Julian Assange (Foto: David G Silvers [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)
Julian Assange is nie die aangenaamste ou by die braai nie. Witmuis sou dalk sy bynaam gewees het hier te lande. Aanhangers van Hillary Clinton, dié wat nog oor is, sal hom nooit vergewe nie. Sweedse vroue gaan was liewer die skottelgoed.
Of so word ons gemaak glo.
Verlede week het die Britse sekretaris van binnelandse sake, Sajid Javid, die proses aan die gang gesit om hom aan die VSA te laat uitlewer. Dit is die grootste aanslag nog op die vryheid van die pers in die nuwe millennium, sê ’n menigte ondersteuners, van Pamela Anderson tot die Sloweense filosoof Slavoj Žižek.
Assange is nie ’n Amerikaanse burger nie; sy webwerf WikiLeaks is nie daar geregistreer nie; die publikasie van geheime is nie ’n misdaad in Amerika nie. Die hoofaanklag is dat hy geheime agente se lewens in gevaar gestel het, al is WikiLeaks al jare aan die gang en niemand is nog dood nie. As hy in die regte staat aangekla word, kan hy die doodstraf kry, so nie 175 jaar tronkstraf.
Daar is ’n baie losse verwantskap met korrupsie in Suid-Afrika, dog een wat ’n mens daaraan behoort te herinner dat die stryd om deursigtigheid en verantwoordbaarheid in vandag se geglobaliseerde samelewings elkeen van ons raak, maak nie saak waar jy is nie.
Assange se saak dien voor regter Emma Arbuthnot. Sy is getroud met ’n man wie se geheime transaksies deur WikiLeaks ontbloot is, James Arbuthnot, ’n lid van die House of Lords en van die Konserwatiewe Party. Hy is ’n lid van die adviesraad van Thales, wat nou in die hof saam met Jacob Zuma verskyn in verband met klagtes dat die wapenvervaardiger die voormalige president omgekoop het om die maatskappy se aandeel in die wapenskandaal te help verbloem.
Arbuthnot is Zuma se soort; die Britse parlement het hom aangespreek nadat hy staatsgeld laat herlei het om twee van sy huise op te knap. Dit was toe hy hoof van die komitee vir verdediging was, wat onder meer waghond moes speel oor die Britse geheime dienste. Later was hy staatsminister in die departement van verdediging en deesdae is hy direkteur van die konsultantefirma SC Strategy Ltd, gestig deur ’n voormalige hoof van MI6, John Scarlett.
Regter Emma sal weens hierdie noue bande met ’n twyfelagtige karakter nie noodwendig partydig wees nie, maar die tekens is daar. Assange se saak het ook in 2018 voor haar gedien toe hy probeer het om ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming op aanklagte in Swede tersyde gestel te kry.
Een argument van haar laat regslui die kop skud: Assange het die vrees uitgespreek dat hy gegryp en aan Amerika uitgelewer sou word sodra hy ’n voet buite die ambassade van Ecuador sit, waarop sy beslis het sy kan nie daaroor oordeel nie, want hy het geen getuienis onder eed voor haar kom aflê nie.
Eweneens is die verbreking van borgvoorwaardes, waarvoor die nuwe regering van Ecuador hom aan die Britte oorhandig het, ’n hoogs tegniese oortreding. Die ambassade was nou wel ’n ander land se domein, maar geografies gesproke het Assange Londen glad nie verlaat nie. ’n Opgeskorte vonnis sou die mees gepaste wees, maar hy is tot 50 weke tronkstraf gevonnis.
Žižek wys op ’n ander abnormaliteit: dat die regering van Ecuador twee amptenare na Londen gestuur het om Amerikaanse ondersoekbeamptes te help om te kus en keur uit sy persoonlike besittings, twee manuskripte, dagboeke en ander materiaal wat in ’n hof gebruik kan word. Hulle het nou volle beheer daaroor: hulle kan dit laat wegraak, manipuleer en selfs vervals.
Die behandeling wat Assange nou kry, is vinnig besig om dié van ’n uitlewering te word, waartydens enigeen ter wêreld wat in die geheim tot Amerikaanse vyand verklaar is, op enige plek gegryp kan word sonder inagneming van enige wetlikheid, want die Amerikaners kondig vir die doeleindes van so ’n operasie krygswet af. Ons weet wat die gevolge is, en dit sluit in dat bitter min van die honderde gevangenes op Guantanamobaai in Kuba al van oortredings van terreurwette aangekla is.
Daar is duidelik ’n swartsmeerveldtog teen Assange aan die gang, wat belaglikhede insluit soos dat hy sy kat mishandel en nie sy toilet skoongemaak het nie. Die mees geslaagde een is egter dat selfs die mees ingeligte kommentators deesdae skryf dat een van die aanklagte is dat hy Amerikaanse en ander rekenaars gekraak het. Elkeen van ons gaan gebuk onder die las om ons rekenaars teen krakers te beskerm – hulle is die skuim van die kuberruim.
Assange het dit teenoor Arbuthnot opgehaal as bewys vir die vooroordeel teenoor hom, en wou verskeie mense aanhaal dat WikiLeaks geen rekenaars kraak nie, en dat Chelsea Manning, die voormalige soldaat wat 750 000 geheime dokumente aan WikiLeaks verskaf het, ook nie weens kraking gevonnis is nie. Arbuthnot het geweier om sy argumente aan te hoor.
Žižek meen sulke opskortings van regsprosedures in die saak dra op sigself ’n boodskap: “Ons gaan buite alle perke brutaal wees.” Dit behoort as waarskuwing te dien vir diegene wat nog enigsins in die liberale Amerikaanse demokrasie glo, se Žižek.
Die Verenigde Nasies se rapporteur oor marteling het Vrydag pront verklaar Assange loop gevaar om ’n skynverhoor in die VSA te ondergaan, en hom uitgespreek teen die juridiese jagmakery op Assange. Hy en twee dokters het hom in Belmarsh-tronk besoek en beslis dat hy uitgerekte sielkundige marteling ondergaan het en tekens toon dat hy ’n senu-ineenstorting en selfs ’n hartaanval kan kry.
Nils Melzer het ook sy misnoeë uitgespreek teenoor die Sweedse regering se hantering van die twee aanklagte van verkragting teen Assange kort nadat hy WikiLeaks gestig het. Hy sê sy navorsing het getoon dat Assange hom in Swede aan die owerhede oorhandig het en dat die betrokke aanklaer bevind het dat die getuienis nie klop nie en die klagtes teruggetrek het.
Deel van die beweerde seksuele aanranding, het Melzer Vrydag onthul, was dat Assange ’n kondoom met opset sou geskeur het. Die kondoom wat ter stawing ingedien is, het geen DNS van Assange of sy seksgenoot bevat nie.
Die terugtrekking van die klagtes is egter self herroep en ’n ander aanklaer is aan die saak toegewys. Assange het vir nog twee weke in Swede vertoef om die saak uit te stryk, maar moes uiteindelik Brittanje toe vir ’n belangrike taak. Die Swede het toe met die slenter gekom dat hy aan die vlug was, en ’n aansoek om sy uitlewering gedoen.
Assange het op hierdie punt agterdogtig geraak, en hy is ingelig dat die Swede noue bande met Amerikaanse intelligensie het en al vele uitlewerings help uitvoer het. Twee Egiptenare is in Swede in hegtenis geneem en aan die CIA oorhandig, wat hulle direk na Kaïro geneem het. Daar is hulle aangehou en erg gemartel.
Toe die Swede weier om Assange die versekering te gee dat hy nie ook aan Amerika uitgelewer sou word nie, het hy sy toevlug tot die ambassade van Ecuador geneem. Toe hierdie klagtes uiteindelik vir ’n tweede keer laat vaar is, het die Britte besluit hy het sy borgvoorwaardes oortree en hom in die tronk gestop.
Hier, het hy aan Melzer vertel, is daar soveel perke op sy doen en late dat hy hom nie vir sy uitleweringsaak kan voorberei nie.
’n Onpartydige verhoor in Amerika, het die VN-rapporteur verklaar, is nie meer moontlik nie. Brittanje, Swede en Ecuador het die konvensie teen marteling oortree en moet Assange vrylaat en hom vergoed vir die lyding wat hy ondergaan het.
Buro: MvH