’n Diep verdeelde ANC sal die volgende vier dae hard probeer om groter eenheid in die party te bewerkstellig tydens die organisasie se sesde nasionale beleidskonferensie in Nasrec om te red wat daar te red is.
Die konferensie, wat vandag (Donderdag 28 Julie) begin, duur tot Sondag. Dit volg kort op die hakke van die party se provinsiale verkiesingskonferensie in KwaZulu-Natal (KZN) waar die Zuma-faksie die oorhand gekry het.
Dié week se beleidskonferensie geskied teen die agtergrond van verskeie interne uitdagings wat die ANC in die gesig staar. Behalwe onderlinge verdeeldheid het die organisasie nie eers genoeg geld om hulle eie personeel te betaal nie. Die party besef ook al hoe meer dat hulle tydens 2024 se algemene verkiesing waarskynlik nie weer ’n volstrekte meerderheid by die stembus sal behaal nie.
Alhoewel die week se konferensie bedoel is om ’n hersiening van ANC-beleid in te sluit, sal dit ook dien as voorloper van hulle 55ste Nasionale Verkiesingskonferensie waar hulle nuwe leiers sal verkies.
Vandeesweek se konferensie kan ’n sterk aanduiding wees van president Cyril Ramaphosa se huidige steun in die organisasie in die aanloop tot die Desember-konferensie. Daar word algemeen aanvaar dat sy leierskap as ANC-president in Desember uitgedaag sal word deur ondersteuners van die Zuma-faksie.
Die tema van die week se konferensie is: Die jaar van eenheid en vernuwing om Suid-Afrika se demokrasie te verdedig en te bevorder.
In sy voorwoord tot die beleidsdokumente erken Ramaphosa dat die ANC enorme uitdagings in die gesig staar. Hy gee ook toe dat hulle groot steun verloor het tydens verlede jaar se munisipale verkiesings.
Ramaphosa sê dit weerspieël die dalende vlak van vertroue en geloofwaardigheid in die ANC se leierskap en kaders.
Volgens Ramaphosa moet hulle besef dit is moeiliker om aan bewind te bly as wat dit was om die bevrydingstryd te voer.
Ramaphosa bepleit ’n "morele wedergeboorte" van die ANC.
Vanaf die eerste sessie van die geleentheid Donderdag, wat waarskynlik oop sal wees vir die publiek, sal diegene vir en teen Ramaphosa poog om hulle stempel af te druk.
Die 2021-plaaslikeregeringsverkiesingsuitslae was volgens die ANC se jongste beleidsdokumente verwoestend vir die organisasie. "Miljoene ANC-ondersteuners en -kiesers het weggebly en nie deelgeneem aan die verkiesings nie. Vir die eerste keer sedert 1994 het ons nasionale aandeel van die stemme tot onder 50% gedaal. Ons het 1 500 proporsionele en wyksraadslidsetels verloor," waarsku die party in sy beleidsdokument wat dié week bespreek sal word.
Die ANC is nou in opposisie- of minderheidsregering of koalisies in 83 uit 257 munisipaliteite in die land. Dit is byna een derde van alle munisipaliteite.
In slegs twee van die agt metro's in die land kon hulle daarin slaag om ’n meerderheid te wen. Meer as 50% van die land se ekonomie is gesetel in die metro’s en stede wat nie deur die ANC regeer nie word nie.
Volgens die ANC se eie navorsing asook navorsing deur ander instansies is die hoofredes waarom kiesers wegbly van die stembus of nie vir die ANC gestem het nie, hoofsaaklik dat hulle vertroue verloor in die ANC se prestasie as regering en as ’n party of beweging.
"Hulle is nie meer vol vertroue dat ons verbind is tot hul sosiale welstand of die vermoë het om die strewe na ’n beter lewe vir almal te lewer nie."
Volgens die ANC is die kiesers diep ontevrede met die party se prestasiegeskiedenis oor die lewering van basiese dienste soos water, elektrisiteit, paaie, riool en vullisverwydering.
Hulle dink ook nie die ANC is ernstig daaroor om korrupsie te bekamp en op te tree teen die misbruik van openbare hulpbronne nie.
Die party sê in sy beleidsdokumente wat dié week onder die loep kom al hierdie sentimente toon dat die beweging sy verbintenis met die mense ernstig versaak het en dat sy prestasie as regerende party nie op peil is nie.
- Die volledige beleidsdokumente van die ANC se sesde nasionale beleidskonferensie kan hier gelees word.