Verdere verligting van COVID-19-inperkings gevra

  • 0

Daar word gegis dat die nasionale inperkingsregulasies as gevolg van COVID-19 binnekort verder verslap kan word. Dit volg na Woensdag se kabinetsvergadering en die voortgesette daling van die gemiddelde aantal nuwe infeksies van COVID-19.

Dit wil voorkom asof Suid-Afrika die stryd wen teen die tweede vlaag van infeksies, nadat slegs 792 nuwe gevalle en 97 sterftes die oggend van 23 Februarie aangemeld is.

Die landwye inentingsprogram is ook goed op dreef en tot op hede het bykans 500 000 mense in Suid-Afrika reeds geregistreer om deel van die landwye inentingsprogram te wees.

Die verklaarde ramptoestand duur reeds meer as 335 dae en daar word uit verskeie oorde sterk druk op die regering uitgeoefen om die huidige inperkings verder te verlig.

Die EFF dreig ook met regstappe indien president Cyril Ramaphosa nie teen Vrydag die politieke speelveld heropen nie. Ingevolge die huidige gewysigde vlak-3-inperkingsmaatreëls word byeenkomste (binnenshuis) van meer as 50 mense (en 100 mense buitenshuis) nie toegelaat nie. Dit sluit sittings van munisipale rade en nasionale en provinsiale wetgewers in.

Die EFF sê die verbod op politieke saamtrekke sal ’n beduidende effek hê op partye se voorbereiding vir die plaaslikeregeringsverkiesings wat na verwagting tussen Augustus en November vanjaar sal plaasvind. Die party sê die maatreëls is onregverdig en ondemokraties en vra die President om dit in ooreenstemming met die huidige gesondheids- en sosiale-afstand-protokolle te wysig.

Daar bestaan egter nog geen aanduiding wanneer president Ramaphosa die land weer sal toespreek om moontlike nuwe maatreëls aan te kondig nie.

Intussen het die meeste Suid-Afrikaners wat die afgelope maande van die huis af gewerk het, ook weer hulle gewone roetine hervat en teruggekeer kantoor toe. Statistiek Suid-Afrika sê meer as 90% Suid-Afrikaners wat werk het, het in die laaste kwartaal  van verlede jaar weer by hulle kantore, fabrieke of ander amptelike werkplekke begin werk. Net 8% werk volgens Statistiek Suid-Afrika nog van die huis af.

Statistiek Suid-Afrika sê in ’n verklaring hoewel baie mense wat werk het, in die vierde kwartaal verlede jaar ten spyte van COVID-19 steeds hulle salarisse of ’n groot gedeelte daarvan ontvang het, het die aantal werklose mense in die vierde kwartaal van 2020 met meer as 700 000 toegeneem tot 7,2 miljoen, vergeleke met die derde kwartaal van verlede jaar. Dit kom neer op ’n toename van byna 5% werkloses in die land se arbeidsmark.

Die Wes-Kaap is steeds die provinsie met die laagste werkloosheidskoers in die land. Die Wes-Kaapse regering sê daar is in die laaste kwartaal van verlede jaar 120 000 werksgeleenthede in die provinsie geskep. Die provinsiale minister van finansies, David Maynier, sê die kwartaallikse arbeidsyfers wat die afgelope week  bekendgemaak is, dui op tekens van ekonomiese herstel.

Hy het volgens die SABC gesê die privaatsektor in die provinsie moet krediet kry vir die nuwe werksgeleenthede wat geskep is. Hy sê te veel mense, veral jongmense, het hulle werk weens die inperkings verloor en die provinsiale regering sal alles in sy vermoë doen om sakeondernemings by te staan en werksgeleenthede te beveilig.

Nog goeie nuus vir Suid-Afrikaners is dat nog 80 000 ampules Johnson & Johnson-entstof volgens die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, na verwagting Saterdag in die land sal aankom. Mkhize sê die land se inentingsprogram is op koers en 40 000 gesondheidswerkers sal teen Donderdag ingeënt wees. Hy sê die aankoop van entstowwe is ’n ingewikkelde proses en dit is nodig om met multinasionale vervaardigers van entstowwe te onderhandel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top