"Vals nuus" lei tot rasseherrie voor inperking

  • 0

Beweerde vals nuus wat tot ’n rasseherrie gelei het, het Suid-Afrikaners op die vooraand van die landwye inperking in rep en roer gehad. Daar is Dinsdag glo valslik op sosiale media berig die staatshulp wat president Cyril Ramaphosa Maandag vir klein besighede aangekondig het weens die COVID-19-virus, is slegs vir klein besighede met ’n meerderheid swart aandeelhouding.

Die bron van die nuus, wat vinniger as die koronavirus versprei het, was ’n skermgreep wat die ronde gedoen het dat ras ’n vereiste vir hulp is. Slegs klein besighede met meer as 51% swart aandeelhouers sou volgens die gerug finansiële hulp ontvang.

Die beweerde gerug het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Dit is verder deur AfriForum aangeblaas in ’n verklaring waarin hulle die regering veroordeel vir hul beleid om “slegs finansiële verligting te verleen aan ondernemings in swart besit wat deur die COVID-19-pandemie geraak word”.

Ondanks ontkennings van regeringskant dat daar teen wit mense gediskrimineer word met hulpverlening aan klein besighede, het Solidariteit Woensdag ʼn klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien en berei hom voor vir dringende litigasie teen die regering se planne om krisisbefondsing aan klein, medium- en mikro-ondernemings (KMMO’s) onderhewig aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB) te maak.

Die vakbond sê in ʼn verklaring dit volg nadat daar tydens ʼn mediakonferensie ondubbelsinnig verduidelik is dat die hulp van die Departement van Kleinsake-ontwikkeling slegs op ʼn “demografies-verteenwoordigende” wyse beskikbaar gestel sal word en die Departement van Toerisme ʼn dokument vrygestel het wat daarop dui dat minstens 70% van die fondse uitsluitlik na swartbeheerde ondernemings sal gaan.

Solidariteit voer aan dat dit een ding is om te sê dat SEB ʼn voorvereiste is vir staatskontrakte, maar dit is iets heeltemal anders as die President gesê het dat niemand mag sake doen nie en dan weier om sekere ondernemings te beskerm te midde van hierdie drastiese stap. Solidariteit se volledige verklaring kan hier gelees word.

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, het gesê die regering se poging om ’n pandemie te misbruik om diskriminasie teen minderhede te beloon is rassisties en immoreel. “Die regering se volgehoue aanval op wit mense en ondernemings in die land in hierdie onsekere tye is onaanvaarbaar. Die president beklemtoon telkens in sy toesprake dat almal in die land moet saamstaan om die virus te beveg. Nou wil die ANC-regering die virus misbruik om teen wit mense te veg. AfriForum sal hierdie rassistiese beleid volstoom teenstaan.”

Die minister van kleinsakeontwikkeling, Khumbudzo Ntshavheni het vroeër volgens Netwerk24 pertinent gesê die skermgreep is fopnuus. Sy het gesê alle kleinsakeondernemings sal vir hulp oorweeg word, in alle sektore en oor die hele land heen.

Die miljardêr Johann Rupert en voorsitter van  Richemont en Remgro wat saam met die Oppenheimer-familie elk R1 biljoen beskikbaar gestel het om besighede te help, het gesê die geld sal tot voordeel van alle Suid-Afrikaanse ondernemings gebruik word, ongeag hul eienaarskap.

  • Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, het intussen gesê die Mededingingskommissie ondersoek 11 maatskappye wat glo pryse van produkte soos gesigmaskers, handskoene en handontsmettingsmiddels verhoog het te midde van die koronaviruspandemie. RSG berig Patel het by ’n mediakonferensie in Pretoria herhaal dat maatskappye wat die publiek uitbuit deur pryse van noodsaaklike items te verhoog, beboet kan word of dat die betrokke persone selfs tronkstraf opgelê kan word.
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top