdagtes sal met hul hofverskyning op Bronkhorstspruit aangekla word van bedrog, geldwassery, diefstal en rampokkery, hoewel nog aanklagte nie uitgesluit is nie.
Die privaatondersoeker Mike Bolhuis het Dinsdagaand, kort na die eerste twee arrestasies, op Facebook gesê meer arrestasies sal na verwagting binnekort volg. Nog sewe persone is Woensdagoggend gearresteer.
Bolhuis het die fluitjieblasers in ’n verklaring geloof vir hul dapperheid om met inligting na vore te kom, asook die media wat “met feitelike inligting en sonder sensasie” oor hierdie aangeleentheid berig het.
Die Liebenbergs is kort voor 20:00 in hegtenis geneem terwyl hulle saam met Liebenberg se personeel by die restaurant geëet het.
Bolhuis het ook die owerhede wat betrokke was, in ’n verklaring op sy webwerf geprys, veral die Valke en die gespesialiseerde eenhede van die SAPD wat in noue samewerking met die likwidateurs, die SAID, en die Gespesialiseerde Veiligheidsdienste-taakspan werk.
Bolhuis het weer eens ’n streng waarskuwing gerig aan enigiemand met inligting oor die handelinge van Liebenberg en sy vrou om na vore te kom en hul volle samewerking aan die owerhede te verleen.
“Let daarop dat hierdie ondersoek nie verby is nie, en diegene wat nie kriminele sake by die SAPD geopen het nie, word versoek om sake onmiddellik te open. Moenie inligting van die owerhede weerhou nie,” sê Bolhuis.
Hy het gewaarsku dat die vervolgingsfase van hierdie saak ’n lang proses sal wees, en het alle betrokke partye versoek om geduldig te bly, “aangesien geregtigheid op die ou end sal seëvier”.
Een van Liebenberg se direkteure by sy mediamaatskappy, Die Waarheid Media, Letitia van der Walt, het op een van Liebenberg se Facebook-groepe uitgevaar teen die arrestasie. Sy het die likwidateur, Vaughn Victor, daarvan beskuldig dat hy ’n lafaard is wat “met sy Cruisertjie eenkant geparkeer gestaan het”.
In ’n video het Van der Walt later ’n emosionele beroep op Liebenberg se ondersteuners gedoen om vir hulle te bid. Sy sê die lewende God is aan hulle kant en die oorwinning gaan groot wees.
Beide die Liebenbergs is na hulle arrestasie geboei en in aparte voertuie weggeneem na die aanhoudingselle in Bronhorsspruit.
In ’n videoboodskap wat Liebenberg Woensdagoggend in die polisiekantoor opgeneem en op sy sosiale-media-groepe gedeel het, sê hy dat hy waarskynlik nie dadelik borg sal kry nie maar het die hoop uitgespreek dat sy vrou gou borgtog sal kry. Hy hou vol dat hy onskuldig is.
Hy sê in die video die meeste van die ander mense wat in hegtenis geneem is, is mense wat vir hom gewerk het, maar sal waarskynlik nou teen hom getuig.
Op sosiale media het dit ook gegons oor Liebenberg se arrestasie.