Veeltaligheid wêreldwyd: ’n oorsig van ’n onlangse werkswinkel

  • 0

Dawid wa Maahlamela, Amiena Peck, Salikoko Mufwene en Peter Vale

In die Vaaldriehoek is daar ’n nuwe gebruik vir Afrikaans. Die kinders van Kongolese migrante wat die taal op skool aanleer, het ontdek dit dien goed as ’n kodetaal, een waarin hulle met mekaar kan konnekteer sonder dat ander mense, veral hul ouers, hulle kan verstaan. ’n Klein oorwinning dus – van die taal van verdrukking het Afrikaans verander in taal van adolessente rebellie.

Hierdie verskynsel is onthul deur Taty Dekoke, professor in Frans aan die Noordwes-Universiteit se kampus te Vanderbijlpark. Dit was by einde Junie se kollokwium oor veeltaligheid by die Johannesburg Institute for Advanced Study (JIAS) in Johannesburg. Dit was egter so ver as wat Afrikaans gevorder het; onder ander sprekers was dit duidelik watter skade die stigma van apartheid en selfisolasie aan die taal aangerig het en steeds aanrig.

Die Kongolese kinders kan dit as kodetaal gebruik juis omdat niemand anders dit wil aanleer nie. In ’n ander voorlegging het Dawid wa Maahlamela, ’n digter van Polokwane, aangevoer dat Afrikaans nie meer die “enjin” van tsotsitaal is nie, weens die stigma, wat eintlik verdiep het sedert die apartheidsdae. Zoeloe dryf tsotsitaal nou in Soweto aan, in die vorm wat bekend staan as isicamtho.

Waarby die algemene taalstryd wel baat kan vind, was in argumente om die mite die nek in te help slaan dat pro-Afrikaanse akademici veeltaligheid aangryp bloot as tydelike en gerieflike kwessie om eintlik Afrikaans te bly gebruik as middel om apartheidsvoordele te behou. Die studie van veeltaligheid is besig om ’n revolusie te ondergaan: die ontdekking van die omvang en belang van veeltaligheid is nie beperk tot Afrikaanse aktiviste nie; dit is besig om ’n nuwe veld vir aktivisme dwarsdeur die wêreld te word.

“Die toekoms is onbekend,” het Salikoko Mufwene van die Universiteit van Chicago gesê. “Ek weet net eentalig gaan nie deel daarvan wees nie.” Die titel van sy praatjie was “There’s a future for multilingualism, contrary to the dominant discourse on language endangerment and loss”, en hy het gewys hoe nuwe bronne van taalvitaliteit gedurig ontstaan in ’n wêreld wat drasties aan die verander is weens toenemende migrasie en tegnologiese vooruitgang.

Waar migrasie sedert die 15de eeu hoofsaaklik van die globale noorde (of eerste wêreld in die ou taal) na die suide (derde wêreld) geskied het, het die rigting in die laaste paar dekades omgekeer. Maar waar Europese of ander emigrante enkelkaartjies gehad het, het hedendaagse migrante retoerkaartjies. Hulle beplan hul lewens rondom periodieke besoeke tuis, stuur geld terug aan familielede en hou daaglikse kontak deur middel van programme soos Skype.

Hierdie situasie is besig om die taalbeleid en -beplanning van regerings omver te werp. Mufwene en Yin-Ying Tan van die Nanyang Tegnologiese Universiteit in Singapoer het verduidelik hoe die feit dat die meeste nasiestate in die 19de eeu gestig is, gelei het tot die vestiging van nasionale tale en die afdwing van eentaligheid in daardie state. Die groot gees wat dit aangedryf het, was Johann Gottfried Herder, die Duitse aartspatriot wat op sy dag ’n radikale filosoof was omdat hy aarts-Duits bevorder het as taal van die volk. Eentaligheid het dus gedien as republikeinse gereedskap om eenheid onder die massas teenoor die aristokrasie te bewerkstellig.

As koloniale heersers het Europese lande dieselfde eentaligheidsmatrys op hul kolonies afgedwing. Hul veeltaligheid is as aanduiding van primitiwiteit gesien, ’n struikelblok in die vestiging van nuwe nasies en ekonomieë. Dat eentaligheid te danke is aan kolonialisme en imperialisme was ’n aanname wat vlak in die subteks van omtrent elke aanbieding by die kollokwium gelê het.

Mufwene het daarop gewys dat plaaslike tale in slegs twee gevalle teruggeveg het teen eentaligheid: Afrikaans hier en Frans in Quebec, Kanada. Maar selfs hierdie stryde het geskied (en hierby het hy aangesluit by Ng Bee Chin van die Nanyang Tegnologiese Universiteit) binne die meesternarratief van nasionale tale en daarom van tweetaligheid as ’n soort uitstulpsel daarvan – beide in Suid-Afrika en Quebec was die taalstryd diep in nasionalisme gewortel. Sedert die 1960’s het die opkoms van sosiolinguistiek dus gepaard gegaan met ’n fokus op tweetaligheid as variasie op eentaligheid, veral omdat Noord-Amerikaanse, en spesifiek Kanadese, akademici die diskoers oorheers het.

Pogings sedert die laat 1990’s om veeltaligheid as nuwe raamwerk en vertrekpunt te vestig, het die wind van voor gekry, het Chin gewys. Dit was eers in 2014, met die publikasie van verskeie nuwe boeke dat die akademie begin besef het dat die wêreld in tale praat en dat ’n ontsaglike nuwe veld aan die oopgaan is. Die einste kollokwium in Johannesburg is inderdaad besig met baanbrekerswerk, na ’n soortgelyke kollokwium in Singapoer vroeër vanjaar.

Die wêreld praat in tale … as daar een indruk is wat bly na die twee dae van soms opgewonde gesprekke aan alle soorte tafels, is dit die Babelse verwarring wat dreig om almal te oorrompel. Mufwene het die een na die ander resep, templaat of selfs patroon afgeskiet wat aan navorsers gereedskap sou kon verskaf om die tier van taal te begin tem. Die naaste wat hy aan so iets kon kom, was om te postuleer dat die afdwing van eentaligheid altyd van oos na wes geskied het. Dit was waarskynlik omdat die hawestede waar immigrante en koloniale magte ’n gebied binnegegaan het, toevallig aan die westekant van vastelande of gebiede was. Die boorlinge in die binnelande van dié gebiede het nie die tegnologie of vernuf gehad om hulle terug die see in dryf nie, en so het Brittanje, Amerika en China eentalig geword.

’n Tweede blywende indruk is dat die vermenging van tale nie meer gesien kan word as ’n soort afwyking, ’n skandvlek op die ontwikkeling van gesentraliseerde standaardtale nie. Dit is die norm, en aan die orde van die dag van die suide van Amerika tot in Singapoer, waar Singlish aan die opkom is. Dekoke se navorsing het gewys: waar daar reeds veeltaligheid is, word die veeltaligheid van nuwe aankomelinge onderskraag. Sotho-sprekers in die Vaaldriehoek vereis van Kongolese migrante om Sotho eerder as Engels te leer en eerder Lingala as Frans te praat, “want net wit mense praat net een taal”. So sterk is dié aandrang dat Kongolese kinders nie gretig is om Frans te leer nie, “want dis ’n sterwende taal”.

Verskeie ander studies het gewys hoe maklik en gereeld mense in dieselfde gesprek van taal verwissel. Bertus van Rooy van Noordwes-Universiteit en Haidee Kruger het die kommentaar op sosiale media oor Suid-Afrikaanse sepies ondersoek. Terwyl Engels dien as statustaal, vleg plaaslike tale daardeur as ’n manier om identiteite te produseer. So diep “menslik” is hierdie aktiwiteite dat die elektriese ingenieur Chng Eng Siong van Nanyang se voorlegging eintlik net een nut gehad het: om te wys hoe ver selfs die jongste spraakherkenningstegnologie daarvan is om menslike taalvermoëns genoegsaam na te boots. Sy span se navorsing fokus onder meer op kodewisseling, met as voorbeelde die blitsvinnige wisselinge tussen Chinees, Maleisies en Engels onder tieners in Singapoer.

Twee navorsers het gewys waarom hierdie vermengeling veral in Suid-Afrika van belang is.

Amiena Peck van die Universiteit van Wes-Kaapland se span het ’n laerskool met Afrikaans-, Engels- en Xhosasprekende kinders gaan besoek. Gebede is net in Afrikaans en Engels opgesê, en hulle het die onderwyser gevra om die leerlinge een in Xhosa te laat produseer, in oorleg met familielede tuis. Hul opgewondenheid was duidelik in ’n video van die voordrag wat Peck gewys het, met die opmerking dat, anders as gewoonlik, geen moeite ondervind is om die leerlinge van die speelterrein terug in die klaskamer te kry nie.

Peck het taalregte as deel van ’n menseregtebedeling teenoor “talige burgerskap” (linguistic citizenship) gestel: die taal wat jy gebruik as ’n uiting van jou burgerskap. ’n Menseregtebedeling bevestig bloot regte, terwyl laasgenoemde taalbeleid transformeer. Die eerste let selektief op afsonderlike groepsregte, met die doel om historiese agterstande uit te wis, maar met die gevolg dat dit individue met mekaar laat wedywer. Uiteindelik triomfeer Engels tog oor alle ander tale.

Talige burgerskap laat ’n veel breër konsepsie van taal toe as net dit wat beperk is tot formele taalkundige ontleding – dit neem ook die onkonvensionele, ongeïnstitusionaliseerde gebruike van taal in ag. Baie meer ruimte word aan die herkonfigurering van taal, die herverdeling van genres van taal en toepassings oor alle vorme en grense heen geskenk.

Ter verduideliking van die “strategiese” keuse van kinders as subjekte vir haar projek, het Peck gesê hulle kinders is natuurlike eksperimenteerders en besef instinktief wat hul taalburgerskap beteken. Hulle het hul onderwyser as “dom” beskryf omdat sy nie in staat sou wees om die Xhosagebed wat hulle saamgestel het, te leer nie.

Hoe vermenging van taal meer as net die genotvolle gebruik van taal kan wees, is gedemonstreer deur Bassey Antia, ook van die Universiteit van Wes-Kaapland. Met die “lasbrief” van die instelling se taalbeleid in sy sak het sy departement (van linguistiek) sedert 2017 potgooie en vertalings van lesings (alle ander lesings by die universiteit is in Engels) in Standaardafrikaans, Kaaps-Afrikaans en Xhosa digitaal aan studente beskikbaar gestel. Byna almal het voor hierdie diens hul vervreemding van die instelling uitgespreek.

Hulle is voorts toegelaat om eksamens en take in die taal van hul keuse te skryf, maar waar dit van ander instellings verskil het was dat dit in meer as een taal tegelyk gedoen kon word, byvoorbeeld Afrikaans en Engels. Daar was ’n doelbewuste poging om kompartementalisering te vermy.

Deurdat studente in staat gestel is om hul volledige taalkundige repertoire (of in Peck se woorde, taalburgerskap) te gebruik kon hulle aan dosente oordra wat hulle weet, maar nie taalvaardig genoeg in Engels was om oor te dra nie. Die studente is toe ondervra en moes opstelle skryf oor hul ondervinding van die praktyk. Teenoor verskeie maatstawwe gemeet is hul aanvanklike vervreemding heelwat verminder. Antia het veral een student se kommentaar as ’n kragtige verklaring oor veeltaligheid aangebied: “If it had not been for the language obstacle I would have been very far by now in life.”

Ana Ferreira van Wits het vertel van haar eksperimente om die doseer van Engels te verbeter. Sy het ’n klas gevra om ’n gedig in hul tuistale te vertaal, in ’n oefening in “translanguaging”. Baie van die studente het familielede betrek, wat met geesdrif gereageer het, en die gevolg was beide ’n toename in die waardering van sowel die digkuns as Engels onder beide die studente en hul families.

Ferreira het ’n student aangehaal wat aan haar gesê het Engels is ’n wit masker. Toegang tot Engels is ’n kwessie van sosiale geregtigheid, in die sin dat dit mense in staat stel om die voortgesette erfenisse van apartheid en kolonialisme te bowe te kom. Maar terselfdertyd vervreem dit hulle weens die hegemoniese posisie wat dieselfde kolonialisme daaraan gegee het. Sy noem dit die “toegangsparadoks”: doseer Engels te sterk en jy beperk toegang tot toegang alleen – dit gee nie eienaarskap aan die gebruiker nie. Dit is veral so as die soort Engels wat jy gee ’n “wit” Engels, of ’n Engels uit Engeland, met ’n bepaalde aksent en in ’n bepaalde dialek daarby is.

Die masker is een van selfverloëning, maar dit kan teengewerk word deur studente hulle volle repertoire van tale saam met Engels te laat gebruik in ’n proses wat Engels ontkoppel van witheid, het Ferreira gesê, en verwys na ’n konferensie in Asmara, Eritrea, waar deelnemers Engels tot Afrikataal verklaar het. Pleks van te praat van die uitdagings vir veeltaligheid, behoort ons te praat van die voordele daarvan. Die ironie is dat terwyl gemeenskappe besig is om superdivers te word, opvoeding tot een of twee tale vereng word.

Ferreira se praatjie het toegelig hoe veeltaligheid ’n interne, psigodinamiese stryd vir die nie-Engelse individu behels. Mense word gesien as ontoereikend, selfs afwykend, as hulle nie die aan die verwagting van ’n sekere vaardigheid in Engels voldoen nie – ’n Engels waaarbinne bepaalde rasgebaseerde, prestigevariante van Engels op prys gestel word.

Die kontinuïteit van skooltaalbeleid van die apartheids- na die postapartheidsbestel lei tot die vereenselwiging van Engels met intelligensie. Leerlinge word dikwels ondanks hul wye repertoire van tale tot ontoereikende eentaliges gekonstitueer.

Peter Vale, die direkteur van JIAS, reken wat voorlê is ’n politieke stryd. Ferreira se oproep sal nie beantwoord word voor wit Engelssprekendes nie hul aandadigheid aan die ongeregtighede van die verlede erken nie, ongeregtighede waarvan hulle weggestap het deur alle ander mense te blameer. Sosiale verhoudinge in Suid-Afrika word bemiddel deur geld en die taal van geld is die Engels wat ingegrawe is in die wet en instellings.

Die land het sy “Fukuyama-oomblik” in 1994 gehad, toe Suid-Afrikaners geglo het dat hul geskiedenis van politieke struweling geëindig het met die ontwerp van ’n gemeenskap wat eintlik ’n neoliberale een was. Maar die Fukuyama-masker is besig om afgeruk te word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top