Van die hoofpad afgedwaal: Staproetes en swemplekkies in en om Kaapstad

  • 0

Somer is byna agter die rug, maar Februarie is bekend daarvoor om jou vir oulaas te laat hyg van die hitte. Stof dus jou stapskoene af en geniet die laaste paar sonstrale met dié lekker staproetes in en om die Kaap-omgewing. Daar is ook heerlike rotspoele wat sal sorg vir ’n lafenis op ’n warm somersdag voor die winter al weer op ons is.

As jy Tafelberg en Leeukop se staproetes al een keer te veel geklim het, kyk ’n bietjie na dié vyf minder bekende roetes.

Crystal Pools, Gordonsbaai

Duik in ’n rotspoel met verfrissende koue bergwater en luister na die klanke van die see in die agtergrond. Die Crystal Pools-staproete naby Gordonsbaai is slegs ongeveer ’n uur buite Kaapstad, geleë in die Steenbrasnatuurreservaat.

Hierdie staproete is nie te moeilik om te stap nie, tog word aanbeveel dat jy redelik fiks moet wees. Die roete neem jou deur pragtige fynbosplantegroei en die rotspoele is die hoogtepunt. Maak seker jy pak genoeg eetgoed en water in!

 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

A post shared by Matthew (@sliceofmatt) on

Die staproete begin by die Steenbrasnatuurreservaat se ingang en neem ongeveer drie uur, afhangende van hoe lank jy stap en by die rotspoele stop. Die eerste rotspoel is sowat 45 minute van die beginpunt van die staproete. Die staproete is slegs van 1 November tot 30 April oop vir die publiek en jy benodig vooraf ’n permit om die reservaat binne te gaan. ’n Permit moet minstens twee dae vooraf bekom word.

Stuur ’n e-pos aan steenbras.naturereserve@capetown.gov.za vir meer inligting, of om ’n permit aan te vra. Besoek ook die Stad Kaapstad se webtuiste vir meer inligting.

Drie Damme, Hermanus

Hermanus se pragtige strande, soos Grotto en Voëlklip, lok ook elke somer groot getalle mense, maar dis nie al waarvoor Hermanus bekend is nie. Geleë in die Fernkloof Natuurreservaat, is dit net ’n kort staproete van ongeveer 30 minute voor jy by die eerste dam uitkom.

Hier kan jy heerlik swem en jou verlustig aan die welige natuurskoon, of jy kan selfs verder met die klein voetpaadjies stap om by die ander twee (selfs meer afgeleë) damme uit te kom.

Besoek Hermanus se webtuiste vir meer inligting.

Silvermine-natuureservaat, Tafelberg Nasionale Park, Kaapstad

Silvermine-natuureservaat maak deel uit van die Tafelberg Nasionale Park, maar is minder gewild as Tafelberg self. Dit is egter ’n heerlike reservaat om te besoek en bekend vir ’n lekker ligging om te braai, piekniek te hou en in die reservoir te swem.

Silvermine-natuureservaat is in 1998 deel van die Tafelberg Nasionale Park gemaak om sodoende te verseker dat die unieke plantegroei beskerm word, en die reservaat bied skouspelagtige natuurskoon en ’n oorvloed fynbos. Die staproetes bied ’n uitsig oor onder andere Houtbaai, Chapman’s Peak en Noordhoek.

 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

A post shared by brita lomba (@leicabri) on

Een van die staproetes wat uitstaan, is die staproete na Elephant’s Eye-grot, ’n groot rots in die reservaat wat lyk soos die kop van ’n olifant, met die grotopening wat lyk soos die olifante se oog.

Permitte om toegang tot die park te verkry, kan by die reservaat se ingang bekom word. Besoek Sanparke se webtuiste vir meer inligting.

Tygerberg-natuurreservaat, Bellville

Hierdie juweel in die noordelike voorstede van Kaapstad word telkens oor die hoof gesien wanneer dit by staproetes kom, tog bied Tygerberg-natuurreservaat unieke panoramiese uitsigte oor die stad, see en berge. Met Kaapstad aan die een kant van die berg en die noordelike voorstede aan die ander kant, sal jy vir ure jouself kan besig hou deur stukkies van die uitgestreke landskap as’t ware soos ’n legkaart stukkie vir stukkie te plaas.

Daar is Tafelberg met die uitgestrekte stad en Robbeneiland in die verte, en kyk jy na die anderkant van die berg, kan jy so ver soos die Paarl sien. Daar is die N1 met karretjies, so klein dit lyk soos speelgoedkarretjies, wat ’n mens vir lank fassinerend kan dophou. Die hoogtepunt is egter om die lughawe in die verte te bespeur en dan te kyk hoe vliegtuie opstyg of gaan land en dalk ’n draai bo-oor Tygerberg maak.

Daar is talle staproetes in die reservaat, sommige langer as ander, asook ’n kort rolstoelvriendelike roete naby die piekniekarea.

Toegangsfooie tot die reservaat kan by die ingang betaal word. Vir meer inlingting besoek die Stad Kaapstad se webtuiste

 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

A post shared by Marli van Eeden (@marli.vaneeden) on

Vista-staproete, Mont Rochelle, Franschhoek

Die Vista-staproete is ’n staproete bergop in die Wynlandstreek net bokant die Franschhoekvallei. ’n Goeie idee vir ’n vroegoggendstaptog, aangesien die roete jou so om en by twee uur gaan neem, met lieflike uitsigte oor Franschhoek en so ver as Kaapstad. Op ’n goeie dag kan ’n mens selfs Tafelberg en Leeukop sien.

 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

A post shared by Marcus Smith (@mjd_smith) on

Die roete begin en eindig by die Mont Rochelle-natuurreservaat-hoofhek. Die ingang na die reservaat is aan die linkerkant, net na die bopunt van die Franschhoekpas.

Vir hierdie staproete het jy ’n permit nodig wat jy by die toerismekantoor in Franschhoek kan bekom, by die Protea Hotel, of by die Hugenotemuseum. Vir meer inligting besoek die reservaat se webtuiste.

Gaan doen hierdie staproete vroegoggend sodat jy die res van die dag het om Franschhoek te verken en dalk ’n glas wyn by een van die talle wynplase te drink.

  • Foto’s: verskaf
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top