Vanjaar se staatsrede is ANC se nagmerrie

  • 0

President Cyril Ramaphosa lewer môre sy sewende staatsrede in die parlement teen die agtergrond van voortgesette verdeeldheid en dalende steun in sy party. Daar is ook voortgesette bewerings van korrupsie tot op die hoogste regeringsvlak.

Daar word wyd bespiegel dat Ramaphosa tydens sy staatsrede ook die datum sal aankondig wanneer vanjaar se algemene nasionale en provinsiale verkiesing sal plaasvind.

Ramaphosa sal sy 2024-staatsrede op 8 Februarie 2024 om 19:00 by die gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies by die Kaapstadse stadsaal lewer. Dit is die finale staatsrede vir die 6de administrasie voordat die parlement later vanjaar ontbind word met die oog op die verkiesing.

’n Nuwe opname toon dat die waarskynlikheid groter as ooit is dat Suid-Afrika ná die komende algemene verkiesing ’n koalisieregering gaan hê.

Die opname, deur die Brenthurst-stigting, het bevind dat daar merkbare belangstelling in die Veelpartykoalisie (bestaande uit die DA, IVP, Action SA, Vryheidsfront Plus, ACDP, asook ’n aantal kleiner partye) is. Die opname, wat deur middel van breedvoerige onderhoude gedoen is, toon ook ’n afname van 48% tot 42% persent in president Ramaphosa se gewildheid onder Suid-Afrikaners.

Die staatsrede, wat op piektyd oor die televisie uitgesaai word, is veronderstel om te dien as ’n geleentheid vir die president om die nasie te voorsien van feitelike en substantiewe inligting oor die regerende party se kollektiewe vordering van die afgelope jaar.

Volgehoue beurtkrag, swak ekonomiese prestasie, misdaad en gebrekkige dienslewering is enkele van die faktore wat dit vir Ramaphosa uiters moeilik gaan maak om die land se verbeelding aan te gryp.

Politieke waarnemers voorspel ’n herhaling van die gewone retoriek, met geen of weinig erkenning van die land se grimmige werklikheid onder ANC-bewind nie.

Met nuwe partye wat soos paddastoele opskiet, is alle hoop verlore in die regerende party, sê die navorsingsdirekteur van die Brenthurst-stigting op hulle webwerf.

Volgens die meeste ontleders lyk dit asof die ANC ten minste op nasionale vlak steeds ten alle koste aan die mag sal vasklou. Dit is egter geen uitgemaakte saak dat hulle weer ’n volstrekte meerderheid sal behaal in die verkiesing nie, en hulle mag dalk gedwing word om ’n koalisievennoot te vind.

Daar word verwag dat Ramaphosa Donderdag selektief  ’n paar positiewe, maar onverwante, gebeure oor die afgelope jaar sal probeer uitlig – soos die Wêreldrugbybeker-triomf en Suid-Afrika se onlangse sukses by die Wêreldhof toe Israel oor die vingers getik is oor die oorlog in Gaza.

Die Organisasie teen belastingmisbruik (Outa) het op X gesê die Outa-span het besluit om nie vanjaar na die uitsending van die staatsrede op TV te kyk nie.

“Suid-Afrikaners moet dalk hul sosialemediastatus verander na ‘Kyk nie na staatsrede nie’,” sê Outa.

“Dit is my visie vir die Staatsrede 2024: ’n kollektiewe, aktiewe burgery in alle sektore van die samelewing, wat dit as die belangrikste niegebeurtenis in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis uitwys. Want dit is presies wat dit geword het en nou is dit tyd om vir die president te wys: Ons kyk nie sy staatsrede nie. Kom ons laat dit gebeur.”

Outa het ook ’n meningspeiling op X geplaas waarin Suid-Afrikaners oor hulle mening gevra word. Outa wil weet hoeveel mense na die staatsrede gaan luister, wie gaan luister maar skepties daaroor is, en wie glad nie belangstel om na die President se toespraak te luister nie.

Meer as 90 persent van diegene wat op die meningspeiling reageer het, sê hulle beskou dit as ’n nuttelose geraas. Minder as twee persent het aangedui dat hulle groot veranderings of aankondigings in Ramaphosa se toespraak verwag.

In die bespreking van die staarsrede in die daaropvolgende week sal die vonke na verwagting behoorlik spat soos wat opposisiepartye die regering in die aanloop tot die verkiesing op elke moontlike manier probeer bykom.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top