Verdere brandstofprysstygings na dié week se massiewe verhoging

  • 0

Verbruikers moet hulle gereed maak vir nog brandstofprysverhogings ná die massiewe verhoging wat dié week in werking getree het.

Ekonome meen die onstabiele olieprys en rand-dollar-wisselkoers toon geen positiewe tekens vir verbruikers nie.

Dit is baie onwaarskynlik dat die omvang van hierdie stygings in die volgende paar maande omgekeer sal word.

Die hoofekonoom by die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch, Hugo Pienaar, het volgens Eyewitness News gesê dit impliseer dat verbruikers in ’n groot mate in die afsienbare toekoms sal moet opdok vir hierdie hoër pryse. 

Beide 93- en 95-oktaan petrol het vandag (Woensdag) met R1,71 per liter gestyg. Die prys van diesel met 0,05% swael het met R2,84 per liter gestyg, terwyl diesel met 0,005% swael met R2,76 per liter gestyg het.

Intussen kos paraffien R2,78 per liter meer, terwyl die prys van VP-gas  met R2,26 per kilogram gestyg het.

In kommentaar op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds (SEF) sê die Outomobiel-Assosiasie (AA) die jongste petrolprysstygings is die hoogste sedert Julie verlede jaar, terwyl die stygings in dieselpryse rekordstygings verteenwoordig.

Die AA sê in ’n verklaring die stygings in die brandstofpryse (veral vir diesel) sal negatiewe gevolge vir alle verbruikers inhou, aangesien hoër insetkoste deur hoër pryse by die kasregister verhaal sal word.

"Motoriste sal beslis die knyp voel in terme van hoër pryse by die pompe, maar verbruikers oor die algemeen kan hoër pryse vir alle goedere en dienste verwag as gevolg van hierdie stygings,” sê die AA.

Die DA het die skuld vir dié week se brandstofprysverhoging voor die ANC se deur gelê.

Die DA se skaduminister van minerale bronne en energie, Kevin Mileham, sê in ’n verklaring die ANC-regering moet die volle skuld vir die stygings dra.

Hy sê ten spyte van ’n samevloeiing van idees van die DA, die burgerlike samelewing en meer onlangs die Suid-Afrikaanse Reserwebank oor die noodsaaklikheid om die brandstofprysmetodologie te hersien om brandstof meer bekostigbaar vir verbruikers te maak, het die ANC-regering hardnekkig geweier om dringende beleidstappe in die rigting van brandstofprysrasionalisering in Suid-Afrika te doen.

Die verhoging is volgens Mileham ’n direkte gevolg van ’n brandstofprysraamwerk wat nie meer die belange van verbruikers dien nie, maar ’n instrument geword het om hoë belasting te hef “om die ANC se losbandige staat te finansier”.

Hy sê in plaas daarvan om verbruikers te beskerm teen die impak van toenemend onbekostigbare brandstofpryse, het die ANC-regering gekies om sy kop in die sand te steek en verbruikers die gevolge te laat trotseer.

“Die DA het herhaaldelik gevra vir ’n hersiening van Suid-Afrika se brandstofprysmetodologie om dit in ooreenstemming met internasionale beste praktyk te bring. In oorleg met belanghebbendes in die bedryf is ons van mening dat belasting, heffings, vervoer- en bergingskoste oor die hele spektrum gestandaardiseer kan word om kostebesparings en brandstofprysrasionalisering moontlik te maak.”

Volgens die DA is dit ’n standpunt wat onlangs instemming gekry het van ’n Reserwebank- ekonomiese nota waarin die Reserwebank erken het dat daar ruimte vir brandstofprysbepalingshervorming is.

“Dat daar geen aksie deur die Departement van Energie is om die hervormingsproses te begin nie, openbaar ’n hardnekkige vasberadenheid deur minister Gwede Mantashe om staatsbeheer oor die brandstofwaardeketting te behou. Alhoewel daar duidelike bewyse is dat hoë brandstofpryse die ekonomie knou, verbruikers tot op die rand stoot en ’n hoë-lewenskoste-omgewing vererger, het die ANC ’n onverskillige en traak-my-nieagtige houding ingeneem wat eenvoudig bevestig dat hulle nie omgee vir die welsyn van verbruikers nie,” sê Mileham.

Die DA het in Junie 2022 ’n petisie met meer as 130 000 handtekeninge by die ministers van finansies en minerale bronne en energie ingedien waarin hulle gevra word om brandstofpryse te verlaag deur ’n doelgerigte fokus op die algemene brandstofheffing, brandstofbelastinghervorming en deregulering van die sektor.

Daar was egter tot dusver nog geen reaksie van regeringskant daarop nie.

Die DA sê terwyl Suid-Afrikaners sukkel om met stygende brandstof-, voedsel- en vervoerpryse uit te kom, het die ANC-regering nog geen lewensvatbare oplossings ter tafel gelê nie. “Die Suid-Afrikaanse publiek kan eenvoudig nie verdere brandstofverhogings met die gevolglike prysstygings van ander noodsaaklike benodigdhede bekostig nie,” voer die party aan.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top