Verdeeldheid kan ANC by stembus knou

  • 0

Faksiegevegte in die ANC kan die party se kanse om in volgende jaar se algemene verkiesing die regerende party se verlore steun in te haal ernstig kniehalter.

Die moontlikheid dat ondersteuners van oudpresident Jacob Zuma ’n nuwe politieke party wil stig, het die verdeeldheid in ANC-geledere verder aangeblaas.

Dit kan president Cyril Ramaphosa se hoop in die wiele ry dat die ANC in volgende jaar se verkiesing ’n tweederdemeerderheid by die stembus sal behaal.

Die gerugte dat Zuma se ondersteuners ’n nuwe politieke party wil stig het die afgelope week in verskeie Suid-Afrikaanse koerante verskyn.

Een van Zuma se getroue ondersteuners, Carl Niehaus, het op RSG ontken dat Zuma betrokke is by die stigting van ’n nuwe party. Hy sê Zuma bly ’n lojale lid van die ANC en dat die oudpresident sal voortgaan om ANC-steun te werf vir aanstaande jaar se algemene verkiesing. Verskeie politieke kommentators meen egter Zuma is hard agter die skerms besig om sy opvolger Cyril Ramaphosa te ondermyn.

Een van die ANC se alliansie-vennote, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) glo ook Zuma is besig om die ANC en die alliansie te ondermyn. Die SAKP se algemene sekretaris, Blade Nzimande, het tydens ’n vergadering van die party se sentrale komitee gesê dit is nie voldoende vir Zuma om te sê hy is nie van plan om die ANC te verlaat nie.

Nzimande sê Zuma moet hom baie duideliker distansieer van diegene wat ’n nuwe party wil stig. Hy sê Zuma staan sentraal in die geveg teen diegene wat korrupsie wil uitroei. Volgens Eyewitness News het Nzimande gesê die SAKP sal voortgaan om Zuma te beveg solank as wat hy hom omring met mense wat “teenrewolusionêr” is.

Intussen het godsdiensleiers in KwaZulu-Natal opnuut hul gewig agter oudpresident Zuma ingegooi in die lig van sy hofverskyning Vrydag. Die geestelike leiers het die ANC op ’n nuuskonferensie in Durban gewaarsku dat hulle Zuma nie mag verwaarloos nie. Biskop Timothy Ngcobo het volgens die SABC gesê hulle wil tussenbeide tree en die ANC waarsku dat die party hul steun gaan verloor. Ngcobo sê sonder Zuma sal die ANC nooit ’n tweederdemeerderheid in die parlement kry nie. Hy sê Zuma is die enigste persoon wat swart mense kan bevry en die grondkwessie kan help oplos.

Die faksiegevegte in die ANC is nie net tot KwaZulu-Natal beperk nie. Dit steek ook in ander provinsies soos die Vrystaat en van die noordelike provinsies kop uit waar Zuma nog baie steun het.

Die jongste bewys van die verdeeldheid in die ANC was ’n Facebook-inskrywing van ’n ANC-burgemeester in die Oos-Vrystaat. The Citizen het ’n skermgreep op sy webwerf geplaas waar die Dihlabeng-munisipaliteit se burgemeester, Lindiwe Kambule, Ramaphosa uitsonder as ’n “stinkende uitverkoper”.

Die betrokke Facebook-blad is net vir lede van die ANC toeganklik. Die groep se lede kan slegs kommentaar lewer nadat hulle hul ANC-lidnommers verskaf het en daar geverifieer is dat hulle lede is van die party.

Kambule het die inskrywing gemaak in reaksie op ’n vraag van ’n ander ANC-lid wat wou weet wie is die “biggest stinking sellout” waarvan hulle weet. Sy het haar antwoord in een woord opgesom: Ramaphosa. Sommige ANC-lede het skerp gereageer en haar daarvan beskuldig dat sy geen partydissipline het nie. Kambule wat glo noue bande met Zuma het, het haar nie deur die kritiek laat afskrik nie en gesê sy het niks om te verloor nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top