VBS-plunderaars uiteindelik in die hof

  • 0

Sommige van diegene wat by die plundering van die VBS Mutual Bank betrokke was, se hofdatum het na vyf jaar uiteindelik aangebreek toe 14 van hulle Maandag in die Pretoriase Hooggeregshof verskyn het.

Byna R3 miljard van meestal arm mense uit die landelike gebiede, veral rondom die bank se hoofkwartier in Thohoyandou, Limpopo, is geplunder. Sowat 14 munisipaliteite in Limpopo, Noordwes en Gauteng het miljarde rand verloor nadat geld onwettig by die bank belê is.

Die saak is vroeër vanjaar tot gister (Maandag) uitgestel weens die onbeskikbaarheid van ’n regter om die saak te verhoor.

Die groep van 14 beskuldigdes word daarvan aangekla dat hulle na bewering R2,3 miljard van die bank gesteel en die finansiële state tussen 2015 en 2018 gemanipuleer het.

Die DA-parlementslid Kevin Mileham sê in ’n verklaring alhoewel die wiele van geregtigheid nou eers begin draai, vyf jaar nadat die DA ’n klag gelê het, is dit sy opregte hoop dat dit die eerste van verskeie sake is wat die beweerde diewe voor die gereg sal bring.

Mileham het in 2018 klagte teen 53 persone gelê wat na bewering by die plundering van die VBS Mutual Bank betrokke was. Dit sluit ook lede van die ANC in. Mileham sê sy party verwelkom hierdie betekenisvolle ontwikkeling, wat ’n kritieke eerste stap is om die eerste 14 oortreders van die VBS-roof tot verantwoording te roep.

“Al is die EFF se Julius Malema en Floyd Shivambu nie deel van die 14 wat Maandag voor die Pretoriase Hooggeregshof verskyn het nie, vorm hul beweerde deelname aan die grootskaalse plundering van VBS, wat die pensioene van kwesbare bejaardes uitgewis het, deel van die ondersoeke daaroor wat steeds aan die gang is,” het Mileham gesê.

Floyd Shivambu, adjunkpresident van die EFF, het na bewering versuim om drie betalings van die nou ontbinde VBS-bank bekend te maak, volgens die parlement se waarnemende registrateur van ledebelange, Anthea Gordon.

Gordon het dié onthulling gemaak in reaksie op ’n klag deur die DA.

In ’n brief wat Gordon Maandag aan die DA geskryf het en wat News24 glo onder oë gehad het, het sy gesê sy skryf namens die gesamentlike komitee vir etiek en ledebelange wat dit op sy vergadering van 28 September 2023 bespreek het na aanleiding van die DA se klagte teen Shivambu.

Volgens Gordon is die klagte “verwant aan die Venda Mutual Bank Society- (VBS-) skandaal”.

Mileham sê in ’n beëdigde verklaring van 11 bladsye wat hy by die Kaapstadse polisiestasie afgelê het, dat hy ook goedgedokumenteerde anekdotiese bewyse voorgelê het wat gewys het hoe kwesbare mense, soos mynwerkers se weduwees, en swaar geteisterde munisipaliteite se geld na bewering by hulle gesteel is deur politici en korrupte amptenare deur middel van die VBS Bank-plundery wat na bewering ’n verskeidenheid onwettige skemas gebruik het.

Die gevolge van hierdie rooftog was geweldig. Die kurator van VBS het aangedui dat dit onwaarskynlik is dat munisipaliteite hul gedeponeerde fondse sal terugkry.

Dit beteken dat hierdie munisipaliteite, wat van die armstes en die swakstes in die land insluit, steeds sukkel om basiese dienste te lewer.

In die Groter Tubatse Plaaslike Munisipaliteit is basiese dienste soos watervoorsiening en die voltooiing van honderde HOP-huise vertraag weens die verlies van sowat R245 miljoen wat onwettig in VBS belê is. Die Groter Giyani-munisipaliteit het R161 miljoen verloor. Vhembe Distriksmunisipaliteit het R311 miljoen verloor, wat gelykstaande is aan ’n derde van hul jaarlikse bedryfsinkomste.

“In ag genome die hoeveelheid tyd wat verloop het sedert die skandaal deur die DA ontbloot is, het van die VBS-plunderaars begin dink hulle het met hul groot diefstal weggekom. Die DA sal dit nie laat gebeur nie en ons sal verseker dat elke geïmpliseerde individu voor ’n geregshof gedaag word om vir sy of haar beweerde kriminaliteit verantwoording te doen,” het Mileham gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top