Van kernkrag tot kerskrag

  • 0

Die vrou sit haar kontaklense iewers neer. Eskom slaan toe. Krag af. Sy strompel rond op soek na kerse. Werk op haar rekenaar tot die battery ingee. Die volgende oggend, toe sy werk toe wil vertrek, is haar lense weg. Sy vat ’n kans, ry in ’n kar vas. Aasvoëls sak toe. Honderde mense swig vir padwoede, kom laat vir die werk. Die middag kry die straat se karretjiesman haar lense in die Pikitup-vullisblik.

Eers was daar Jakkals en Wolf, toe Koöperasiestories. Dis net ’n kwessie van tyd of die eerste beurtkragstories gaan op ’n kunstefeesverhoog verskyn: Eskom, Peskom; Domkrag; Wat kortkom, is krag by Eskom; Verslig en kerslig … Cyril se trein.

Die regering erken darem daar is ’n krisis. Laat ’n mens nou nie stories daaroor vertel nie. Dit is vordering dat die verantwoordelike minister in die openbaar toegee dat hy eers oor 15 dae of daar rond sal weet wat aangaan. En gaan dit uiteindelik veroorsaak dat ons ’n verandering by die stembus sien, dat Suid-Afrika ontslae gaan raak van sy knellende dominante-party-sindroom? (Nee)

Dan is daar die storie agter die storie. Ook erken Pravin Gordhan dat Eskom te veel van sy ingenieurs laat gaan het en vervang het met mense wat nooit gaan weet wat aangaan nie, al vra jy hulle om hul vingers in die muurprop te druk. Die klaaglike mislukking van die regering se transformasieprogram staan so helder uit soos die volmaan in ’n kraglose nag.

Dis ook nie waar dit ophou nie. ’n Anekdote wat by my spook, is dié van Paul Theroux in sy meesterstuk Dark Star Africa oor sy tog te voet van Kaïro tot in die Kaap. Toe hy die grens met Zimbabwe oorsteek, het die nag skielik oopgegaan vir hom. Waar hy gewoond geraak het aan die donkerte noord van die Limpopo, is hy begroet met vlammende lig van dorp tot dorp, op die paaie en 24 uur lank in die stede.

Ek onthou sulke nagte in die res van Afrika, waar week lange beurtkrag natuurlik is, die mense wat in stilte met wit oë langs die strate sit en wag dat hul buurt se ligte aangaan vir die uur of wat wat vir hulle beskore. Dis net in Suid-Afrika, en miskien Namibië en stede soos Harare in sub-Sahara-Afrika, waar elektrisiteit ’n gegewe is, iets waarvan mense kan vergeet terwyl hulle al die belangrike dinge doen wat mense deesdae snags doen.

In ’n Kongolese dorp genaamd Kabamba aan die Tanganjikameer is daar ’n kragstasie met ’n turbine wat direk van ’n steenkoolvuur af loop. Die steenkool kom van oor die meer van Tanzanië af, een maal per week per boot. Soms daag die vrag nie op nie; hoekom weet niemand nie altyd nie – die myners het gestaak, die regte omkoopgeld is nie betaal nie, rebelle het die boot aangeval. Dan wag die enkele tegnikus maar geduldig tot die volgende week, en die dorp se handvol rykes kyk Franse TV gekoppel aan motorbatterye, tot dié ook vrek. ’n Mens kan die hawe sien van die kragstasie af; en die tegnikus skakel die reusagtige turbine, wat bibber en bewe in sy lendelam staalstellasie so groot soos ’n skoolsaal, aan eers wanneer die boot sy anker laat sak het.

 In Nigerië is daar ’n hele bedryf vir “generator boys”, bendes wat kragopwekkers regmaak en hul markte soos taxi-wagte in Suid-Afrika bewaak.

In Tokio het ’n student my vertel dat sy nie by een van die top-universiteite kon inkom nie, en daarom by een aan die buitewyke swot. Een van die voordele van die sentrale universiteite is dat hulle die staatsbepaalde temperature vir lesingsale in die winter mag opskuif.

 In Jokohama het ek een van die interessantste middae van my loopbaan deurgebring, by die elektrisiteitsmuseum. Dit vertel die geskiedenis van kragopwekking in Japan, en ek kon vir die eerste keer sien hoekom “baseload” so belangrik is. Aanvanklik het die Japanese in hul moderniseringsfase aan die begin van die 20ste eeu klein kragstasies vir plaaslike gebruik oral opgerig. Maar hulle het gou agtergekom dat dit die netwerk te onstabiel gemaak het, met die gevolg dat transmissietoerusting gedurig uitgebrand het. Soos elders in die wêreld moes hulle die kragreuse soos iets uit Tolkien se Mordor bou waaraan gevorderde gemeenskappe so gewoond is.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die Amerikaners probeer om Japan te kniehalter deur die elektrisiteitsnywerheid aan bande te lê. Die Japannese moes toerusting insmokkel vir die hidro-elektiese krag wat hulle wou aanlê. Enkele jare daarna het Japannese elektrisiteit die wêreld begin verander, via die grondslag wat dit gelê het vir Japan se dominasie van die verbruikerswese.

In Jokohama is dit uitgespel by ’n reusevoorstelling van ’n kernreaktor: om in die globale vraag na elektrisiteit te voorsien, sal 30 000 kernkragstasies teen 2050 gebou moet word. Dit gaan nie gebeur nie.

Die prentjie wat ek na hierdie reise het, is dat elektrisiteit altyd ’n sukkelding in die Derde Wêreld sal wees. Haar toekoms is groen, maar dit beteken nog meer toerusting wat net in nywerheidslande gemaak kan word, nog meer tegnici wat hul leiding van die leidende tegnologiese lande, dus ook die geïndustrialiseerdes, gaan neem. Dit sal sorg vir ’n ewigdurende breindrein na die voormalige koloniale sentra van die wêreld (en ook na China en Indië).

Die mens is vernuftig genoeg om altyd elektrisiteit te gaan hê, en die kanse is goed dat almal basiese beligting sal hê, maar dit lyk ook of dit die basis vir voortgesette ongelykhede in die toekoms gaan wees. In Suid-Afrika gaan Koeberg nie vir ewig hou nie en is ons reeds besig om vinnig te deïndustrialiseer, wat duurder invoere beteken, stygende inflasie en uiteindelik ’n krimpende elite, verskans agter sy nuwe apartheidsmure.

Hierdie elite sal altyd lig en warm water hê. Vir die res – nou ja, beurtkrag sal die kersbedryf laat groei en nuwe werk skep, dan nie?

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top