Suid-Afrikaners staar op die vooraand van die feesseisoen strenger maatreëls in die gesig om die verspreiding van die koronavirus te probeer stuit. Die owerhede hoop egter om nie weer ’n algehele inperking soos vroeër vanjaar af te kondig nie.
Dit volg nadat die getal nuwe infeksies in veral die Wes-Kaap en Oos-Kaap besig is om teen ’n kommerwekkende koers te styg. Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het die naweek in Port Elizabeth gesê ’n spesiale benadering is nodig om die verspreiding van COVID-19 in die twee provisies te help keer.
#HealthSpotlight
Another visit to the Eastern Cape last week, as the province battles a resurgence in positive #COVID19 cases – this time to oversee efforts to curb the transmission of the virus. pic.twitter.com/2G5LyBRyOg— Dr Zweli Mkhize (@DrZweliMkhize) November 29, 2020
Hy het gesê die regering beoog verdere beperkings, maar wil nie graag terugkeer na die streng vlakke van inperking nie. Daar sal waarskynlik eerder gefokus word op brandpunte en maatreëls wat onder andere partytjies en vergaderings raak.
Meer as 2 400 nuwe COVID-19-gevalle is die afgelope week in die Tuinroete aangeteken, met 293 nuwe gevalle in George alleen die afgelope naweek. Daar is tans 1 540 aktiewe gevalle in George, wat die hoogste syfer in die Wes-Kaap het.
Owerhede het kommer uitgespreek oor die skerp styging, veral met die oog op vakansiegangers wat gedurende die feesseisoen die gebied gaan besoek. Die Wes-Kaapse distriksdirekteur van die Departement van Gesondheid, Zee Brickles, sê gesondheidsinstansies in die streek is reeds onder geweldige druk. Brickles sê hulle is besig om hospitaalbeddens aan te vul in openbare en staatshospitale. Hy sê mense se gedragspatrone moet dringend verander.
In two days we had more than 80 new hospitalisations due to Covid-19. We need to work together to ensure we protect our health system. Please stay safe and mindful of your proximity to others so that we can reduce the transmission of #Covid19 amongst us. pic.twitter.com/MxUM8Pihu7
— Western Cape Gov (@WesternCapeGov) November 30, 2020
Volgens die data wat Maandag beskikbaar was, het daar in die voorafgaande 24-uur-verslagtydperk ’n toename van 2 563 gevalle voorgekom. Die totale infeksiesyfer sedert die pandemie begin het, staan op 787 702.
Mkhize sê hoewel die regering nie die vlakke van inperking weer wil verhoog na vlak 3 of hoër nie, is daar wel strenger maatreëls nodig. Dit sal die aantal mense raak wat partytjies en vergaderings bywoon. Mkhize sê hospitale word ook oorweldig deur noodgevalle wat deur alkohol veroorsaak is.
In die Wes-Kaap, waar die toerismebedryf besig is om sy vere reg te skud vir die komende feesgety, het die provinsie se premier, Alan Winde, ook gewaarsku teen die stygende getal infeksies in die provinsie, veral in die Tuinroete en die Kaapse metropool. Winde het Maandag in ’n video-insetsel op Twitter gesê dit stem hom tot groot kommer.
Watch Premier Winde give us a breakdown of the current #Covid19 resurgence situation & the increased rate of infection.
"We are investigating options (blunt instruments, like lockdowns)... but that this is the last thing I'd want to implement here in the province". https://t.co/RNnrEOibcj
— Western Cape Gov (@WesternCapeGov) November 30, 2020
Hy sê die weeklikse styging van gevalle in die Wes-Kaap is veels te hoog. Hy het ’n beroep op almal in die provinsie gedoen om saam te werk om die verspreiding van die virus te bekamp. Winde sê die laaste ding wat hy wil sien, is verdere ingrendeling wat die ekonomie kan knou. Ander opsies soos mini-inperkings word tans oorweeg.
Winde sê met die aanvang van die vakansieseisoen is dit die aangewese tyd om weer die poste terug te kry in die gasvryheidsbedryf wat verlore gegaan het tydens die streng vlakke van inperking vroeër vanjaar. Hy sê mense wil graag die feestyd geniet en daar moet verkieslik ander metodes aangewend word as totale inperking. Daar moet onder meer gekyk word na jaareindfunksies en oorweeg word om dit nie net af te skaal nie, maar vanjaar heeltemal te kanselleer en liewer die geld wat so gespaar word te gebruik om diegene in nood te help.
Sedert Vrydag het die getal infeksies in die Tuinroete meer as verdubbel. In George was daar ’n 100%-styging met sowat 1 000 nuwe infeksies, gevolg deur Knysna met 489 gevalle wat ’n styging van 137% verteenwoordig.
In die Kaapse metro was daar ’n 73%-toename binne sewe dae met Mitchells Plain wat die grootste styging getoon het, naamlik ’n toename van 185%, gevolg deur Khayelitsha met ’n 92%-styging.
? Cape Metro Covid-19 update ⬇️
- Marked increase of 73% in new Covid-19 cases
- Full update: https://t.co/e1IagqDuxW
- Subdistricts of concern: Southern, Mitchells Plain & Khayelitsha
P.S. If we've posted it, it's official. Please cross check any suspicious messages with ours. pic.twitter.com/auZ4Lc3RQt— Western Cape Gov (@WesternCapeGov) November 27, 2020
Die Kaapse Klopse-straatkarnaval wat jaarliks op 2 Januarie gehou word, is ook uitgestel. Die byeenkoms wat jaarliks duisende mense lok, sal moontlik nou later die jaar gehou word.
Intussen het die drankhandelaarsvereniging van Suid-Afrika ook gesê hy werk saam met die regering om gemeenskapspatrollies by COVID-19-brandpunte te ontplooi. Die doel van die patrollies is om seker te maak dat mense aan veiligheidsmaatreëls voldoen. Dit volg nadat drankwinkels en kuierplekke uitgewys is as plekke waar die virus vinnig versprei. Die vereniging sê hy is daartoe verbind om 80 gemeenskapspatrollies by polisiestasies in die Oos-Kaap op te lei en te ontplooi.