Vandale saai verwoesting in Wes-Kaap se skole

  • 0

Skole in die Wes-Kaap word op ongekende wyse deur vandale geplunder.

Meer as 40 skole in die provinsie het die afgelope skoolvakansie onder vandale deurgeloop en gemiddeld twee skole word elke dag geplunder.

“Die spoor van verwoesting in skole is ’n ernstige probleem,” sê die LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, Debbie Schäfer, in ’n verklaring wat deur haar departement uitgereik is.

Die onlangse voorvalle waartydens 42 skole geplunder is het van 14 Junie tot 9 Julie plaasgevind tydens die afgelope skoolvakansie. Honderde skole word egter gedurende die jaar deur plundery verniel.

Altesaam 768 Wes-Kaapse skole het verlede jaar onder misdade van vandalisme deurgeloop. Die skokkende syfers is op Schäfer se versoek aan haar verskaf nadat sy die departement verlede week versoek het om haar te voorsien van inligting rakende inbrake en vandalisme by skole gedurende die afgelope vakansie. Sy sê die syfers is skokkend.

Binne ’n tydperk van 24 dae het 42 skole deurgeloop onder inbrake of vandalisme teenoor 27 gevalle in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Schäfer sê toe sy statistiek vir langer tydperke aangevra het, was sy nog meer geskok. Gedurende die eerste ses maande verlede jaar is daar by 395 skole ingebreek of is deur vandale geteister teenoor 471 skole vanjaar gedurende die eerste ses maande. 

............
“Selfs skole met veiligheidswagte word geplunder. Die wagte is self die teiken van die vandale en 24 van die 42 skole wat die afgelope vakansie deurgeloop het, het spesiale sekuriteit vir die vakansie gehad.”
............

Sy sê die voorvalle is nie net tot die Kaapse Metro beperk nie. ’n Skool in George het byvoorbeeld vanjaar reeds 10 voorvalle van inbraak en vandalisme aangemeld. Ander skole in die Paarl, Langebaan en Laingsburg het elk agt voorvalle gerapporteer.

Sy sê dit is ’n provinsiale probleem wat deur almal aangespreek moet word. “Ons skole behoort ’n plek te wees waarheen kinders moet gaan om te leer en nie om te plunder en te steel nie.”

Die provinsie se departement van onderwys doen reeds baie om veiligheid by skole te verskerp, maar selfs die skole met hoë sekuriteit word deur die vandale geteiken. Volgens Schäfer het haar departement ’n rol om te speel by die beveiliging van skole en te help met sekuriteitsmaatreëls soos heinings, diefwering, alarmstelsels en gewapende reaksie-eenhede, maar dit kos baie geld.

Sy sê die Wes-Kaapse onderwysdepartement voorsien 24-uur sekuriteit by sommige skole. Dit is geweldig duur en dit is nie altyd moontlik om te voorspel waar en wanneer skole geteiken gaan word nie.

Selfs skole met veiligheidswagte word geplunder. Die wagte is self die teiken van die vandale en 24 van die 42 skole wat die afgelope vakansie deurgeloop het, het spesiale sekuriteit vir die vakansie gehad.

In Meimaand vanjaar is een van die sekuriteitswagte by Woodlands Sekondêr tragies vermoor terwyl hy by die skool aan diens was. Drie ander skole het ook voorvalle rapporteer waar die veiligheidswagte vanjaar aangeval is.

Die LUR het ’n dringende beroep op die publiek, organisasies en die regeringsdepartemente gedoen om almal saam te staan en die euwel te help uitroei.

Sy sê hulle is aangewese op die Suid-Afrikaanse polisie om die veiligheid in en om skole te help verseker, maar die provinsie se polisie is so onderbeman dat voldoende sigbare polisiëring by skole nie moontlik is nie. Daar word ook nie vinnig genoeg reageer op klagtes nie.

“Ons skole moet voorgaan om vennootskappe te sluit met plaaslike buurtwagte, gewapende reaksie-eenhede en om met die plaaslike polisiestasies te skakel om bykomende patrollies by skole te doen.”

Volgens Schäfer bly die gemeenskap self die doeltreffendste teenvoeter vir vandalisme by skole. Sy sê hoewel daar nie van mense verwag word om self betrokke te raak in pogings om die vandale aan te keer nie, behoort die gemeenskappe hulle oë en ore oop en hou en enige voorvalle van vandalisme en plundering by skole so gou as moontlik te rapporteer.

’n Woordvoerder van die departement, Brian Hammond, sê die voorvalle vind gewoonlik ná skool plaas wanneer die klasse verdaag het.

Schäfer se volledige verklaring kan hier gelees word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top