Drie verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met VBS Bank-korrupsie waarby R148 miljoen betrokke is, het Woensdag in die Giyani-landdroshof verskyn om vir borgtog aansoek te doen.
Die drie individue, onderskeidelik 33, 42 en 64 jaar oud, is Dinsdagoggend vroeg in Lulekani, Giyani en Muhuya in Thohoyandou vasgetrek tydens ’n klopjag wat deur die Valke se ernstigekorrupsie-ondersoekeenheid uitgevoer is.
#sapsHAWKS Three more suspects were arrested for over R148 million VBS corruption.
During 2017, two of the suspects invested a total of R148 656 282 into VBS Mutual Bank. Large amounts were paid to VBS affiliated companies as so called "commissions". Some of this money was… pic.twitter.com/78XGLBiKoJ— SA Police Service ???????? (@SAPoliceService) March 5, 2024
Die 64-jarige verdagte was voorheen die finansiële hoof en waarnemende munisipale bestuurder vir die Groter Giyani Plaaslike Munisipaliteit. Hy is in hegtenis geneem op aanklagte van oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA), korrupsie en geldwassery.
Die 42-jarige, wat in Giyani gearresteer is, was ’n finansiële bestuurderes en waarnemende hoof- finansiële beampte en is tans die hoof- finansiële beampte van Giyani. Sy staan tereg op aanklagte in verband met die MFMA. Die 33-jarige derde verdagte, ’n sakeman, is in Muhuya in hegtenis geneem op aantygings van geldwassery.
Gedurende 2017 het twee van die verdagtes altesaam R148 656 282 in VBS Mutual Bank belê. Groot bedrae is na bewering aan VBS-geaffilieerde maatskappye betaal as sogenaamde kommissies. Van hierdie geld is na bewering deur verskeie bankrekeninge gewas, insluitend dié van die derde verdagte. Vanaf dié verdagte se maatskappy is na bewering ’n totale bedrag van R87 600 oor ’n tydperk aan die eerste verdagte betaal as gratifikasie, wat ’n groot verlies vir die Giyani Munisipaliteit was.
VBS Mutual Bank was ’n Suid-Afrikaanse bank wat in 2018 insolvent en bankrot verklaar is en onder kuratorskap geplaas is, met Suid-Afrikaanse burgers en belastingbetalers wat na bewering uit sowat R2 miljard bedrieg is.
Teen November verlede jaar was 32 mense reeds in hegtenis geneem vir hul aandeel in die VBS-skandaal. Min mense is tot dusver gevonnis, en ’n skikking buite die hof het baie slagoffers kwaad gemaak.
ActionSA het die arrestasie van die drie verdagtes verwelkom. Die party sê in ’n verklaring die omvang van korrupsie in die VBS-bank het munisipaliteite en die land se mense duur te staan gekom, veral die straatverkopers en arm pensioenarisse wat van hul swaarverdiende gelde en pensioene beroof is, terwyl sogenaamde comrades en sekere sakemanne luuks geleef het van die sogenaamde winste uit die "beleggings".
“Hierdie kultuur van openlike plundering en korrupsie wat ons staatsinstellings uitgekalwe het, moet onbeskaamd in hierdie komende verkiesings uitgestem word as ons ’n welvarende Suid-Afrika wil sien,” sê ActionSA.
ActionSA se premierskandidaat vir Limpopo in die komende verkiesing, Kgoshi Letsiri Phaahla, sê sy party sal hervormings aan Suid-Afrika se antigeldwasserywetgewing implementeer om te verseker dat Suid-Afrika nie meer ’n veilige hawe is om die opbrengs van kriminele aktiwiteite te was nie.
“Verder sal ons die minimum vonnis vir enigiemand wat skuldig is aan korrupsie in transaksies van meer as R500 000 (in transaksiewaarde, nie net in opbrengs uit korrupsie nie), verhoog tot 15 jaar gevangenisstraf sonder die moontlikheid van ’n boete of parool.”
Hierdie vervolgings sal onder gespesialiseerde antikorrupsie howe gedoen word om die vervolging van korrupsiesake te bespoedig en ’n kultuur van aanspreeklikheid te vestig. Die dae van brutale misdadigheid deur openbare amptenare sal tot ’n einde kom onder ’n ActionSA-geleide regering, het die party belowe.
Namate al hoe meer mense vir die VBS-saak gearresteer word en dit al hoe nader aan die EFF-leier Julius Malema en sy kollegas se bas kom, het mense op sosiale media die hoop uitgespreek dat al die skuldiges aan die pen sal ry.
Die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange het Floyd Shivambu, adjunkpresident van die EFF, verlede jaar skuldig bevind aan die oortreding van die LP's se etiese gedragskode en bekendmaking van ledebelange deur te versuim om die R180 000 van VBS Mutual Bank-geld wat hy ontvang het, bekend te maak.
’n Lys van beweerde betalings wat Julius Malema persoonlik met sy kaart gemaak het met die geld wat hy na bewering van VBS gebuit het, is die afgelope week ook weer op sosialemediaplatforms geplaas, hoewel daar nog geen klagte teen die EFF-leier gelê is nie.
As more people are arrested for the VBS matter and it gets closer and closer to the EFF leader Julius Malema, Reminder of the list of payments Julius Malema personally made with his card using the money he looted from VBS. (This money was the life savings of grannies, widows and… pic.twitter.com/PeXQOw5K3t
— Goolam (@goolammv) March 6, 2024