Sewe van die land se opposisiepartye het ooreengekom om ’n voorverkiesingsooreenkoms te sluit voor volgende jaar se algemene verkiesing in ’n poging om die ANC uit die kussings te lig.
Daar sal egter nog baie water in die see moet loop voordat die groep partye, waarvan sommiges weinig steun het, genoeg stemme sal kan trek om die ANC te verslaan.
Tensy nóg partye, burgerlike organisasies, geloofsleiers en veral die sakegemeenskap ook inkoop in die nuwe groep se droom en hulle gewig daarby ingooi, is daar weinig kans om volgende jaar meer as vyftig persent van die stemme op hulle gesamentlik te verenig.
Daar is besluit dat die ooreenkoms, wat aanvanklik deur die DA-leier, John Steenhuisen, die Moonshot-pact gedoop is, as die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika bekend sal staan.
The Multi-Party Charter for South Africa
What was previously known as the “Moonshot Pact” has now been renamed to the “Multi-Party Charter for South Africa”.
This follows the call to move away from the “moonshot” identity announced by the DA, which some felt was detached from… pic.twitter.com/82ujBJXYzB
— Multi-Party Coalition Advocacy Group (@MultiCoalition) August 16, 2023
Die partye wat deelgeneem het aan die afgelope week se nasionale konvensie in Kempton Park is die DA, IVP, Vryheidsfront Plus, ActionSA en kleiner partye, naamlik die Spectrum National Party, Independent Civic Action (Isanco) en die United Independent Movement.
Die sewe partye het in ’n gesamentlike verklaring gesê die gesprekke om ’n nuwe regering ná volgende jaar se verkiesing in te stel het onder leiding van die onafhanklike voorsitter, William Gumede, goeie vordering gemaak op die eerste dag se samesprekings.
Multi-Party National Convention Makes Solid Progress Towards a Pre-Election Agreement
Joint Press Statement by the DA, IFP, FF Plus, ActionSA, ISANCO, UIM and SNP
The political parties involved in negotiating a pre-election agreement to inaugurate a new government following… pic.twitter.com/fxN3H71q77
— Multi-Party Coalition Advocacy Group (@MultiCoalition) August 16, 2023
Hulle sê die beraadslagings was robuus maar konstruktief. Hulle kon reeds op die eerste dag oor ’n aantal prioriteite ooreenkom wat deel van so ’n nuwe koalisieregering sal wees indien hulle aan bewind sou kom.
Daar is ooreengekom dat hulle gedeelde visie vir Suid-Afrika ’n nuwe regering sal wees wat ’n regverdige, inklusiewe en welvarende Suid-Afrika bou, gebaseer op geleenthede, vryheid en veiligheid vir al sy burgers.
Die prioriteite waaroor daar ooreengekom is, is die volgende:
- Om die ekonomie te laat groei en werk te skep.
- Beëindiging van beurtkrag en bereiking van energiesekuriteit.
- Die bereiking van wet en orde wat misdaad, korrupsie en dwelms bekamp.
- Versekering van kwaliteitonderwys wat geleenthede vir almal bied.
- Die lewering van basiese dienste aan almal deur hoëkwaliteit-infrastruktuur.
- ’n Professionele openbare sektor wat aan almal dienste lewer en die beëindiging van kaderontplooiing.
- Versekering van kwaliteitgesondheidsorg vir almal binne ’n sorgsame gesondheidsorgstelsel.
- Bou van ’n maatskaplikeverligtingsraamwerk vir Suid-Afrikaanse huishoudings wat in armoede leef.
Sentraal in die bereiking van die visie en prioriteite van ’n nuwe regering is die behoefte om te verseker dat bestuur onderlê word deur ’n etos wat poog om Suid-Afrika se langtermyn- beste belange te bevorder.
Hulle sê as sodanig het hulle ooreengekom dat die nuwe koalisieregering sal regeer in ooreenstemming met gedeelde bestuursbeginsels wat verbind is tot:
- Die Suid-Afrikaanse Grondwet, die oppergesag van die reg en gelykheid voor die reg.
- Desentralisering van mag na die laagste effektiewe regeringsvlak.
- Verantwoordbare, deursigtige regering met geen verdraagsaamheid vir korrupsie nie.
- Bekwame regering wat publieke geld doeltreffend bestee om kwaliteitdienste aan almal te lewer.
- ’n Omgeeregering wat mense eerste stel en die armes prioritiseer.
- ’n Oop markekonomie.
- Beleid wat gelei word deur bewyse dat dit positiewe resultate vir die samelewing lewer.
- Regstelling van die onregverdige verlede deur nierassigheid en eenheid in diversiteit te bevorder.
Die DA-leier, John Steenhuisen, wat die konvensie geïnisieer het, het Woensdag op de eerste dag van die beraad gesê vir die partye se voorneme om te kan slaag, kan en moet dit nie ’n suiwer anti-ANC-projek wees nie.
Hy sê dit moet eerder ’n pro-Suid-Afrikaanse projek wees.
“As hierdie partye na vore kom met ’n ooreenkoms om nie net die ANC te verslaan nie, maar om Suid-Afrika te red, dan vra ek dat u dit as ’n sukses beoordeel.”
Steenhuisen sê die land het nie ’n sekonde om te mors nie. “Dit is nou die tyd vir alle leiers om kleinlikheid, ego en die verlede opsy te sit, sodat ons op die toekoms kan fokus.”
Hy het die DA, wat die grootste deelnemende party is, onherroeplik tot hierdie projek verbind.
Hy sê baie mense het gedink hulle sou nooit eers by hierdie punt uitkom en om dieselfde tafel sit om gemeenskaplike oplossings te vind nie. Die partye moet volgens hom beoordeel word aan die uitkoms van die afgelope week se konvensie en kiesers moet dan besluit of dit oplossings bied vir die probleme waarmee Suid-Afrikaners in hulle daaglikse lewe te kampe het.